Die nuwe vol-elektriese Aceman wat verlede jaar sy wêreldbuiging tydens die Beijing-Motorskou in China gemaak het, vul die gaping wat met die heengaan van die Clubman in 2023 in die Mini-reeks gelaat is.
Tog, synde ’n kompakte nuts, is die Aceman – wat nou tussen die vyfdeur-Cooper-luikrug en die Countryman inpas – eintlik die geestelike opvolger van die destydse Paceman driedeur-sportnuts wat net vir vier jaar beskikbaar was voordat produksie in 2016 gestaak is, synde BMW se baadjiedraers gemeen het dié model is te na aan die Countryman geposisioneer.
Die Aceman, in kontras, is in wese ’n moderne, elektriese interpretasie van die oorspronklike Mini-konsep, want hoewel kompak (dis net oor die 4,0 m lank, en dus 36 cm korter as die Countryman) het die aantreklike klein sportnuts genoeg binneruimte om vyf volwassenes gerieflik in te pas.
Hierdie jongste Mini-model is deur Spotlight Automotive, ’n gesamentlike onderneming van Great Wall Motors (GWM) en Mini, ontwikkel en word in China saam met die Mini Cooper Electric vervaardig. Dié modelle sal egter ook van aanstaande jaar in Mini se Oxford-fabriek in Brittanje, gebou word.
Charismatiese eenvoud
Van voor gesien, word die Aceman deur hoekige LED-hoofligte en dagryligte (met drie verskillende modusse) en ’n herontwerpte oktagonale sierrooster van sy Cooper en Countryman sibbe onderskei. Die agterkant het groot horisontale vlakke en ’n sterk skouerlyn, en die regop matriks-agterligte het drie eiesoortige ligpatrone.
Binne deel dit dieselfde minimalistiese uitleg, as deel van Mini se “charismatiese eenvoud”-ontwerpstyl, met die Cooper, en die voorpaneel word deur ’n groot, ronde, sentraal-geplaaste raakskerm oorheers.
Vir ’n kompakte sportnuts is die kajuit ruim, met genoegsame plek vir vyf insittendes, en helder, danksy ’n panoramiese sondak en die gebruik van ligte kleure.
Die gekurfde oppervlak van die instrumentpaneel is bedek met gebreide materiaal waarvan die onderste laag se kleur deur die boonste een skyn, en die binneruim is afgewerk met herwinde poliëster. Die laaibak bied tussen 300 tot 1 500 liter bagasieruimte (met agtersitplekke afgeslaan).
So lyk die reeks
Drie afwerkingsvlakke, Classic, Favoured en JCW, en twee modelvariante, naamlik E en SE, is plaaslik beskikbaar. Die E-model (R800 000) met enkel-elektriese motor en 42.5 kWh batterypak, wat vinnige DC-herlaaiing van tot 75 kW toelaat, lewer 135 kW en 290 Nm se wringkrag.
Volgens Mini het die Aceman E ’n reikafstand van 300 km, en neem dit 29 minute om die litium-ioon battery van 0-80% by ’n DC-punt te laai, terwyl AC-herlaaïng van 0 tot 100% sowat 4 uur en 25 minute sal duur.
Die SE kry ’n 54 kWh batterypak wat die e-motor help om 160 kW en 330 Nm se wringkrag te lewer. ’n Reikafstand van 400 km is volgens Mini moontlik.
Die groter battery in die SE kan DC-herlaaïng van 95 kW hanteer en binne 31 min van 10 tot 80% by ’n DC-punt herlaai word, en om dit by ’n AC-punt vol te laai, sal volgens Mini sowat ses uur neem.
Mededingers vir die Aceman sluit in die GWM Ora (wat op dieselfde platform gegrond is), die BYD Atto3 en die Volvo EX30 Core met enkelmotor (R835 500) en enkelmotor met groter reikafstand (R968 400).
Dié modelle, met ’n kragtiger e-motor (200 kW en 343 Nm), het volgens Volvo ’n reikafstand van 344 km en 476 km.
’n Ritmodus vir elke bui
Volgens Mini het die “renstel”-dinamika eie aan sy produkte, veral in die Cooper-luikrug, in die batterygedrewe sportnuts behoue gebly. Wel, op ’n kort Gauteng-toetsroete was die SE-model prettig om te bestuur, maar steeds nie so rats soos die petrolgedrewe driedeur-Cooper nie.
Tog is die emissievrye ryding se stuurgevoel skerp en akkuraat, en die dryfstelsel, hoewel nie die kragtigste in sy klas nie, verskaf heelwat stukrag met die wegtrek- en verbysteekslag. Agt ritmodusse is beskikbaar.
Dit sluit in “Go Kart”, “Core”, “Green”, “Personal”, “Vivid”, “Timeless”, “Balance” en “Trail”, elk met ’n eie grafika op die sentrale skerm en paneel voor die bestuurder. In “Go-Kart” is die Aceman heel lewendig, wyl “Green”-modus versnellerinsette vertraag om reikafstand te rek.
Gemeet aan die groter Countryman met sy effe harde ritgehalte (grotendeels vanweë sy laeprofielbande) is die Aceman se rygerief heelwat sagter en meer plooibaar oor die riffels. Tog was daar effense windgeraas hoorbaar in die stil kajuit.
Met sy byderwetse stilering en netjies afgewerkte binneruim met oulike ontwerpselemente, bly die elektriese Aceman steeds tipies Mini. Dis in wese ’n moderne interpretasie van die oorspronklike Mini-konsep, en hoewel nie so kragtig of vinnig soos ’n EX30 nie, is die praktiese ryding prettiger om te bestuur.
Met die Volvo EX30 wat van R835 500 beskikbaar is, is die Aceman mededingend geprys, en met Paasfees om die draai, kyk uit vir die versteekte Paaseiers in jou Aceman, veral vir Spike.
Pryse:
Mini Aceman E – R800 000;
Mini Aceman SE – R892 000.
















