Dis ongelooflik wat die Chinese vervaardigers die afgelope dekade - nee, maak dit sommer net die afgelope vyf jaar - reggekry het.
Waar die Japannese groepe 'n handvol dekades moes werk om skouers met hul Europese ekwivalente te kan skuur, het dit die Koreane en Indiërs sowat twee dekades (of drie motorgenerasies) geneem om dieselfde te vermag.
Vandag lei Kia die wêreld in motorontwerp.
Kyk jy na die Chinese groepe, het dinge veel vinniger gebeur. Binne net twee motorgenerasies - skaars tien jaar - het hulle beweeg van daardie rygoed waaroor net agter 'n gebakte hand gefluister is, na voertuie wat die koppe laat draai.
Die Chinese se groot wapen was hul ontwerpvernuf. Wel, sommige sal sê dis eerder hul kopiëringsvernuf. Want daar's 'n teorie dat in die Ooste word kopiëring nie as so 'n erge misstap beskou as in die Weste nie.
Maar Chinese handelsmerke het ook vinnig ingehaal op die tegnologiese front.

Wat het ons hier?
Verlede week het ek Chery se opgedateerde Tiggo 7 Pro Max gery, die vlagskip in hul Tiggo 7-reeks. En dadelik moes jy krediet gee waar dit verdien word: Hierdie sportnuts lyk goed, en ry baie skaflik. En dit als vir 'n ongelooflike prys.
Daar is natuurlik steeds 'n paar haakplekke, en ek kom later daarby uit. Maar eers net die konteks vir die Tiggo 7.
Chery het 'n Tiggo 8 en 'n Tiggo 7, waar eersgenoemde die sewesitplekker is met drie rye sitplekke, en die Tiggo 7 die vyfsitplekker met net twee rye sitplekke.
Behalwe vir 'n algemene opknapping, het die modelreeks egter ook 'n nuwe vlagskip bygekry, die Pro Max. Ja, die naamgewing is belaglik (Pro en Max is soos "ronde sirkel"). Maar hy is wel met 'n lang lys weeldes en tegnotruuks toegerus.
Fyn afwerkings binne
Ek hou van die Tiggo 7 se ontwerp. Vir so 'n langlyf-sportnuts lyk hy heel sportief, en die groot sierrooster met die blink diamantpatroon bied aan hom 'n lekker forse voorkoms wat straal van selfvertroue.
Dis egter in die kajuit waar die Chery die kersie op die koek sit. Die instrumentpaneel is bedek met 'n oppervlak van kunsleer wat oor 'n sponslaag gespan is, vir 'n weelderige, sagte gevoel as jy daaraan raak. Ook by die deurpanele is dié oppervlakke ingespan.
Die instrumentpaneel bestaan nou ook uit net een, breë digitale raakskerm wat van die bestuurder tot doer oorkant strek. Daar's 'n beeld vir die nutsfunksies, en 'n beeld vir die bestuurder.
Klein dingetjies soos die elegante luidsprekers wat in die deure saamsmelt, en 'n rolwieletjie vir die volume langs die stomp rathefboom, val verder op.
Kortweg, die Tiggo 7 se kajuit voel dieselfde as wat jy in 'n duur Duitse sedan sou aantref.
Onder die enjinkap sit helaas net 'n 1.6-liter-petrolturbo wat - hoewel kragtiger as die gewone modelle s'n - net 'n bedeesde 145 kW en 290 Nm wringkrag uitdraai. Behalwe dat die Pro Max 'n beter kraglewering het, kry hy ook permanente 4x4-aandrywing, wat die goedkoper modelle nie het nie. Die ratkas is 'n sewegang-outomaties.
Gaaf, maar . . .
So, hoe voel die Tiggo 7 Pro Max om elke dag mee saam te leef?
Dit hang af wat jou verwagtinge is. As jy hom benader as 'n waarde-vir-geld-ryding, gaan hy jou mildelik beloon. Vir weerskante van die R600 000-merkie kry jy die ruimte en waarde van 'n miljoenrandse sportnuts by die Europese vervaardigers.
Hy lyk mooi, sy afwerkings binne is goed, en sy toerustinglysie is lank. Jy kry, op papier, baie motor vir jou geld.
Daar is wel 'n paar jakkalsies.
Die Chery is ongelooflik "besig". Daar is kort-kort 'n alarm wat gons om jou te waarsku teen iets: 'n motor wat naderkom van agter; 'n motor wat wegtrek voor jou; iemand in jou blindekol; jou oë was vir twee tellings weg van die pad voor jou . . .
Sommige gonser-funksies kan jy deaktiveer, maar dis elke keer outomaties aangeskakel as jy die motor aansit. Dit raak gou irriterend en moeisaam om deur ritse bladsye in die blikbrein te stoei om die gonsers een vir een te deaktiveer.
Die blikbrein self volg ook meermale sy eie kop. Tydens een rit het die KI-gespreksikoon skielik vrae begin vra. Ná slegs twee dae (die motor is splinternuut) het die brandstofmeter die tenkinhoud as propvol, halfvol of amper dolleeg gewys. In enige volgorde.
Hoewel die 1.6-liter nie van jou 'n Alain Prost gaan maak nie, was die remme steeds baie effens en moes jy vroeg al briek om betyds te stop.
Toegegee, my verbruik was heel skaflik teen net 6,5 liter - 'n mens het met ouer generasies Chinese voertuie 'n veel swaarder verbruiksyfer gekry.
Afsaal
Die Chinese het baie vinnig ingehaal, en hul jongste voertuie bied puik waarde vir geld, gekombineer met 'n mooi voorkoms, fyn afwerkings binne en 'n lang lysie toerusting.
As jy oopkop in die transaksie instap, sal hy jou nie teleurstel nie. Maar as jy die hoogste verwagtinge het, is dit straks nog nie die tyd om oos te kyk nie.
- Prys: Chery Tiggo 7 Pro Max Executive AWD - R609 900.























