Feite oor endometriose

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Die pyn van endometriose is uitputtend; fisiek en geestelik. Dit verwoes jou lewe, want jy kan nie werk nie, kan nie studeer nie, kan nie 'n verhouding geniet nie. Navorsers reken een uit 10 vroue ly aan endometriose, 'n chroniese siekte wat vroue in hul vrugbare jare aantas. Tog weet die meeste van ons min van die siekte.

Wat is endometriose?

Dis 'n chroniese siekte waar weefsel wat soortgelyk is aan die binneste voering van die baarmoeder, elders in die liggaam voorkom. Dié weefsel vorm letsels, meestal op die eierstokke en ander organe in die bekken.

Die weefsel reageer op 'n vrou se veranderende hormoonvlakke tydens haar menstruele siklus en groei. Dit lei tot ontsteking, die vorming van littekens en pyn. Die endometriose-letsels kan ook begin kleef en organe in die bekken as't ware aan mekaar vasplak, en kan ook eierstoksiste tot gevolg hê, wat groot en pynlik is.

Wat is die simptome?

Die hoofsimptome is chroniese bekkenpyn, pynlike maandstondes en pyn tydens seks. Ander simptome is moegheid, pynlike ontlasting in die maandstondetyd en laerugpyn. Die graad van die pyn verskil van lyer tot lyer. Sommiges het konstant pyn, ander slegs tydens menstruasie.

Hoekom kan dit tussen 8 en 10 jaar duur om gediagnoseer te word?

Baie vroue weet nie van die siekte nie en omdat van die simptome ook met ander toestande ooreenstem, stap 'n mens 'n lang pad na 'n diagnose toe. Daar is nie 'n eenvoudige toets wat gedoen kan word om vas te stel of jy daaraan ly nie.

Fisieke ondersoeke en skanderings word ingespan, maar om werklik seker te wees, is dit nodig dat die dokter 'n laparoskopiese ondersoek uitvoer - dit is wanneer 'n kamera in 'n dun buis in die buik gevoer word, gewoonlik deur die naeltjie. Die chirurg kan die organe bekyk en klein stukkies weefsel neem om vir endometriose te toets.

Raak dit vrugbaarheid?

Endometriose tas 30 tot 50 persent van lyers se vrugbaarheid aan en word dikwels eers gediagnoseer wanneer 'n vrou 'n vrugbaarheidspesialis raadpleeg omdat sy swanger wil raak.

Wie kry dit?

Jy is in 'n hoër risikogroep as daar endometriose in die familie is, as jy vroeg begin menstrueer het of swaar menstrueer. Vroue wat die Pil drink en vroue met 'n lae gewig is weer minder geneig om dit te kry.

En die behandeling?

Daar is nie 'n permanente kuur nie. Behandeling verskil van persoon tot persoon - 'n mens bestuur eerder die toestand. Die doel van behandeling is om pyn te verminder, om die groei van die weefsel te vertraag, om te probeer keer dat die toestand ná behandeling terugkeer, en om 'n vrou wat swanger wil raak, se vrugbaarheid te verhoog. Die letsels kan in 'n operasie verwyder word, maar keer soms terug.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

CTA