Volvo se stylvolle nuwe weeldesedan, die batteryaangedrewe ES90, is volstoom op koers om vroeg volgende jaar sy debuut op ons paaie te maak.
Die Sweedse vervaardiger het die ES90 in Maart in Europa bekend gestel. Dis die Swede se nuwe weeldesedan wat die S90 sal vervang. Die petrolaangedrewe S90 het net so 'n mooi ontwerp, maar het ongelukkig drupsgewys in Suid-Afrika verkoop.

Volvo SA is onder druk wat verkope in Suid-Afrika betref. Enkele handelaars moes die laaste tyd hul deure sluit, met gerugte op sosiale media dat die Skandinawiese vervaardiger binnekort die land gaan verlaat.
Ons vermoed Volvo wil eers vasbyt en kyk hoe sy nuwe golf van EV's plaaslik gaan vaar.
Die Swede begin al hoe meer batterymotors na die land bring, soos die groot EX90-sportnutsvoertuig wat in Maart hier gedebuteer het.
Die EX90 (die ou XC90 se opvolger wat net as 'n EV beskikbaar is) is helaas peperduur teen R2,4 miljoen, maar daar is ook die kleiner EX30, wat heel gewild blyk te wees in die mark vir klein batterymotors.
Volvo SA se dilemma is dat die nuwe EV's veel duurder as hul petrolaangedrewe ekwivalente in elke segment is. Swede skop egter nog vas met sy beleid om voortaan slegs EV's te vervaardiger, in teenstelling met ander Europese motorreuse wat intussen hul houding verander het om meer op hibriede te fokus.

Sweedse ontwerp op sy beste
Wat die ES90 betref, is dit interessant om te let op sy luikrug- tipe profiel. Die S90 het die meer gewone sportsedan-profiel gehad met 'n wigvorm en stomp bagasiebak.
Die ES90 benut dieselfde platform (SPA2) as die EX90-sportnutsvoertuig. Dit gee die sedan 'n lekker groot kajuit en goeie pakplek in die laairuim. Die ES90 is 'n fris 5,0 m lank, om 'n idee te gee.
Nog twee mooi stileerkenmerke is die soliede sierrooster in die plek van 'n tradisionele rooster met openinge, en die effense heuplyn wat die ou Volvo-kenmerk van die uitgeboude heupe eggo, maar nou net in 'n nuwe gedaante dié ikoniese tradisie voortsit.
Die kajuit is soos verwag heeltemal digitaal met 'n groot raakskerm wat in die middel van die instrumentpaneel sit. Die skerm is vertikaal geposisioneer en sit los van die voorpaneel, amper soos wat jy in Teslas vind. Net 'n klein digitale inligtingskerm sit voor die bestuurder.
Groot reikafstand vir almal
Daar is drie enjinweergawes van die ES90 in Europa. Die intreemodel benut 'n 92 kWh-battery wat een e-motor, op die agteras, aandryf. Die kombinasie bied goeie kragsyfers en billike verrigting, waaronder 'n versnellopie van 6,9 sekondes en 'n reikafstand van 650 km.
Die tweede weergawe het 'n groter 106 kWh-battery en benut twee e-motors, een op elke as. Die frisser Volvo draf in net 5,5 sekondes van stilstaande tot 100 km/h en bied 'n reikafstand van 700 km.
Die derde weergawe is die verrigtingsmodel in die gesin. Dit het dieselfde 106 kWh-battery, maar het kragtiger e-motors op elke as.
Versnelling geskied in net 4,0 sekondes, terwyl die reikafstand 700 km bly.
Volvo sê die ES90 is sy eerste model wat die nuwe vinniger en kragtiger 800V-argitektuur in sy bedrading inspan. Dit beteken dat herlaaiing by 'n kragpunt vinniger kan geskied (dit kan 350 kW hanteer) en dit ook suiniger met energie werk wat meer batterykrag vir rywerk laat.
Binnekort hier
Die nuwe ES90 word vroeg volgende jaar in Suid-Afrika verwag.
Pryse sal eers nader aan die bekendstelling bekend gemaak word.
Ons vertel meer oor hoe die plaaslike modelreeks daar sal uitsien sodra ons meer inligting van Volvo ontvang het.




















