Die subtiel opgeknapte vierdegeslag Sorento, wat nou plaaslik beskikbaar is, dien volgens Kia Motors Suid-Afrika as voorloper vir ’n reeks opwindende nuwe modelle van die Suid-Koreaanse vervaardiger– waaronder die Carens-veeldoeler, die Syros kompakte sportnuts en die Tasman-eentonbakkie, asook EV-modelle – wat binne die volgende jaar of twee hier gaan aanland.
Volgens Paul Turnbull, uitvoerende hoofamptenaar van Kia Suid-Afrika, word beplan om altesame nege nuwe modelle binne hierdie tydsbestek hier bekend te stel om die plaaslike reeks te vernuwe en verder uit te brei.
Die Sorento-opknapping wat hierdie model-stormloop voorafgaan, is in wese kosmeties van aard, met subtiele stileringsveranderinge voor en agter, opgegradeerde bestuurshulpstelsels en slommernislose verbeterings aan die dryfstelsel van die sewesitplek-sportnuts wat vir beter rygerief sorg.
Die buite-ontwerp is nou effe hoekiger en skoner as vantevore (dog nie so radikaal soos dié van die nuwe Santa Fe in die Hyundai-susterstal nie), bevattende ’n nuwe sierrooster met driedimensionele patroon, ‘n herontwerpte voorbuffer, ’n hoër enjinkaplyn, unieke vertikale hoofligte geskei van die soorrooster, en stervormige dagligryligte.
Die agterkant is opgekikker om die vooraansig te komplimenteer, met diagonale LED-agterligte met vertikale sterkaart-grafika, ’n dun hooggemonteerde stoplig, en ’n meer robuuste ontwerp vir die agterbuffer, uitlaatpype en glyplaat. Dog, mens moet mooi kyk om die ontwerpverskille agter te kan eien.
Binne die ruim kajuit (met twee volgrootte sitplekke heel agter) is die veranderinge beperk tot subtiele atmosfeer-beligting rondom die paneelbord, rathefboom en in die voordeure, ’n herontwerpte rathefboom, metaal-pedale, swart dakafwerking en ’n panoramiese sondak.
Dieselkrag vir ekstra gerief
Soos voorheen, is die Sorento in drie afwerkingsvlakke, almal met sewe sitplekke, beskikbaar (EX+, SX en SXL), maar selfs die EX+ is nou met 20-duim-bande toegerus (sodat dit nie afsteek by die topmodelle nie), en die SX-model kom nou standaard met alwielaandrywing.
Die grootste aantrekking in die Sorento bly egter sy 2.2-liter turbodieselenjin (veral noudat genoot Hyundai se Santa Fe nie meer daarmee beskikbaar is nie) wat sy werk stil, kragtig en seepglad doen. Met 148 kW en 440 Nm beskikbaar, het dié enjin oorgenoeg stukrag om selfs die steilste bergpasse te oorkom en om stadiger verkeer moeiteloos verby te steek.
Sy agtgang-dubbelkoppelratkas, met goedgekose ratverhoudings, is nou nog gladder as vantevore, soos ons op ’n kort roete vanaf Kaapstad na die Overberg ondervind het, en die dryfstelsel-kombinasie se goeie brandstofverbruik, met gemiddelde syfers van so laag as 6.8 liter, is ’n verdere pluspunt.
Ook opmerklik was die Sorento se verbeterde rygerief, danksy aangepaste skokbrekerverstellings, en hoewel sy 20-duim laeprofielbande goed op teer werk, beperk dit, asook die Koreaan se relatief lae grondvryhoogte, sy veldryvermoë tot rowwe grondpaaie alleenlik.
In die ruim kajuit is die panoramiese inligtingskerms netjies in die instrumentpaneel geïntegreer, maar die SX-modelle waarmee ons gery het, had nie die ruitinligting of die Bose-klankstelsel van die topmodel nie.
Opgegradeerde waarsku-stelsel
Die SX het egter elektriese verstelling, asook ventilering en verhitting, vir die voorste sitplekke, en ’n meer basiese weergawe van die opgegradeerde “ADAS” waarsku-stelsel. Ons het egter gevind dié stelsel is nou te aggressief en sensitief, gemeet aan die vorige weergawe, en dit het ’n ruk gevat om die terugdu-funksie in die blikbrein se rits opsies te vind en af te skakel.
Ander standaard-toerusting in die SX, benewens bogenoemde, sluit in ’n panoramiese sondak, ’n tru-kamera, elektriesbeheerde agterklapdeur met hoogteverstelling, ’n koordlose selfoonlaaier, en ses USB-C-kragsokke (twee per sitplek-ry).
Tesame met Kia se onbeperkte kilometers/vyf-jaar waarborg en ’n ses-jaar/90 000 km diensplan, kos die nuwe Sorento SX nou meer as ’n miljoen Rand, wyl die vlagskip-SXL by R1,3 miljoen draai.
Hoewel duur, vergelyk hierdie pryse goed met dié van mededingers soos die Ford Everest, die Hyundai Santa Fe, en die Toyota Prado. Die Sorento staan ook nie vir hulle terug wat verrigting, toerustingvlak en gehalte-afwerking betref nie. Dis egter ’n hoogs mededingende marksegment, met gevestigde spelers, dog diegene wat ’n sewesitplek-sportnuts soek en beperkte veldry-verwagtinge het, behoort die Sorento sterk te oorweeg.
Pryse:
Sorento 2.2 CRDi EX+ – R999 995;
Sorento 2.2 CRDi SX (4x4) – R1 199 995;
Sorento 2.2 CRDi SXL (4x4) – R1 299 995.







