Kort na die bekendstelling van die Australies-ontwikkelde Pro-4X Warrior spesialis-model het Nissan Afrika nou die Stealth-naam in die Navara-reeks laat herleef, ses jaar nadat die oorspronklike Navara Stealth stilweg op die toneel verskyn het.
In teenstelling hiermee, was daar niks heimlik en gematig aan die bekendstelling van die jongste Navara Stealth nie, selfs al is die veranderinge aan die jongste weergawe gedemp en meer bedeesd as aan die oorspronklike Stealth-variant, gegrond op dieselfde D23-onderstel alvorens die modelreeks in 2021 opgekikker is.
Beter voorkoms, ekstra toerusting
Die gedempte ekstra maskara van die plaaslik-geboude Stealth, wat strategies tussen die Navara LE en die Pro-4X geposisioneer is, sluit in ’n swartkleurige sierrooster, dakrelings, kantspieëlhulse, deurhandvatsels en kanttrappe. Daar is ook Stealth-kentekens aan die kante en agter, en swart allooiwiele met 17-duim-veelterreinbande.
Binne die dubbelkajuit van die Stealth is die veranderinge beperk tot swart leerafwerking vir die sitplekke, deurpanele en armrusse. met dieselfde inligtingstelsel en -skerm as wat in die LE en Pro-4X gebruik word, asook USB-C-sokke voor en agter.
Die Navara se binneruim-stilering, laas opgekikker in 2021, begin egter nou verouderd vertoon gemeet aan die jongste modelle in hierdie mededingende segment, veral wat die grootte en funksionaliteit van die inligtingskerms, asook weelde-afwerking, betref.
Tog het die klankdigtheid en bougehalte van die kajuit op ’n kort toetsrit geïmponeer, en dis duidelik Nissan het heelwat werk aan klankdemping vir die Navara gedoen.
Lekker fluks op die pad
Die beste eienskap van die Navara, hetsy in Stealth- of in Warrior-gewaad (ja, ons kon dié model ook ry), bly egter sy klasleier-padrygerief, veral op grondpaaie, danksy sy unieke veelskakel-veerstelsel agter – sekerlik dié bakkie se besbewaarde geheim.
Soos die res van die reeks word die Stealth deur ’n 2.5-liter turbodiesel aangedryf wat 140 kW en 450 Nm lewer (soortgelyk aan die syfers van die 2.3-liter dubbelturbo-diesel waarmee sy voorganger toegerus was, maar wat nie nou meer beskikbaar is nie).
Ook anders as sy voorganger, is die jongste Stealth net met ’n sewegang-outokas en vierwielaandrywing beskikbaar. Dié kombinasie werk egter goed, hetsy op die oop pad of in veldrytoestande, en wat verrigting betref, hoef die derde geslag D23-Navara, wat nou al byna ’n dekade met ons, steeds nie vir ander soortgelyke bakkies opsy te staan nie.
Die beste van als? Wel, die Navara Stealth is nou landwyd beskikbaar vanaf R695 200 (insluitende ’n ses jaar/150 000 km waarborg) – ’n uitstekende prys, in ag genome sy vergelykbare voorganger het ses jaar gelede R647 500 gekos.
Dit posisioneer die Stealth ook netjies teen Chinese mededingers soos die GWM P300 2.4TD LTD 4x4 (R699 900) en JAC T9 2.0 TCI Super Lux 4x4 (R659 900).
Gegewe sy sterk punte en bewese betroubaarheid, is die Navara Stealth ’n aantreklike alternatief in ’n hoogs mededingende mark. Of Nissan egter genoeg met die Stealth gedoen het om Navara-verkope in dié oorvol segment te stimuleer, bly ’n ope vraag.







