Sorgsaam toegevou en beskut in 'n beskermende holte sit hierdie magtige en kragtige, maar terselfdertyd weerlose orgaan: die brein; in baie opsigte die meesterstuk van die Skepping. Want hoewel baie mense geneig is om aan die brein te dink as net die setel van verstand, is dit veel meer.
Jou kind se brein beheer sy hele lewe: van sy emosies tot sy motoriese vaardighede, taalontwikkeling, verbeelding en sosiale vaardighede. Jou kind se brein bestaan uit baie verskillende dele, elk met sy eie funksies. By die meeste mense is die linkerkant van die grootbrein verantwoordelik vir taalvermoë (skryf en praat) en positiewe emosies soos vreugde.
Die regterkant beheer weer ruimtelike vermoë (om 'n kaart te lees, afstand te skat en vorms te herken) sowel as negatiewe emosies. Die regterkant van die brein beheer die linkerkant van die lyf en andersom.
Jou kind se bewegings word deur nog 'n breindeel, die serebellum of kleinbrein, beheer en ander dele van die brein is weer verantwoordelik vir dinge soos kreatiwiteit en abstrakte denke of emosies. Elk van jou kind se breingedeeltes "spesialiseer" dus van geboorte af al in bepaalde rigtings. Maar as een deel beskadig word, het die brein die vermoë om sekere take van die beskadigde deel oor te neem.
Hoe jonger jou kind, hoe groter is sy brein se aanpassingsvermoë. Jou kind se breinontwikkeling is soos 'n wonderwerk wat ontvou en dit begin reeds voor geboorte.
VOOR DIE GEBOORTE
Binne 'n week ná bevrugting ontwikkel breinselle al aan die punt van die embrio en teen ses maande is byna al die nodige senuselle reeds daar. In die laaste drie maande van swangerskap groei en versterk die verbindings tussen hierdie senuselle. Die breinselle stuur en ontvang nou reeds boodskappe oor aanraking, gehoor en beweging en die sintuie van smaak, reuk en sensitiwiteit vir lig ontwikkel ook al in die baarmoeder.
DIE EERSTE JAAR
Die brein is by geboorte die enigste onvoltooide orgaan van die liggaam. Hoewel die meeste breinselle dan reeds gevorm is, moet baie van die paadjies tussen die senuselle nog gevorm en ook verder versterk word. Hoe hierdie paadjies gaan vorm en ontwikkel, hang af van jou pasgebore babatjie se ervarings. Die dele van baba se brein wat verantwoordelik is vir doelbewuste gedagtes, gevoelens, geheue en doelbewuste aksies, is nog nie goed ontwikkel nie en daarom is hy nou net in staat tot refleksbewegings.
Die deel van die brein wat willekeurige beweging reguleer, ontwikkel ná geboorte letterlik van kop tot toon, met beheer wat eerste in die kop en skouers bereik word, daarna in die arms en lyfspiere en heel laaste in die bene.
Pasgebore babas se brein het ook nog baie min miëlien, en dis een van die hoofredes waarom babas en jong kinders inligting soveel stadiger verwerk as volwassenes. Namate baba ouer word, ontwikkel verskillende dele van sy brein teen 'n verskillende pas.
Jou kind se breinontwikkeling is soos 'n wonderwerk wat ontvou en dit begin reeds voor geboorte.
Jy sal sien dat sekere vaardighede soos fisieke beheer in 'n stadium baie vinnig ontwikkel, terwyl kommunikasievaardighede op 'n ander tyd weer vinniger toeneem. Hoe ouer jou baba word, hoe meer sal hy ontdek en 'n wye verskeidenheid emosies uitdruk namate die fisieke, verstandelike en emosionele stelsels van sy brein meer volwasse raak.
Op visuele vlak begin jou baba teen twee maande voorwerpe met sy oë volg en daarop fokus. Hy kan nou in kleur sien, diepte waarneem en aanpas by verskillende afstande. Teen drie of vier maande is sy visie soortgelyk aan 'n volwassene s'n. Jou baba begin in hierdie tyd dit wat hy sien, proe, hoor en voel bymekaar uitbring - dit word sensoriese integrasie genoem.
Tussen ses en 12 maande ontwikkel hy vinnig op alle vlakke en sien jy 'n groot verskil in sy begrip van wat jy sê, bewegingsvaardighede, leervermoë en sosiale interaksie - alles tekens dat sy breintjie besig is om heeltyd nuwe verbindings te vorm.
In hierdie tyd sal baba se kop ook vinniger groei as die res van sy lyfie: Binne-in daardie breintjie is miljarde nuwe paadjies met ander selle besig om te vorm. Hierdie paadjies is die sleutel tot jou kind se fisieke, intellektuele, emosionele en sosiale ontwikkeling.
Jou kind se nuwe vaardighede skep ook nuwe stimulasiegeleenthede: Sodra baba begin sit, kan hy hom as 'n onafhanklike wesentjie begin beskou en nuuskierig sy vlerkies sprei om die wêreld om hom te ontdek. Elke nuwe dingetjie wat baba ervaar, dra by tot die vestiging van nuwe paadjies in sy brein.
Babas tussen ses en 12 maande volg 'n vaste patroon van bewegingsontwikkeling: Die meeste babas begin teen sewe maande sit, kruip teen nege tot 10 maande, staan en loop terwyl hulle aan meubels vashou teen 10 tot 11 maande en daardie eerste treetjies word teen 12 tot 15 maande gegee.
Hierdie ontwikkeling van motoriese vaardighede hou direk verband met jou kind se ontwikkelende brein. Tussen nege en 12 maande sal baba ál meer inligting deur sy sintuie inwin wat hy gebruik om die wêreld om hom te interpreteer. Jou baba kan in hierdie tyd skeidingsangs ontwikkel omdat sy brein hom nou vir die eerste keer in staat stel om te besef dat jy weg is of dat hy iets wil hê en dat dit nie meer daar is nie.
HOE JY KAN HELP
* Babas moet voorwerpe en mense sien wat normaalweg daagliks in hul omgewing voorkom. Tussen twee en ses maande sal jou kind dit begin geniet om stadig bewegende voorwerpe te sien soos 'n bewertjie, asook sy versorger se gesig terwyl sy met hom gesels en speel. Maak seker jou baba sien jou gesig en gesigsuitdrukkings. Hy is gek daaroor om jou dop te hou - maak dus oogkontak en glimlag terwyl jy met hom gesels. Jy hoef nie spesiale stimulasie-speelgoed te koop nie, maar maak seker daar is genoeg vir jou kleinding om te sien.
* Gee jou kind 'n liefdevolle, veilige omgewing waarin hy kan ontdek. Baie aanraking is geweldig belangrik.
* Help jou kind sin maak van al sy sintuiglike ervarings met woorde, gebare en gesigsuitdrukkings. Vertel hom wat jy doen, trek jou gesig as julle iets suurs eet, wys vir hom as iets gevaarlik is. Hy sal dalk tydelik ophou en eers jou reaksie dophou voor hy iets doen.
* Gee jou kind maksimum vryheid van beweging. Moedig sy groot motoriese ontwikkeling aan, maar moenie dit probeer aanjaag nie. Gun dit vir jou kind om teen sy eie pas te ontwikkel.
* Dans op die maat van musiek.
* Lê baba gereeld op sy magie neer.
BREINBOUBLOKKE
Jou baba word gebore met 'n stel instinkte en reflekse vir oorlewing. Ondanks al die publisiteit oor hoe jy jou baba moet stimuleer om hom slimmer te maak, sê die meeste kenners dat die heel beste stimulasie is om hom normaal lief te hê en op hom te reageer soos jou instink aan jou voorskryf. Gee aandag aan die volgende:
1. GENOEG SLAAP
Daar is 'n sterk verband tussen die hoeveelheid slaap wat 'n kind kry en normale breinontwikkeling. Die brein moet genoeg ononderbroke slaap kry om alles te verwerk wat dit gedurende die dag ervaar het. Kinders wat nie genoeg slaap nie, vaar meestal slegter met kreatiwiteit en hoërvlak-probleemoplossing.
2. INTERAKSIE MET MENSE
Interaksie met mense en voorwerpe is net so nodig vir 'n baba se breinontwikkeling soos die regte dieet. Babas en kinders met wie gepraat word, vir wie gelees word en wat self kan kommunikeer, vaar beter.
3. DIE REGTE VOEDING
Goeie voeding is een van die heel beste maniere om gesonde breinontwikkeling aan te moedig. Goeie voeding begin reeds voor geboorte en daarom word aanbeveel dat swanger vroue 'n aanvulling drink met genoeg foliensuur en yster. Die ontwikkelende brein het yster baie nodig. Babas het ook genoeg yster nodig wat hulle in die eerste ses maande deur óf borsmelk óf formulemelk kry en later deur ysterverrykte pap of 'n aanvulling.
4. LIEFDEVOLLE AANRAKING
Aanraking stuur letterlik seine na die brein om te sê hoe dit moet groei en verbindings moet maak. Dit is hoekom massering so waardevol is.
5. BORSVOEDING
Borsmelk bevat al die amino- en vetsure wat nodig is vir breinontwikkeling. Sommige navorsingsprogramme het getoon dat borsbabas beter in IK-toetse gevaar het as bottelbabas.
Breinontwikkeling is in die eerste twee jaar op sy sensitiefste vir voeding. Omdat miëlinisasie dan teen so 'n vinnige pas plaasvind, moet 'n baba baie vet in sy dieet hê - sowat 50 persent van sy totale kilojoules. Baba behoort die meeste daarvan in die eerste jaar uit bors- of formulemelk te kry en daarna uit koeimelk.
6. SPEL
Speel word verbind met breinontwikkeling, maar dit is die ervaring en nie die speelding nie wat die breinontwikkeling aanhelp.
7. BEWEGING
Dis een van die belangrikste boublokke van normale breinontwikkeling. Dit begin selfs in die baarmoeder, waar die ma se beweging of gebrek daaraan uiteindelik 'n rol kan speel in baba se breinontwikkeling. 'n Kind moet vanaf geboorte maksimum vryheid hê om soveel moontlik te beweeg.
8. AKTIEWE LEER
Dit is veel beter vir jou kind se ontwikkeling om iets self te ervaar as wat dit vir hom is om byvoorbeeld televisie te kyk. Deur televisie kry hy geweldig baie insette, maar die reaksiekant word afgeskeep en die balans in die brein word versteur.












