FERTILITEIT | Probeer julle al?

Getty Images
Getty Images

Die definisie

'n Vrou word as onvrugbaar beskou as sy nie swanger geword het nie ná 'n jaar van seks sonder voorbehoeding. Ná die ouderdom van 35 word selfs aanbeveel dat jy hulp soek as jy nie binne ses maande swanger is nie. As jy 'n geskiedenis het van ongereelde, pynlike of abnormale maandstondes, bekkeninfeksies, operasies of pynlike seksuele omgang, moet jy vroeër hulp soek.

Die ouderdom

Die ideale tyd vir ons liggaam om swanger te word is tussen 18 en 24 jaar oud. Ouderdom is een van die grootste faktore in vroulike onvrugbaarheid. Namate 'n vrou ouer word, neem die gehalte en doeltreffendheid van haar eiertjies af. Daarby word haar kans ál kleiner om swanger te word en 'n voltermynswangerskap te geniet.

Vroue jonger as 35 wat hulle tot in vitro-bevrugting wend, het 'n kans van 31 persent om 'n baba in die lewe te bring.

Ná 42 daal dié syfer tot 'n skrale 5 persent.

Die statistiek

Een uit elke ses Suid-Afrikaanse vroue wat op die oomblik swanger probeer raak, sukkel.

Die natuur

Daar ís baie wat jy kan doen om jou vrugbaarheid 'n natuurlike hupstoot te gee, sê afgetrede fertiliteitspesialis dr Merwyn Jacobson.

"Jou dieet, fiksheid en oorkoepelende gesondheid het 'n reuse-invloed op jou vrugbaarheid.

" 'n Gebalanseerde dieet help jou om 'n gesonde gewig te handhaaf en help ook om die hormone te reguleer wat jou voortplantingstelsel voed.

"Matige, gereelde oefening is soos natuurlike fertiliteitsbehandeling. Dit help jou om 'n gesonde liggaamsmassaindeks te handhaaf, verbeter jou bloedsomloop en verwyder gifstowwe uit jou liggaam."

Die oorsake

Dokters soek die oorsake op drie plekke: in die ovulasieproses, in die gehalte van die sperm en langs die paadjie wat die eier en sperm moet loop om bymekaar te kom. Enigiets wat een van dié drie beïnvloed kan jou vrugbaarheid aantas, sê Merwyn.

Leefstyl speel ook 'n rol, maar dit verskil van mens tot mens.

Rook beïnvloed vroue meer as mans. Alkohol en dwelms tas mans se vrugbaarheid weer meer as vroue s'n aan.

Kafeïen het 'n slegte invloed op 'n vrou se vrugbaarheid en alkohol kan 'n mens se vrugbaarheid met tot 50 persent laat afneem. Selfs net twee eenhede per dag het 'n invloed.

'n Swak dieet of gewig wat te vinnig toe- of afneem, kan ook 'n rol speel.

Swak persoonlike higiëne en blootstelling aan gifstowwe of bestraling by die werk is nog faktore om in gedagte te hou.

As 'n man in sy puberteit pampoentjies gehad het, sy testikels beseer het of 'n operasie by sy geslagsdele gehad het, beveel dokters 'n semen-ontleding aan.

Infertiliteit raak 'n paartjie as geheel en julle moet dit ook so hanteer. As julle behandeling saam aanpak, kan julle mekaar ook emosioneel beter ondersteun.

Is dit ek of jy?

Huidige statistiek dui aan dat 40% van gevalle 'n vroulike oorsaak het, en 40% manlik. In 20% van gevalle is dit 'n gekombineerde probleem (beide het 'n kwessie). Saskia Williams, hoof van The Infertility Awareness Association of South Africa (IFAASA), sê infertiliteit moet as 'n paartjie se gedeelde probleem beskou word. Dis 'n diagnose wat saam-saam as paartjie hanteer moet word. Julle probeer mos saam!

Bron: Vitalab Fertility Clinic - drs. Jacobson, Gobetz en Volschenk, spesialiste in voortplantingsgeneeskunde

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

CTA