Die Muckelmanns woon in Düsseldorf, Duitsland, en het Suid-Afrika dieafgelope 16 jaar minstens twee keer per jaar besoek.
Dan kry hulle Volkswagen Touareg 'n blaaskans terwyl hulle Europa vir Afrika verruil. Eers het hulle oor die weg gekom met huurmotors, maar nadat hulle die eerste voertuig gekoop het, was 'n 2019 Land Cruiser 79 4.5 V8 volgende.
Philipp het 'n storie te vertel...
My eerste besoek aan Suid-Afrika was twee jaar nadat ek Sarah ontmoet het. Sy was gek oor die land en het my uitgenooi: "Jy moet saamkom Suid-Afrika toe, en as jy nie daarvan hou nie, sit ons met een ernstige probleem..."

Ons eerste besoek saam was in 2007. Ons het 'n bakkie met 'n daktent gehuur - nogal saam met haar ouers, Paul en Gisela Theune.
Die besoek was vier weke lank en het verskeie nasionale parke oor die land ingesluit: Die Kruger, Mapungubwe, Marakele en die Kgalagadi.
Al moes ek vier weke langs my skoonouers in 'n daktent slaap, het ek verlief geraak op Suid-Afrika as bestemming.
In 2016 besluit ons om 'n 2013 Land Cruiser 79 te koop - 'n dubbelkajuit met die 4.2-dieselenjin.
Oor die jare was ons gelukkig en het geen teëspoed beleef met die Cruisers nie: Van diep waters tot die duine van Mosambiek; blaas die bande af tot 0,8 bar en daar gaan jy.
Daar was een uitsondering. Op een besoek aan die noorde van Botswana het die stuurmeganisme losgekom.
Dit was nie 'n fabrieksfout nie, maar eerder bedenklike vakmanskap van die mense wat die onderstel opgegradeer het.

Ek moes alles vasbind met tou en kon daarin slaag om in Maun by die Toyota-handelaar uit te kom. Hulle was skoon verstom met ons ‘Duitse ingenieursvaardighede'.
Dit is waar ons besef het jy moet nooit gestrand raak sonder kontak met die beskawing nie.
Ons het eerder 'n satellietfoon nodig vir ons reise. Ons seun, Sander, is in Januarie 2019 gebore en ons het kraamverlof beplan vir die einde van 2020.

Sander kom natuurlik saam - van ons vriende was skoon geskok dat ons so 'n jong kind op reis deur Afrika wil neem.
Soos ons natuurlik sou besef, het die jongeling ons benadering tot kamp verander.
Op ons eie kon ons nog daagliks na die volgende kampplek skuif, maar nou, as gesin, moet 'n mens dit stadiger vat - dus langer op een plek vertoef en dit as jou basiskamp gebruik.

Ons is gaande oor die Suid-Afrikaanse manier om met jou boswa die boendoes in te vaar.
Ons het dus die Woonwaskou by die Gallagher-konferensiesentrum bygewoon en belê in 'n Echo 4-boswa. Dis 'n kompakte en ligte wa wat ons gekies het met die ‘donkie-enjin' van die 4.2-Cruiser in gedagte.

Ons eerste reis met die Echo moes ons meer as nege maande uitstel weens die Covid-19-pandemie.
Met ons eerste reis na Namibië in Desember 2020 het ons besef die 4.2 Cruiser is eenvoudig nie sterk genoeg nie - selfs met die ligte Echo 4 op die haak.
Dit kon ek baie spesifiek agterkom wanneer ek verbysteek of in diep sand moes ry - dit was een groot gesukkel met die enjin. Daarom het ons besluit om hom te verkoop en met 'n 2019-model 4.5-V8-dubbelkajuit-weergawe te vervang.

Hierdie Cruiser 79 het 90 000 km op die klok gehad. Al het hy klaar 'n kappie gehad, het ek verdere opgraderings gedoen sodat ons vir twee weke selfonderhoudend kan wees.
Dit het ingesluit 'n wenas, beter remme, 'n litium-dubbelbatterystelsel,twee ys-vrieskaste, 'n watertenk en 'n 2 x 2 m-Eezi-Awn Family-daktent.
Die enjin is ook verstel en die kar het 'n ander uitlaatselsel en koppelaar gekry, waarna die elektroniese stelsel geherprogrammeer is. Dit het die kraglewering tot 800 Nm opgestoot.
Ek het ook 'n tweede brandstoffilter laat insit vir groter gemoedsrus -jy mag dalk iewers net ‘vuil' diesel kry. Met die Echo aan die haak kry ons 'n verbruiksyfer van 18 ℓ/100 km.
Saam met die Cruiser se 200 ℓ-brandstoftenk - ja, teen vandag se pryse kos dit rondom R5 200 om vol te maak - het ons 'n reikafstand van 1 100 km.
Selfs in die lig van die Duitse toeris wat einde 2022 naby die Numbihek van die Krugerwildtuin doodgeskiet is, was ons nie een keer bang om die land te besoek nie.
Ons is beslis versigtig en hou by sekere reëls, soos om nie snags te reis nie.

Ná al ons besoeke - meer as 30 - het ons geen slegte ervarings gehad nie. Suid-Afrika voel soos 'n tweede tuiste, en oor die jare het ons hegte vriende gemaak.
Vir ons volgende twee reise in 2023 staan die Cruiser klaar gereed by vriende van ons in Johannesburg.
Ons beplan om in April weer terug te keer na die Kruger en dan Mosambiek toe te mik. In Oktober kom Moremi aan die beurt.

Sander kan ook nie wag om terug te keer na die ruigtes nie. Tot dusver was hy al in Suid-Afrika, Namibië, Botswana en Mosambiek.

Hy ken al die soogdiere én 15 verskillende voëlsoorte.





