Met Omoda as die Chinese vervaardiger GWM se weelde-handelsnaam was dit net 'n kwessie van tyd voordat die groep sy suksesse in die middel-segment van die mark sou benut en sy vlerke sprei na die waaghalsiger segment van weelde-sportnutse.
Range Rover (met sy Velar), Volvo met sy XC60 en dan die trio Duitsers - Mercedes-Benz (GLC Coupé), Audi (Q5 Sportback) en BMW (X4) - is almal reeds hier doenig. Maar die volumes is klein, al is daar 'n billike aanvraag na dié stylvolle, ietwat eiesoortig ontwerpte nutse.
Omoda se nuwe C9, wat verlede week in Suid-Afrika bekend gestel is, wil ook in dié segment boks, maar teen 'n meer bekostigbare prys onder die sielkundig belangrike kerf van R1 miljoen.

Die twee C9-modelle, die Inspire en die deftiger Explore, is vir vandeesmaand alleen teen 'n verlaagde prys van R760 000 en R860 000 onderskeidelik te koop. Daarna, vanaf November, sal die pryse op hul normale vlak wees (R25 000 duurder vir elk).
Maar selfs op volprys is die Tiguan-grootte C9's steeds heel bekostigbaar - as jy in gedagte hou wat jy alles as standaard by die prys ingesluit kry.
Maar kom ons kyk eers na die hardeware. Onder die enjinkap gebruik albei 'n 2.0-liter-petrolturbo, wat 'n flukse 192 kW en 400 Nm wringkrag losdraai. Dis Golf GTI-agtige syfers daardie, terloops. Krag gaan deur 'n outomatiese agtgangratkas na die voorwiele vir die intreemodel, terwyl die Explore vierwielaandrywing bied.
Moderne kajuit
Die ontwerp lyk heel treffend met sy effense luikrug-agterklap, terwyl die sierrooster 'n treffende diamantpatroon-rooster het, met dun LED-ligte wat vertikaal op elke hoek staan. Daar is ook 'n LED-streeplig, wat die twee hoofligte reg onder die enjinkap, met mekaar verbind.
In die kajuit is daar 'n breë digitale paneel wat tot in die middel van die instrumentpaneel strek. 'n Breë middelkonsole skei die twee voorste sitplekke van mekaar en bied 'n diep bêreplek vir los items.
Die digitale skerm huisves twee skerms wat 'n trukamera insluit. Die kajuit het ook sagte stemmingsbeligting met 256 kleure waaruit gekies kan word.
Albei die modelle het 'n panoramiese sondak as standaard ingesluit, en 20-duim-allooiwiele op elke hoek. Die Inspire se bestuurdersitplek is elektries verstelbaar, terwyl albei die Explore se voorste sitplekke elektries verstelbaar is.
Die kajuit is regdeur met leer uitgevoer en die agterste vensters is donkerder getint vir privaatheid.
Die blikbrein kan koordloos met jou slimfoon verbind, en is versoenbaar met Apple CarPlay en Android Auto. Die blikbrein kan ook met stembevele geaktiveer word om die lugversorger warmer te verstel of die stasie te verander.
Ander items sluit in aanpasbare spoedbeheer, 'n terugdu-funksie sou jy uit jou baan uit dwaal en 'n gonser wat waarsku teen kruisverkeer as jy agteruit ry.
Items wat die Explore ekstra-spesiaal maak, is 'n luidspreker in die kopstut en lugverfrisser in die lugversorger met drie geure om van uit te kies. Want wie wil na stof ruik as jy die langpad haak?
- Ons verskaf meer inligting oor die C9 se rit wanneer ons een onder hande gehad het.






















