As Suid-Afrika se derde gewildste bakkie naas die Toyota Hilux en Ford Ranger doen die Isuzu D-Max heel skaflik sake op die plaaslike verkoopsvloere.
Die D-Max het straks nie die moderne tegnologie en aandryfstelsels wat sy meer geroemde mededingers bied nie. Maar danksy 'n effens beter prys en 'n goeie naam as 'n kanniedood-bakkie, verdien hy daardie derde plek.

Wat min mense straks weet, is dat die D-Max al jare lank in Suid-Afrika gebou word. Trouens, dis nou presies 45 jaar dat die fabriek in Struandale, net buite Gqeberha, die Japanse bakkies die een ná die ander bou.
Om dit te vier - en munt te slaan uit Ford se suksesvolle bemarkingsaksies waarin die een "spesiale model" ná die ander uitgeryg word - het Isuzu nou 'n beperkte getal D-Max 45-bakkies bekend gestel.
Die D-Max 45 (soos in 45 jaar, nè, Kerneels) is op die amper-boonste model in die reeks, die D-Max 3.0TD LSE 4x4, geskoei.
Dit behels slegs 'n voorkoms-pakket met die 3.0-liter-turbodiesel (140 kW, 450 Nm) wat onveranderd gelaat is.

Die bakkie lyk heel spoggerig met sy swart sierrooster, gerubberiseerde laaibak, 'n laaiklap wat elektroniese hulp bied met die oop- en toemaakproses, en fris 18-duimers in swart vellings.
Kopers kry ook 'n Rhinoman Xpedition-kappie op die koop toe, tesame met "D-Max 45"-kentekens reg om die bakkie.
In die kajuit is daar rubbermatjies en 'n lêplek vir jou slimfoon om koordloos herlaai te kan word.
Isuzu sê net 105 bakkies sal gebou word en hulle sal ook slegs in 'n paar kleure beskikbaar wees (wit, silwer, grys, oranje, blou).
Al die D-Max 45-bakkies word met die 3.0-liter-turbodiesel aangedryf met 4x4-vastrap standaard aangebied. Krag gaan met 'n sesgang- outomatieseVAT SO! ratkas na die wiele.
Danksy die LSE-gradering kom die bakkies ook standaard uitgerus met 'n trukamera, 'n raakskerm vir jou nutsfunksies, parkeergonsers agter en hulpmiddels soos 'n blindekolgonser en 'n gonser sou 'n voertuig van die kant naderkom as jy agteruit ry.
Die D-Max 3.0TD LSE 45 (R906 100) is net bo die gewone LSE-model (R869 500) geposisioneer, maar onder die V-Cross (R916 400) en die topmodel, die AT35 (R1 170 339).

















