Hoekom het jy ingeskryf?
SARIE se voorblaaie is natuurlik, nie opgesmuk nie. Voorbladgesig is ook nie ’n konvensionele skoonheidswedstryd nie. My ma, Suzette, my groot inspirasie, en my ouma Jossie, albei gróót SARIE-lesers, sê toe: “Skryf in!”

Is jy bly jy het?
Ja! Die hele span het soos my hartsmense gevoel. Ek kon myself wees en hoef nie konsert te gehou het op ’n verhoog nie. Dit was bemagtigend om uit my gemaksone te kom.
Hoe voel jy oor jou wen?
Dis iets wat ek my lewe lank sal koester en saam met my sal dra.Wat ’n groot eer!
Watter rol speel vroue in jou lewe?
My ouers is ses jaar gelede geskei. My ma, ’n sterk vrou, was ’n mode-entrepreneur en is die dryfkrag in die lewe van my en my tweelingsuster, Angeli, ’n skoonheidsentrepreneur.
My sus is blond, met blou oë. Ons het onsself die “magnificent trio” gedoop. My ma het ons geleer om volhoubare loopbane te bou.
Hein Nel, skakelbeampte by Lamborghini en Bentley Suid-Afrika, met wie my ma intussen getroud is, is ons pa-figuur.

Kán ’n mens skoonheid definieer?
Dis ’n moeilike een. Daar moet sinergie tussen innerlike en uiterlike skoonheid wees. Skoonheid moet jou oog vang. Dit behels ’n kombinasie van faktore. Die model Cindy Crawford en koninklike Kate Middleton hét dit.
Hoe het jy ware liefde gevind?
Toe my man, Dylan de Lange (hy is ’n meganiese ingenieur), my sien, het hy glo gesê “dis my trouvrou”. Ons het deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet toe ek 18 was.
Ons is albei oortuigde gelowiges. Dít was my voorvereiste vir ’n huweliksmaat. Ek het ook iemand nodig wat liefdevol is en seker maak dat ek oukei is. Tóg gee ons mekaar genoeg spasie om ons eie dinge te doen.
Wat is op jul wenslys?
Kosontdekkings! Ons is foodies. Hy is ’n wêreldreisiger en het my aan vreemde kosse blootgestel. Ons het ’n jaar gelede Kaap toe getrek.
Ons prioriteit is om ons blyplek minimalisties-stylvol te omskep, én ons wil die wêreld vol reis. Griekeland is bo-aan die lys, want wat is nou lekkerder as Griekse kos?
Kook julle graag self?
Dylan is ’n fantastiese kok. Die wonder van die 21ste eeu is dat mans so goed in die kombuis is. Ek maak gesonde kos, hý interessante kos.

Enige stokperdjies?
Ek doen fotografie en my eerste fotosessie was met my sussie se reuse-honde, twee rifrûe, onbevange in die natuur. Ek het aanvanklik net foto’s vir vriende geneem, maar toe hou ek so baie daarvan dat mense my naweke kon bespreek vir troues.
Ek weet hoe wonderlik dit voel as jy trou en wou daardie spesiale oomblik vir ander herskep.
Leefstylfoto’s met swanger vroue en gesinne is deel van my projekte. Ek is selektief, want tyd is skraps. Dalk word dit eendag my beroep, wie weet? Dis lekker om mense goed te laat voel.
Skoonheidsroetine?
Ek het gelukkig nooit velprobleme gehad nie. Ons het net Dove-seep gebruik vir velreiniging. Onlangs het ek met ’n basiese skoonheidsprogram van reiniging en bevogtiging begin. Sonskerm is deel van die bevogtiger.
Die salonbehandelings wat deel was van ons Isa Carstens-bederf, is nuut vir my.
Spesiale eetprogram?
Vir seker geen dieet nie, maar iets van alles. Ek drink baie water en het ’n suikertand. Enigiets met klapper! Daar was selfs klapper in ons troukoek.
Geniet jy oefening?
Ek en Dylan stap gereeld so vier kilometer in ons pragtige woonbuurt. Dit skei genoeg goedvoelhormone af en maak jou kop skoon.

Grootste uitdaging?
Ná Covid was ek ’n ruk lank baie moeg. Aanvanklik het dokters gedink ek het ’n perforasie in die hart, toe meen hulle Covid het my hartritme aangetas. ’n Regime van medikasie het gevolg. My kardioloog het my gesondheid uitstekend genavigeer. Ek voel goed, maar moet my gesondheid oppas.
Sosiale media se rol in ons lewe . . .
Dit het vir mense ’n platform geskep en nuwe werksgeleenthede gebring, veral vir inhoudskeppers en beïnvloeders, wat soms as kontroversieel gesien word. Dit was voorheen nie moontlik nie. Dit gee baie mense nou kans om hul passie te volg en daaruit ’n loopbaan te bou.
Hoe vervul jou loopbaan jou?
Sagmoedigheid is een van die belangrikste woorde in my lewe. Dis hoekom ek my beroep as oudioloog gekies het. Ek is die eerste mens by wie pasiënte hul frustrasies uitstort. Ek is ’n goeie luisteraar. Dis ’n voorreg om ’n verskil in mense se lewens te maak. Jy’t ’n sagte siel nodig vir dié werk.

Hét Suid-Afrika ’n toekoms?
Daar’s baie om na uit te sien en baie om ons oor te bekommer. Ek en Dylan het gekies om hiér te bly. As jong professionele mense kon ons in Engeland of Nederland gaan werk het. Jy het geen beheer oor die regering se besluite nie.
Daar’s altyd goeie en slegte dinge om te hanteer. Ek fokus nie op die negatiewe nie. Wat help dit om te tob oor sinkgate en stukkende verkeersligte of die waterprobleem in Gauteng? Elkeen kan by iets betrokke raak en probeer om die land op te bou.
Daar’s hope liefdadigheidsgroepe. Cape Hearing Aids, waar ek werk, het byvoorbeeld op Mandeladag die Ladles of Love ondersteun. Dié organisasie, wat in 2014 begin is, het oor die jare al 44,5 miljoen etes aan mense in arm gemeenskappe voorsien.
Hoe bly jy as vrou veilig?
As ek alleen uitgaan, stuur ek ’n “live location” op my slimfoon vir Dylan, sodat hy presies weet waar ek is. Jy moet versigtig wees. Moet nie sommer in ’n Uber klim sonder om eers seker te maak dat al die details reg is wanneer die drywer opdaag nie. As vrou is jy wel ’n sagte teiken, méér so as ’n man.
Is jy lief vir Afrikaans?
My pa is Engels, my ma Afrikaans. Ons was in St Mary’s Primary en Pretoria High School for Girls. Dis voordelig om tweetalig te wees.
My man is ’n Engelse De Lange. Ek’t grootgeword met SARIE, hou van lieflike Afrikaanse liedjies soos “Huis” van Laurika Rauch. Ek voel bevoorreg – en geniet dit – om in Afrikaans en Engels te kan kommunikeer.
Gunsteling-dinge
- Drankie Piña colada
- Parfuum Carolina Herrera se Good Girl
- Afrikaanse woord Sagmoedig
- Kleur Ligblou
- Boek of Kindle Boek

Erkenning
Konsep en stilering Fanie Cronjé
Grimering Algria
Hare Jeanette Genis
Meubels Block & Chisel,
Foto-agtergronde ArtLab




















