Seker een van die mees drastiese skuiwe in aanslag het pas gebeur by BMW, wat sy nuwe X2, die tweede geslag in dié model se geskiedenis, met 'n totaal ander voorkoms toebedeel het as vantevore.
Waar die ou X2 'n vierkantige affêre was, het die nuwe X2 'n geronde voorkoms met skerp aksentlyne by die enjinkap, flanke en stert. Maar meer opvallend nog is daardie daklyn wat nou soos 'n omgekeerde piesang na onder buig.

Die rede daarvoor is heel eenvoudig. Met die X1 en die X2 wat dieselfde UKL2-platform deel en dus wat grootte betref nou basies dieselfde klere deel, moes BMW 'n plan maak om die een van die ander te onderskei.
Die oplossing is briljant: Behou die hoekige, meer tradisionele en gesinsvriendelike regop voorkoms van die X1, maar laat waai op die tekenbord met die X2.
En siedaar, ons sit met 'n grommend sensuele kalant wat dadelik die oog tref van vroue - soos ek trouens meer as een keer met die toetsmotor beleef het. Vroue sal na jou aangestap kom in die parkeerterrein om uit te vind watter oulike nuwe ryding dit dan nou is.
BMW se ontwerpers het dus raakgevat deur die X1 op sy tradisionele gesinskopers te laat fokus, terwyl die nuwe X2 'n nis-model sal wees: Dieselfde grootte, maar aanvallig gestileer en gemik op jong vrouekopers wat nie in 'n hoekige dwangbuis van 'n sportnuts gesien wil wees nie.
Moderne kajuit
Daardie nuwe platform beteken egter ook dat die nuwe X2 heelwat lyf bygekry het. Hy's 'n goeie 6 cm hoër as vantevore en 'n vingerdikte breër, maar sy lengte het met 'n massiewe 20 cm aangegroei. Geen wonder BMW sê die X2 bied nou 90 liter meer pakplek nie.
In die kajuit kry jy steeds gemaklike sitplek agter vir twee volwassenes of drie skoolkinders. Maar almal se bagasie kan ingesluk word.
Die trefkrag van die kajuit is die moderne afwerkings. Die instrumente word oorheers deur 'n breë digitale skerm wat al die nutsfunksies beheer.
Effe koddig is die sentrale armrus wat dié keer nie 'n diep kissie behels nie, maar amper 'n "swewende", plat armrus is.
Dis 'n oop holte onder hom sodat jy nie 'n beursie of sonbril daar kan los wanneer jy uitklim nie.
Die armrus kan wel oopwip, maar die bêreholte is selfs te dun vir 'n slimfoon, wat dit werklik onprakties maak.
Die raakskerm werk met BMW se jongste OS 9-programmatuur, wat mooi beelde, skerp ikone en 'n logiese uitleg van funksies behels.
Die blikbrein verbind in 'n kits koordloos met jou slimfoon en kan ook Android Auto en CarPlay bied. 'n Koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon, asook enkele USB-sokke, maak die kajuit verder prakties.
Die lae dak agter het my nie gepla as ek agter sit nie, terwyl die luikdeur met 'n knoppie by die bestuurder se deur oopgewip en ook weer elektronies toegeklap kan word.
Blaf soos 'n boerboel
Plaaslik het ons twee X2-modelle om van te kies.
Nou ja, die naamplaatjie M35i laat almal dadelik dink die fris knaap benut die groep se gewilde 3.0-liter-turbo-reguitses.
Maar helaas, dis 'n viersilinder se gefluit wat jy nou met die versnelling hoor.
Dit gesê, BMW se witjasse het wel 'n stel van vier fris uitlate agter aangeheg en die uitlaatstelsel met die radio se luidsprekers verbind sodat jy met die plant van die regtervoet 'n grommende klank hoor opklink.
Deels die enjin se eie klank, maar ook deur die blikbrein en die luidsprekers aangehelp.
Wat wel heeltemal eg is - en vet pret om na te luister - is die M35i se roggelende maag as jy hard rem en die enjin rat af vir 'n vale.
Met fris laeprofieltekkies en ferm vering kan jy die X2 met vaart in enige draai laat injaag, hy sal sy koers hou. Vir 'n 1,7 ton sportnuts hanteer hy verbasend lig en versnelling tot by 100 km/h geskied ook in net 'n gedagte meer as 5 sekondes.
Afsaal
BMW se ontwerpers verdien 'n klop op die skouer. Die nuwe X1 en X2 is twee kante van dieselfde munt, maar elk met sy eie karakter en teikenmark. Die X2 is duur, ja, maar vir daardie dames wat "CA" agter die naam kan skryf, is hy nommerpas.
- Prys: BMW X2 M35i - R1 223 936
















