Terwyl Suid-Afrikaners kreun onder astronomiese lewenskostes, is die A-segment, oftewel die "Picanto"-klas, tans die bedrywigste. 'n Mens kan wonderlike (luukse) tweedehandse motors vir sowat R260 000 koop, maar nie almal sien kans vir daardie instandhoudingskopseer nie.
Sedert 2004 het sowat 100 000 Suid-Afrikaanse kopers Picanto's in hul opritte geparkeer. Die Picanto, steeds in sy derde generasie, is nou weer opgeknap, verfyn en mooigemaak.

So, wat is nuut?
Die Picanto se stilering is skerper, cooler en hipermodern. Waar die vorige Picanto se "gesiggie" vriendelik was, is die hele vooraansig nou meer gefokus, asof die Picanto grootgeword het. Dubbellamp-hoofligte geraam met langwerpige dagryliggies is standaardtoerusting en die sierrooster se ou tierneus-ontwerp is nou omtrent weg.
Aan die agterkant spog die Picanto ook met herontwerpte, langwerpige remligte wat met mekaar verbind. Dit is asof die hele ontwerp 'n testosterooninspuiting ontvang het en veral die manne behoort die Picanto nou meer aantreklik te vind.
Daar is ook drie verskillende wielontwerpe om van te kies, na gelang van die model wat jy koop, en drie nuwe metaalkleure: Sporty Blue, Smoke Blue en Adventurous Green.

En aan die binnekant?
Veranderinge is minimaal, want die binneruim se horisontale uitleg was reeds hoogs gebruikersvriendelik en prakties.
Die Picanto se bougehalte is van die beste in sy klas. Alle modelle het Apple CarPlay en Android Auto, wat deur Kia se kleurraakskerm en knoppies op die leerbedekte stuurwiel werk. Die digitale instrumentepaneel dra ook by tot die gevoel van duursaamheid.
Wat skuil onder die enjinkap?
Kia sê hy het die driesilinder- 1.0-liter (49 kW) en viersilinder- 1.25-liter (62 kW) -petrolenjins hersien vir beter doeltreffendheid en langdurigheid. Albei skop steeds dieselfde hoeveelheid perde- en wringkrag uit en is beskikbaar met 'n viergang-outo- of 'n vyfgang-handratkas.
Het die name ook verander?
Inderdaad. Die gradering is soos volg: Die LX is die intreemodel en die EX Plus is jou duurste variant, met die EX in die middel.
LX-modelle het twee lugsakke voor, sluitweerremme, sleutellose toegang, elektriese vensters voor en agter, elektriese kantspieëls, die kleurraakskerm met Apple CarPlay en Android Auto, Bluetooth-konneksie en 'n trukamera. Daar is ook 'n klankstelsel en 'n USB-C-poort voor, asook lugreëling.
Die EX-gradering voeg allooiwiele en flikkerliggies in die kantspieëls by, 'n bergplekkie tussen die voorste sitplekke, outomatiese hoofligte, 'n vashou-funksie wanneer jy teen 'n bult wegtrek, agtersitplek-sensors (sodat jy nie per ongeluk 'n kind in die motor vergeet nie) en die heel belangrikste: elektroniese stabiliteitsbeheer.
EX Plus-variante kry onder meer outomatiese lugreëling, sleutellose toegang en 'n aansitknop, kunsleerbekleding ('n kombinasie van swart en grys), parkeersensors (agter) en LED-remligte. 15-duim-allooiwiele is ook op die spyskaart.
Die ougat X-Line-model met sy effens hoër penshoogte en aanloklike sportnutsvoorkoms is ongelukkig nie meer beskikbaar nie.
Hoe ry die Picanto?
Ons het die LX-model beproef in die besige, smal straatjies van Kaapstad. Hy ry heerlik. Danksy sy bykans mikroskopiese dimensies, lewendige enjintjie en ligte bakwerk kan jy jouself orals inwurm en vinnig 'n gaping vat, waar bestuurders van groter motors eers twee keer moet dink.
Die Picanto se lyfie draai op 'n tiekie en toe ons parkering moes vind in die V&A Waterfront se beknopte ondergrondse parkeerterrein, was daar een skraal parkeerplekkie teen 'n sementpilaar wat niemand wou aandurf nie.
Ons het die Picanto met gemak daar tuisgemaak en dit was nie eens nodig om my maag in te trek by die uitklimslag nie!
Toe ek my leerbaadjie wou bêre, het ek opnuut besef hoe klein die bagasiebak is (255 liter).
Die agtersitplekke is net geskik vir kort tot mediumlengte mense. Daar is ook geen stoorplek in die agterste deure nie.
Danksy die twee stelle ISOfix-ankerpunte kan jy darem die spruite se stoeltjies maklik installeer en jy behoort met gemak 'n baba-stootwaentjie in te pas, want jy kan die sitplekke platslaan.
Behoort jy een te koop?
Met 'n prysetiket van R260 995 vir die intreevlak-Kia Picanto 1.0 LX-handrat, is die Picanto nie matrikulante en studente beskore nie, tensy jy 'n "voorheen-geliefde" model aanskaf of as Pappa ponde het.
Maar dit is in elk geval nie die Picanto se teikenmark nie. In die ou dae het ons gepraat van jappies: jong, ambisieuse mense tussen die ouderdom van 26 en 32, en Kia se visier is op húlle gevestig - dit is altemit hulle wat tot dusver die meeste Picanto's gekoop het.
As ek 'n stadsmuis was, sou ek beslis 'n Picanto koop vir sy moderne voorkoms, kompakte grootte, geriefstoerusting en puik afwerking. Stabiliteitsbeheer is wel vir my noodsaaklik en dit is nie beskikbaar in die goedkoopste model nie. Dus sou ek R284 995 moes bestee aan die 1.2 EX handratmodel - en nou raak dinge 'n bietjie duur.
As jy egter jonk en suksesvol is en geen afhanklikes het nie, behoort die prys nie vir jou 'n probleem te wees nie.





















