Ranger bult sy spiere
Ford Ranger 3.2 XLS 4x4
Hy het sy Ranger se sagteware effens opgegradeer en nou spog sy bakkie met 165 kW krag en 'n massiewe 581 Nm wringkrag, sê Andre van Heerden van Kaapstad:
Ek het twee jaar met 'n 2012-model Mazda BT-50 met dieselfde 3,2 l-enjin as my Ranger s'n gery, maar ek was nie mal oor die handratkas nie. Ek het begin rondkyk vir 'n gepaste bakkie met 'n outomatiese ratkas.
Ek het iets gesoek wat maklik kan sleep en steeds vir 'n gemaklike rit sorg. Ek het die Toyota Hilux en Mitsubishi Triton oorweeg, maar het uiteindelik op die Ranger besluit. Dit was in 2015 en ek het hom splinternuut gekoop. Ek kan eenvoudig nie fout vind met die bakkie nie. Ek het hom wel toegerus vir veldry met glystawe, EFS Nitro-vering, 'n pensplaat en 'n tweerigtingradio.
Ek het ook 'n RSI-kappie, dakrak, vrieskas, dubbelbatterystelsel en 'n watertenk op hom gesit.
As ek nou 'n los R10 000 gehad het, sou ek vir hom 'n staalagterbuffer laat opsit. Verder pla sy wit kleur my, want 'n Ranger móét eintlik oranje wees.
'n Mens sou dink met al sy krag en wringkrag sal die Ranger ekstradors wees, maar dit is allermins die geval. Dit bly in die omgewing van 11,2 l/100 km.
Ons gunstelingreis met die Ranger tot dusver was met die kus langs tot in Namibië, toe deur die Caprivi en weer af deur Botswana. Ons was drie weke op die pad en het amper 7 000 km gery. Ek en my vrou het dit saam met drie familielede gedoen en dit was vir ons 'n onvergeetlike ervaring.

Ja, Jetta, ja!
2015 Volkswagen Jetta 1.4 TSI DSG
'n Mens moenie die grootte van sy Jetta se enjin onderskat nie, want hy sukkel nie vir een oomblik om sy 2006-model Sprite Scout te sleep nie, sê Herman Verwey van Leeudoringstad in Noordwes:
Ek het eers die dieselweergawe oorweeg, maar toe besluit om die Jetta 1,4 l-turbopetrol tweedehands vir R280 000 te koop. Ek sleep my Sprite nou al 'n jaar met hom.
Hoewel die Jetta nie juis 'n winskoop was nie, is ek amper daagliks verbaas oor hoe moeiteloos sy sewespoed-dubbelkoppelaarratkas werk. Ek is nét so beïndruk met die krag wat die enjin lewer, veral as jy sy grootte in ag neem. Nodeloos om te sê kla ek nie by die vulstasie nie.
Sonder die wa kry ek 'n fantasiese 6,2 l/100 km op die ooppad. Wanneer ek die Sprite sleep, verdubbel die syfer tot 12,5 l/100 km. Dit is steeds heel aanvaarbaar, baie dankie.
Ek haak die wa aan die Jetta se standaardsleepstang en ry nie regtig vinniger as 100 km/h wanneer ek sleep nie. Ek moet sê, die klein Volkswagentjie het ons sover nog net laat glimlag.
Wanneer ons die kans kry, mik ons Pilanesberg toe, want wildkyk is een van ons gesin se gunstelingdoendinge.

V8 x 2
1978 Chrysler SE en 1994 Jeep Grand Cherokee
Hy kan sy 1996-model Sprite Sunway maar aan enige van sy twee motors haak; albei is meer as opgewasse vir die taak, sê Fanie Gerber van Pretoria:
Ek het die Chrysler in 1998 geërf en sleep sedertdien met hom. Ek het egter verlede jaar besluit om vir my nog 'n sleepvoertuig te kry en toe vir my dié tweedehandse Jeep Grand Cherokee met sy 5,2 l-V8-enjin vir R40 000 gekoop.
My vereistes vir 'n sleepvoertuig is eenvoudig: Hy moet swaar genoeg wees dat die stert nie die hond swaai nie; ek verkies 'n kort afstand tussen die agteras en die sleepstang; en hy moet hope wringkrag hê om gemaklik te sleep. Ek doen self die meeste van die onderhoud op my rygoed en weet waar om vinnig onderdele te kry.
Die Chrysler en Jeep is albei ordentlik aanmekaargesit en het al die luukshede wat jy nodig het vir 'n gemaklike rit. Ek ken my karre soos die palm van my hand en ek het nog nie 'n probleem gehad wat ek nie self kon regmaak nie.
Mense het gewoonlik baie te sê oor die feit dat ek twee V8's het, maar ek geniet die 220 kW en 490 Nm wat ek by hulle kry. Met die Sprite op die haak gee die Jeep my gemiddeld 13 l/100 km terwyl die ouer Chrysler effens dorser is teen 16 l/100 km. Ek sleep teen gemiddeld 110 km/h.
Ek raai medeslepers aan om gereeld hulle voertuig se verkoelingstelsel na te gaan. Die Chrysler en Jeep het albei 'n swaardiensverkoelingstelsel vir wanneer die enjin hard moet werk.
Ons geniet dit om by die Swartvleimeer buite Sedgefield te gaan uitspan. Dit is nog een van die stiller plekke waar 'n mens kan kamp.
Hierdie artikel het oorspronklik in April 2018 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.
















