Gerugte doen al jare die ronde dat Kia 'n bakkie gaan uitbring, maar die Koreaanse voertuigreus het eers in April 2024 amptelik die naam Tasman bevestig.
Die naam is geïnspireer deur die Tasmansee tussen Australië en Nieu-Seeland, want Kia reken dié twee lande is belangrike markte vir sy bakkie. Trouens, Kia noem sy Tasman "die mees Australiese voertuig" wat hy nóg ontwikkel het - Kia Australië het ook insette gelewer in die ontwerp en enjinkeuses.
Die voertuig is einde Oktober 2024 onthul en sy voorkoms het die tonge behoorlik laat klap. Op Kia Suid-Afrika se Facebook-blad het ons die volgende kommentare gelees:
Jeanette Slabbert: "Ek is jammer, maar dit lyk soos 'n Lego-karretjie. Kia, julle sit die pot mis met dié een."
Wayne Coetzer: "Dit lyk soos die kar wat jy teken wanneer jy leer hoe om kryte te gebruik."
Matthew Purdon: "Dis omtrent die lelikste ryding wat ek nóg gesien het."
George Fisher: "Ek hou van die binneruim en agterkant, maar Kia, wat het met die neus gebeur? Ek het iets soos die Sorento verwag. Ek twyfel of hy goed sal verkoop; hy's afstootlik! Uiters teleurgesteld in Kia. Het iemand dalk hulle sokkies gerook? Ek sal hierdie ding nie ry nie selfs al word ek betaal. Wat het die ontwerpspan gedink?"
Daar was darem ook positiewe terugvoer. "Ek is gaande oor die ontwerp!" sê ene Shockwave Anderson, maar op sosiale media was die reaksie onder Suid-Afrikaners meestal negatief.

Anders as met heelparty nuwe bakkies is die Kia Tasman nie 'n verwerkte weergawe van 'n bestaande platform nie - dink maar aan die VW Amarok se verhouding met die Ford Ranger - maar 'n heeltemal nuwe bakkie.
Hoewel die Tasman Kia se eerste bakkie is, is hy tegnies nié die eerste Kia op 'n leerraamonderstel nie. Kia het 'n militêre filiaal, die Spesiale Voertuigafdeling, wat gepantserde voertuie bou vir die Suid-Koreaanse weermag. Kia wou dus hê die Tasman moet hulde bring aan sy Spesiale Voertuigafdeling en klante laat dink aan 'n militêre ryding.

"Die Kia Tasman is 'n progressiewe bakkie wat sy eie pad volg en nie dié van mededingers nie. In die Kia Tasman word ware bakkiewaardes gekombineer met uitsonderlike vermoë en praktiese gebruik, en hy het gevorderde eienskappe wat konvensionele denke uitdaag...
Hy bied wêreldeerste oplossings vir diegene wat 'n leefstylvoertuig vir ontspanning en buitelugaktiwiteite soek, terwyl hy terselfdertyd voldoen aan die behoeftes van kleinsake-operateurs soos handelaars en boere," sê Ho Sung Song, president en bestuurshoof van Kia.
Die bakkie se bestaansrede is glo praktiese gebruik, goeie veldryvermoë en 'n ongewone voorkoms, wat doelbewus aan geen ander bakkie herinner nie. Die voorkant word byvoorbeeld gekenmerk deur 'n vertikale sierrooster en vertikale stroke LED-hoofligte.
Teen druktyd was die spesifikasies nog skraps, maar wat ons wel weet, is dat hy twee enjinkeuses kry: die 2,5 liter-Smartstream-petrolenjin (206kW en 421Nm) wat sedert 2020 in die Kia Sorento gebruik word, maar hier aangepas is vir agterwielaandrywing; en die 2,2 liter-Smartstream-dieselweergawe (154kW en 441Nm). Daar gaan ook twee ratkaste wees: 'n sesspoedhandratkas en agtspoed-outomaties met viertrek of agterwielaandrywing met 'n outomatiese ewenaarslot. Jy kan ook kies tussen 'n enkel- of dubbelkajuit.
Die Kia Tasman sal na verwagting teoreties 3,5t kan sleep met 'n maksimumvraggewig van rondom 1t. Kia sê prontuit hy gaan bakkies soos die Ford Ranger, Toyota Hilux en Isuzu D-Max aanvat en dieselfde suksesse met sy bakkie behaal as die hoogtes wat Kia reeds met sy sedanmotors en sportnutse bereik het.

Die Kia Tasman spog binnelangs met verskeie raakskerms, waaronder twee 12,3 duim-skerms en 'n opsionele Harman Kardon-klankstelsel. Daar is ook praktiese items soos 'n ruim trommel tussen die voorsitplekke wat dan ook as 'n soort tafel dien.

Ondanks al die elektroniese katoeters het die kajuit 'n minimalistiese voorkoms, en soos 'n mens uit die Facebook-kommentaar kan aflei, hou Suid-Afrikaners van die binneruim.

Die Kia Tasman sal in 2025 sy verskyning maak en in Korea, Afrika, die Midde-Ooste en uiteraard ook Australië en Nieu-Seeland verkoop word. Daar is nog geen aanduiding van pryse nie, maar ons verwag die Tasman gaan duur wees, want die koste daarvan om 'n bakkie van nuuts af te ontwikkel is nie gering nie. En daardie uitgawe moet iewers verhaal word om die boeke te laat klop.
Van die mededingers
4x4-dubbelkajuitbakkies in Kia se visier

Toyota Hilux 2.4 GD-6 4x4 Raider (outo) R711400
Dié ou staatmaker word ook eersdaags opgedateer en ons sien uit na hom.

Ford Ranger Tremor 2.0 Bi-turbo-diesel 4x4 (outo) R978600
Dit is 'n uitstekende ryding en ons is verras dat hy nie hoër geplaas is in die Bakkie van die Jaar-kompetisie nie.

Isuzu D-Max 3.0 Ddi LSE 4x4 (outo) R869500
Hy's 'n staatmaker wat feitlik enige sleepwa teen enige bult kan uitsleep.




















