Motors

Sonet gee ’n digitale sprong

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Daar's 'n witwarm stryd aan die woel op die vertoonvloere in die segment vir voertuie tussen R300 000 en R600 000.

Dis waar die middelklas na 'n ryding soek, maar die middelklas se tradisionele voertuie - 20 jaar gelede nog klein sedans soos die A4, C-klas en 3-reeks, en vandag kompakte nutse soos die Tiguan, XC40 en X3 - is nou almal buite dié prysband geposisioneer.

Blameer die hopeloos swak rand daarvoor. Die effek is dat daar 'n massiewe gaping in die mark ontstaan het.

Heelwat Chinese vervaardigers, soos Chery, Haval en Omoda - en binnekort ook Jaecoo en LDV - gaan daardie ruimte vul.

Hulle gryp dit met albei hande aan, want hul produkte lyk modern en hul waarde-aanbieding is fantasties.

Dit beteken die tradisionele waarde-handelsname soos Hyundai en Kia het 'n yslike uitdaging wat voorlê: Hoe om die golf Chinese voertuie aan te vat en kopers te oorreed om steeds by hulle te bly?

Kia se klein Sonet is sy kleinste nuts in die reeks. Die knaap kom van Indië en bied nou in topmodelle luukses soos sleutellose toegang en 'n self­stuur-funksie.
Kia se klein Sonet is sy kleinste nuts in die reeks. Die knaap kom van Indië en bied nou in topmodelle luukses soos sleutellose toegang en 'n self­stuur-funksie.

Wat het ons hier?

Dis dan die konteks waarbinne Kia sy klein Sonet opgeknap het.

Ons het min kilometers met die nuwe Sonet gery, want die meeste van die tyd is bestee om sy waarde-aanbieding te verduidelik.

Die Sonet is Kia se mededinger in die segment vir klein sportnutse of eerder stadsnutse, soos ek dit noem. Hulle's bedoel vir die stad, waar hul kompakte lywe en lekker hoogsit-kajuit jou gerieflik laat rondrits tussen huis, winkels, skoolsportveld en die hondesalon.

Die Sonet ding mee met rygoed soos die Hyundai Venue, Volkswagen se gewilde T-Cross en ander waarde-aanbiedings van Indiese fabrieke soos die Nissan Magnite en Renault Kiger­, en die Suzuki Fronx.

Die Fronx is straks meer van 'n luikrug met 'n omgekrapte houding, maar die Magnite bied baie waarde, nes die Chery Tiggo Pro4 en die Kiger (wat meganies identies aan die Magnite­ is).

In die kajuit kry topmodelle 'n breë, digitale instrumentpaneel met 'n raakskerm in die middel. Elektriese vensters en twee lugsakke is standaard in die intreemodelle.

Wat's als nuut?

Soos dit met opknappings gaan, het Kia matig met die stileerkwas gaan rondtorring aan 'n voorkoms wat reeds mooi en modern is.

Daar's 'n nuwe, platter sierrooster, nuwe LED-streepligte op die hoeke en agter 'n breë, rooi streep LED-ligte wat die twee remlighulsels verbind.

Straks treffender is die intreemodelle, wat nou wieldoppe vir hul 16-duim-staalvellings kry wat nes sierwiele lyk, kompleet met 'n silwer-en-swart voorkoms. Duurder modelle kry 16-duimers wat inderdaad van allooi gemaak is, met 'n tweekleur-afwerking ook in silwer en swart. Dit lyk sommer baie gaaf en gee die klein Sonet 'n volwasse voorkoms.

Afwerkings is skoon en heel modern. Ons hou van die groot, digitale skerm wat al jou nutsfunksies huisves.
Afwerkings is skoon en heel modern. Ons hou van die groot, digitale skerm wat al jou nutsfunksies huisves.

In die kajuit kry die topmodelle 'n breë, digitale instrumentpaneel met 'n raakskerm in die middel. Elektriese vensters en twee lugsakke is standaard in die intreemodelle.

Die reeks bestaan voortaan uit die LX, die EX, die EX Plus en die nuwe SX as topmodel.

Standaarditems vir die LX sluit in stabiliteitsbeheer, 'n stuurwiel wat vir hoogte en reik verstelbaar is, 'n tru-kamera en Bluetooth-koppeling met USB-sokke vir jou slimfoon.

Die EX-vlak voeg onder meer meer lugsakke en 'n groter digitale skerm by, terwyl die SX sleutellose toegang en 'n aansitknop het, 'n koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon, ritmodusse, 'n matige selfstuur- en 'n selfstop-funksie.

Gooi kole

Die meeste modelle het 'n natuurlik geaspireerde 1.5-liter-petrolenjin wat 85 kW en 144 Nm wringkrag lewer.

Kies tussen 'n sesgang-handratkas of 'n CVT-tipe outomatiese ratkas.

Een model, in die EX-spesifikasievlak, kry die groep se 1.0-liter-turbo (88 kW, 172 Nm).

Kia sê die rede waarom die turbo-modelle tot slegs een voertuig verminder is in die modelreeks is omdat kopers nie meer belang stel in daardie soort enjin nie.

Dit klink ietwat vreemd vir ons, want die turbo-enjin maak juis sin op die Hoëveld, waar die vyftienhonderd baie van sy asem in die dun lug verloor. Nie net bied die eenliter-turbo meer krag nie, hy behou dit als aan die Rand.

Ons vermoede is dat sy prys die probleem is: Kia kan meer waarde toevoeg tot sy topmodel wat met die goedkoper 1.5-liter-toegerus is as sou hy met die duurder turbo-enjin gery het.

Op die pad - aan die kus - ry die natuurlik geaspireerde Sonet heel skaflik in stadsverkeer.

Die buksie is lig sodat versnelling gemaklik geskied. Die CVT-ratkas dreun ook nie soos 'n kwaai haardroër as jy vet gee nie.

Ons kon nie die vyftienhonderd met die handratkas op die proef stel nie. Die turbo-model, wat 'n sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe) kry, ry weer soos 'n knortjor van ouds. Die driesilinder-enjintjie gee 'n heerlike brom as jy die lepel trap en die versnelling is flukser in die verkeer as die vyftienhonderd s'n.

Prys sal kopers se grootste oorweging wees, vermoed ons.

En daarvoor maak die onderste en middelste modelle heelwat sin.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM