Jy het jou hart en siel gestort in die skep van die fraaiste babakamer in die Suidelike Halfrond.
Maar het jy al mooi oor jou kleinding se veiligheid gedink? Sommer gou gaan die engeltjie wat nou lê en droom in die wiegie waaroor jy ure getob het, in 'n woelige kruipertjie ontaard. Is jy en jou huis reg vir 'n "bodemdiertjie"?
Volg ons raad en sorg so dat jy ongelukke in die huis vermy.
1. Moenie wag tot jou kind mobiel is en dan gou 'n plan probeer maak nie. Dis te laat. Besluit doelbewus om jou huis veilig te kry voor die rakkertjie begin rondseil. Dis skokkend maar waar dat die algemeenste oorsake van dood en beserings by klein kinders meestal in die huis of op die erf is, soos 'n val, vergiftiging, motorongeluk in die oprit, verdrinking (selfs in 'n emmer, toilet of bad), verstikking, brandwonde en elektriese ongelukke.
2. Skaf 'n goeie brandblusser aan en maak seker al die verantwoordelike volwassenes in die huis weet hoe om dit te gebruik.
3. Maak seker jou elektrisiteitsboks het 'n veiligheidskakelaar wat die krag outomaties laat uitskop sodra daar 'n kortsluiting is.
4. Koop en installeer plastiekskerms vir muurproppe.
5. Bêre nou al gifstowwe en skoonmaakmiddels op 'n plek wat hoog genoeg is dat jou kleinding dit nooit sal kan bykom nie. Onder die wasbak is nie veilig nie.
6. Bêre gif veral sorgvuldig en veilig.
7. Koop 'n ordentlike net en rig 'n hoë heining en goeie veiligheidshek by die swembad op as jy dit nog nie gedoen het nie. Dit geld ook visdammetjies en enige oop water, al lyk dit te klein vir 'n kind om in te verdrink.
8. Skaf knippe aan wat kaste en laaie in die kombuis en badkamer toe hou. Skaf ook 'n toiletknip aan wat die deksel toe hou.
9. Maak seker jou noodhulptassie is hoog genoeg dat klein handjies dit nie kan bykom nie.
10. Trappe kan baie gevaarlik wees en dit gaan jare duur voor jou kind werklik die kuns daarvan bemeester om veilig op en af te klim. Installeer 'n traphekkie van gehalte bo en onder.
11. Pak breekbaarhede soos vase of ornamente weg of plaas dit hoër waar 'n kind dit nie kan bykom nie.
12. Talle kinders het al seergekry toe hulle 'n TV-stel of boekrak op hulle omgetrek het. Maak seker jou televisie is stabiel of baie stewig teen die muur vas.
13. Koop deurstuiters as daar deure in die huis is wat in 'n trek kan klap.
14. Oppas vir oop vensters wat laag sit. Oorweeg diefwering as daar enigsins 'n kans is dat 'n kind deur die venster kan val.
15. Maak seker balkonrelings is hoog genoeg en die gapings smal genoeg dat 'n kind nie daardeur sal val nie. Jy kan nette oprig as jy onseker is. Maak ook altyd seker dat dit nie vir 'n kind moontlik is om 'n ligte stoel of tafel tot by die reling te trek nie.
16. Verbied jou kind van kleins af om in die motorhuis of oprit te speel - die outomatiese deure en motors wat in- en uitry is net te gevaarlik. 'n Kind op die grond is dikwels heeltemal onsigbaar vir iemand wat met 'n motor in of uit wil gaan.
GOEIE WENKE! Optredes wat ongelukke keer
- Moet nooit jou baba of kind alleen in die bad los nie, nie eens vir 'n paar sekondes nie. Kry dus alles wat jy nodig het, vooraf gereed.
- Tap altyd eers die koue water in en dan die warm water om te keer dat 'n kind per ongeluk brand en ook dat die kraan te warm word. 'n Badtermometer sal jou gerusstelling gee dat die water net reg is. 'n Badstoeltjie en rubbermatjie kan ook help dat jou kind nie omdop nie. Oorweeg kraanbedekkings as jou krame skerp is en uitsteek.
- Moenie jou baba se bed plaas naby enigiets wat 'n gevaar inhou nie soos 'n venster, lamp of blindingtou. En vermy dit om 'n swaar spieël of portret met skerp kante bo die bedjie te hang - as dit val, kan jou baba baie seerkry. Oppas ook vir 'n muskietnet wat afgetrek kan word.
- As jy 'n bewertjie bo die bed of doekruilstasie ophang, maak seker dis lig en sag ingeval dit val. ¦ Babas en peuters lees nie troeteldiere se lyftaal reg nie. Dis ouers se verantwoordelikheid om toesig te hou en te sorg dat kwaai of onvoorspelbare honde nooit naby die kinders kom nie.
- Moet nooit jou baba alleen op die doekruiltafel los nie, nie vir 'n enkele sekonde nie en selfs ook nie as sy nog piepklein en pap is nie. Hou altyd 'n hand op haar.
- Verlaag die gevaar van wiegiedood deur jou baba op sy rug in 'n babaslaapsakkie te laat slaap. Sorg vir 'n stewige, nuwe matras en moet geen kussings of knuffeldiere in die bedjie toelaat nie. Moet ook nie toelaat dat enigiemand in jou huis of naby jou baba rook nie. 'n Babamonitor sal jou meer gerus laat voel.
- Probeer om nie jou baba se bottels of melk in die mikrogolfoond warm te maak nie, want daar kan oneweredige warm kolle ontstaan wat jou baba kan brand, al het die kos vir jou reg gevoel.
- Steriliseer bottels en eetgerei en sorg dat almal wat met jou baba werk, gereeld hande was.










