Kia het so stilweg 'n nuwe intreemodel in sy Picanto-reeks gevoeg wat 'n besparing van R24 000 teenoor die vorige goedkoopste model in die reeks, die LX, bied.
Dis dieselfde stap wat Kia vroeër die jaar geneem het met sy Seltos-sportnuts, toe hy ook 'n heelwat goedkoper, nuwe intreemodel in die Seltos-gesin bekend gestel het. Dis die Koreaanse vervaardiger se manier om 'n teenvoeter te bied vir die groep Chinese sportnutse en stadsmotors wat die land die afgelope tyd binnegeval het.
Dié voertuie het heelwat verkope van die tradisionele handelsmerke afgerokkel danksy hul lae pryse.
Die Picanto LS het 'n plastiek geklede stuurwiel en rathefboom waar die LX leerbekleedsel het, terwyl die agtersitplek nou ook 'n soliede rug het, en nie in twee dele kan platslaan soos die res van die Picanto-gesin s'n nie. En laastens sien ons dat die Picanto LS nou ook sonder die elektroniese self-stop-funksie by die voorste vensters kom.
Die funksie laat die vensters vanself stop as jy jou vinger daarin vasknyp.
Groot taak vir klein Picanto
Die LS kom gelukkig steeds toegerus met twee lugsakke, ABS-remme en 'n tru-kamera.
Die intree-Picanto word aangedryf deur 'n 1.0-liter-petrolenjin met drie silinders. Die enjintjie bied 49 kW krag en 95 Nm wringkrag wat na die voorwiele gestuur word deur 'n vyfgang-handratkas of 'n viergang- outomatiese ratkas.
Die Picanto is een van die gewildste stadsbuksies, maar benewens die Chinese toetreders moet hy ook hard vir sy pond vleis veg teen Suzuki se Swift en die Polo Vivo.
Die Picanto-gesin is verlede jaar opgeknap en bied nou 'n varser voorkoms buite en binne, met die klein raakskerm in die kajuit wat 'n welkome verbetering is.





















