Kia het sy sprokiesverhaal in die motorlandskap voortgesit toe sy nuwe EV9 vroeër vandeesmaand as die nuwe Wêreldmotor van die Jaar vir 2024 aangewys is. Die EV9, 'n batterymotor (EV), het ook as die wenner weggestap in die kompetisie se afdeling vir EV's. Kia se kleiner EV, die Niro, het verlede jaar derde geëindig.
In vanjaar se kompetisie het die EV9 'n gedugte mededinger uitgestof in die gedaante van Volvo se nuwe batterygedrewe stadsmotor, die EX30 (wat onlangs ook in Suid-Afrika bekend gestel is).
Die kompetisie is vanjaar vir die 20ste keer aangebied met die wenners wat jaarliks vroeg in April op die New Yorkse motorskou aangekondig word. Benewens 'n algehele wenner, is daar ook vier ander kategorieë: EV's, verrigtingsmotors, weeldemotors en gesinsmotors. Daar word ook 'n persoonlikheid van die jaar gekies, asook beste ontwerp.
Meer as 100 motorjoernaliste van 29 lande het in vanjaar se kompetisie as beoordelaars opgetree. Drie was van Suid-Afrika. Die joernaliste stem per e-pos vir hul gunstelingmodelle.
Die nuwe EV9 van Kia is 'n groot stasiewa-agtige sportnuts wat drie rye sitplekke bied. Intreemodelle het slegs een e-motor en 'n 76 kWh-battery vir 'n reikafstand van 380 km, maar die topmodelle kom met 'n groter 100 kWh-battery en twee e-motore, een op elke as. Die groter battery bied die bussie 'n reikafstand van 440 km.
So lyk die res
Wat die ander kategorieë betref, het BMW se nuwe 5-reeks stof in die Mercedes-Benz E-klas se oë geskop om met die titel Weeldemotor van die Jaar weg te stap.
Volvo se klein EX30 het wel vergoed vir sy loesing in die wedloop om die algehele titel toe hy met die louere weggestap het in die kategorie Gesinsmotor van die Jaar. Nog twee batterymotors, die BYD Dolphin en Lexus LBX, was sy mededingers.

In die kategorie vir Verrigtingsmotors het Hyundai se Ioniq 5N op 'n verrassende wyse korte mette gemaak van BMW se hoogaangeskrewe nuwe M2 en die nuwe, hibridiese XM-sportnuts van München. Die Koreaan was die enigste batterymotor onder dié drietal.
Dis interessant dat die kompetisie steeds 'n aparte afdeling het vir EV van die Jaar (wat die Kia EV9 gewen het). In bykans al die ander kategorieë was EV's goed verteenwoordig as topdrie finaliste. 'n Dekade gelede was EV's nog 'n rariteit, maar vandag is hulle hoofstroommodelle.

Die prys vir die beste ontwerp het gegaan aan die nuwe Toyota Prius, wat met sy vaartbelynde, moderne ontwerp vol skerp aksentlyne en hoeke ligjare verwyder is van sy ballon-agtige voorgangers. Die Prius het afgereken met interessante mededingers soos die nuwe Ferrari-veldryer, die Purosangue en die retro-voorkoms van die Ford Bronco.
Die Persoonlikheid van die Jaar was Adrian Newey, wat al lank in die motorsportbedryf is, maar deesdae die hoofingenieur van Red Bull se F1-span is.





















