Motors

KYK | Volvo se EX30 loop doekvoet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Terwyl ons plaaslike mark al hoe besiger raak met nuwe batteryvoertuie (EV's) wat op die pad verskyn, is Volvo een van die vervaardigers wat straks die slimste roete volg om kopers van dié nuwigheid nader te lok.

Waar die Duitse invoerders soos Porsche, BMW, Audi en Mercedes-Benz grootliks peperduur nismodelle hierheen bring wat buite die bereik van die middelklas is, probeer Volvo die boonste rand van die middelklas-Suid-Afrikaner bereik met sy jongste intree-EV's.

Die jongste voorbeeld is sy EX30, die Swede se kleinste elektriese motor in sy stal.

Volvo se nuwe EX30 is sy kleinste EV op die mark. Met sy sagte maar kragtige rit bied hy 'n sportiewe ervaring vir 'n babanuts.Foto: Marnus Hattingh
Volvo se nuwe EX30 is sy kleinste EV op die mark. Met sy sagte maar kragtige rit bied hy 'n sportiewe ervaring vir 'n babanuts.Foto: Marnus Hattingh

Nie dat die EX30 so klein is soos 'n GWM Ora nie (wat basies soos 'n ou Nissan Micra lyk), maar hy is tog kleiner as die XC40, wat 'n kompakte nuts is en skaflike ruimte bied.

Beskou die nuwe EX30 dan as 'n VW Taigo in 'n Volvo-baadjie: Eleganter en ruimer as 'n luikrug, maar nie so hoog en groot as 'n sportnuts nie.

Plaaslik bied die reeks vyf modelle­ tussen sowat R800 000 en R1 miljoen. Met 'n swak rand en invoerbelasting is dit 'n billike prys waarby Volvo­ SA uitgekom het. Teen R800 000 is hy nie Kia Seltos- of Toyota Urban Cruiser-materiaal nie. Maar vir 'n amperse sportnuts-EV is hy goed geprys.

Die onderste paar van die vyf plaaslike modelle het net een e-motor op die agteras en 'n kompakte battery van 54 kWh. Die topmodel, wat ons dan ook getoets het, het 'n tweede e-motor op die vooras (vir 'n heel gawe­ 315 kW en 543 Nm) en 'n groter litiumioon-battery van 69 kWh.

Vreemd genoeg sê Volvo die EX30 Twin Performance, soos hy bekend staan, sal 'n reikafstand van 460 km bied. Maar, elke keer as ons hom tot 100% herlaai het, wys sy afstandmeter net 330 km. Iewers was daar swak kommunikasie tussen die toetsbestuurders en die bemarkingspan. Dis 'n massiewe mistykie.

Links: Die kajuit is werklik minimalis­ties uitge­rus. Daar is geen knop­pies nie, net die raak­skerm. Die gonsers en alarms kan jou vinnig moedeloos maak.
Links: Die kajuit is werklik minimalis­ties uitge­rus. Daar is geen knop­pies nie, net die raak­skerm. Die gonsers en alarms kan jou vinnig moedeloos maak.

Minimalistiese kajuit

Die topmodel bied heelwat bederfies. Stap jy nader, digitale sleutel in die sak gebêre, groet die Volvo jou met ligte wat aanflits en die deure wat oopsluit.

Die kajuit is werklik minimalisties uitgevoer. Hier en daar is sagte materiale en sponse, maar dis meestal skoon en harde oppervlakke.

Daar is ook opvallend geen instrumente voor die bestuurder nie. Al die bestuursinligting is in die raakskerm vervat, wat vertikaal gedraai is en in die middel van die voorpaneel sit. Daar is letterlik geen ander knoppie in die kajuit nie.

Op daardie skerm beheer jy die radio, satnav en nutsfunksies. Om die kassie voor die passasier oop te maak en selfs om die noodligte aan te skakel, moet jy 'n ikoon op die skerm druk.

Die minimalisme kan gaaf vertoon, maar jy moet kort-kort deur 'n rits skerms tik, afwaarts rol en weer tik om net een alledaagse funksie uit te voer waarvoor jy in die verlede gou net 'n knoppie kon druk of draai.

As jy onlangs in 'n Chinese voertuig gery het, sal jy ook heelwat van die veiligheidsfunksies in die EX30 herken. Daar's 'n kamera in die dak wat jou oë dophou. Dwaal jou oë letterlik net twee tellings weg, sal 'n gonser pieng-pieng! roep. Die stuurwiel sal vibreer as jy naby die middellyn ry. Beweeg jou wiele oor die lyn, sal die stuurwiel vanself teruggepluk word. 'n Alarm raas daar's iemand agter jou. Of voor jou. 'n Liggie in die kantspieël protesteer oor iemand skuins agter jou.

Dis net te veel.

Gelukkig kan jy die meeste van dié items deaktiveer. Maar dit verg talle druk, rol, vee en weer druk van ikone om elkeen af te skakel. En sluit jy die motor, is alles weer geaktiveer wanneer jy wegtrek.

Haastige kuite

Wanneer jy al wat 'n gonser, alarm en kamera is, afgeskakel het, is die klein EX30 wel heel skaflik om te ry.

Versnelling is blitsig en jy hoor net 'n sagte gefluit soos hy laat waai. Die stuuraksie is ook heerlik lig. En hy draai skerp - altyd 'n bonus as jy in smal ruimtes moet parkeer.

Twee volwassenes sit redelik gemaklik agter en die pakplek sal vier mense se naweeksakke kan sluk. Maar met daai reik­afstand van net 330 km wat jou reeds teen 100 km senuagtig kan laat begin word, het jy nie veel beweegruimte nie. Dan wil jy hom net in die stad gebruik: Werk toe, winkels toe en skool toe. Met 'n vinnige herlaaier (22 kW) kon ek hom in 'n uur en 'n half van 50% na vol herlaai, maar 'n tipiese muurboks (11 kW) sal minstens twee uur verg.

Afsaal

Die EX30 is net-net op die rand van bekostigbaar vir 'n breër groep kopers. Die rit is sag, stil en kragtig. As hy nou net so onder­ die R700 000-kerf kon inkom op die prysleer en 'n werk­like 480 km-reikafstand gehad het, sou hy 'n groot gehoor kon gelok het.

  • Prys: Volvo EX30 Twin Perform­ance - R995 900.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM