WAT IS MEKONIUM?
Dit is die swart, taai en klewerige poef wat jou pasgeborene die eerste dag of twee ná sy geboorte uitskei. Mekonium bestaan uit alles wat jou baba in die baarmoeder gesluk het, soos slym, vrugwater, epiteelselle, lanugo (die haartjies wat op sy vel was), water en gal.
Hierdie taai poefdoek maak dit nie maklik om sy boudjies agterna skoon te maak nie, al ruik dit nie juis na iets nie.
BORSVOEDING HELP
Kolostrum - die eerste melk wat jou liggaam ná jou baba se geboorte vervaardig - is min, maar ryk, maklik verteerbaar en propvol teenliggaampies. Dit het lakserende eienskappe wat help om van die mekonium ontslae te raak, verduidelik die borsvoedingsgroep La Leche League International op hul webtuiste llli.org. Dit reinig ook die spysverteringskanaal en vorm 'n beskermende lagie in jou baba se maag.
Hoe meer jou baba in die eerste paar dae borsvoed, hoe meer kolostrum kry hy in en hoe gouer kan julle albei van die mekonium ontslae raak.
VAN MEKONIUM NA NORMALE POEFDOEKE
Jou baba se poefdoeke verander namate jou melkvolume toeneem. Teen dag twee of drie behoort sy swart poefdoeke plek te maak vir geelgroen doeke. Dit beteken dat sy spysverteringskanaal behoorlik werk en dat hy jou borsmelk verwerk en opneem.
Nou word dit makliker om sy boudjies skoon te maak omdat die poef baie sagter is. Teen dag drie tot vyf is jou baba se ontlasting lekker los en is dit gewoonlik groenbruin van kleur. Daar kan ook stukkies in wees wat soos saadjies lyk.
AS BABA NIE POEF NIE
Sowat 95 persent van gesonde voltermynbabas lewer binne 24 uur 'n mekoniumdoek en omtrent alle gesonde babas doen dit binne 48 uur ná geboorte, sê dr. H.P. van der Merwe, 'n pediater van die Paarl.
"As daar nie in hierdie tyd mekonium uitgeskei word nie, is dit baie moontlik dat daar 'n onderliggende afwyking skuil."
Babas met 'n afwesige of onderaktiewe skildklier se uitskei van mekonium kan ook vertraag wees, sê H.P. 'n Pasgeborene wat nie mekonium uitgeskei het nie, sal 'n opgeswelde magie hê, braak en ook nie goed voed nie. Laat weet jou pediater onmiddellik as jy agterkom iets is nie pluis nie, of as jou baba teen dag drie nog nie mekonium uitgeskei nie. Slegs 'n deeglike ondersoek sal bepaal of daar iets ernstigs fout is.
Volgens H.P. sluit ernstige toestande die volgende in: Hirschsprung se siekte, dermobstruksie, mekonium ileus (wanneer die mekonium so taai en dik is dat dit 'n dermobstruksie vorm) en 'n te klein linkerkolon. Mekonium ileus kan op sistiese fibrose dui, terwyl 'n te klein linkerkolon 'n teken van diabetes by die ma kan wees.
Wenk
Gebruik 'n vogdoekie of 'n sagte, warm en nat waslap om die taai en swart poef van jou baba se boudjies af te vee. Werk sagkens. Smeer petroleumjellie aan jou kleinding se skoongemaakte boudjies om die volgende skoonmaaksessie makliker te maak.
MEKONIUM IN DIE BAARMOEDER
In baie gevalle gebeur dit dat 'n baba mekonium in die baarmoeder uitskei wat dan in die vrugwater beland. As jou baba dié besmette vrugwater inkry (dit word mekoniumbevlekte vrugwater genoem), kan dit gevaarlik wees want die ingeasemde mekonium kan jou baba se lugweg gedeeltelik of heeltemal versper sodat hy nie genoeg suurstof inkry nie. Dit veroorsaak 'n toestand wat mekoniumaspirasie-sindroom (MAS) genoem word.
'n Fetus se longe is normaalweg met 'n spesiale longvog gevul eerder as met vrugwater, verduidelik die Paarlse pediater dr. H.P. van der Merwe. Maar as hy 'n stressituasie ervaar, kan hy moontlik snak en van die besmette vrugwater inasem. Dit kan jou baba se longweefsel irriteer, die lugweg versper, infeksie veroorsaak en selfs veroorsaak dat die longe ophou uitsit. Hoe meer mekonium 'n baba inkry, hoe ernstiger is dié toestand gewoonlik.
Volgens H.P. bevat die vrugwater in sowat 27 persent van swangerskappe mekonium en ná 41 weke van swangerskap kan sowat 5 persent van fetusse MAS opdoen. Dit kan dus help om te lang swangerskappe te voorkom. Babas wat stres in die baarmoeder ervaar is ook meer geneig om mekoniumbevlekte vrugwater te sluk. Stres kan veroorsaak word deur 'n infeksie, 'n ma wat rook of hoë bloeddruk het, komplikasies tydens geboorte, 'n uitgerekte geboorteproses en 'n swangerskap wat te lank duur.









