Jou baba neem die lepeltjie in sy hand om hom self te voer, bring dit na sy gesig … en sjoef! Daar beland die pap oor sy hare en in sy oor. Hy het so hard probeer, so vreeslik gekonsentreer, maar duidelik is sy motoriese vaardighede nog nie so ontwikkel dat hy die lepeltjie presies na sy mond kan bring waar dit behoort te wees nie.
Net 'n paar maande later sit hy op die vloer en speel en skielik tel hy 'n ryskorreltjie perfek tussen sy duim en voorvinger op en hou dit triomfantelik omhoog! Binne net 'n paar weke het sy motoriese vaardighede verstommend verbeter en het hy een van die grootste mylpale in sy lewe bereik. Dis merkwaardige ontwikkeling.
In elke kind is 'n "meesterplan" ingebou wat hom sekere mylpale in 'n sekere volgorde laat bereik. Volg ons gids en geniet elkeen van jou kleinding se mylpale. Onthou egter dat sekere kinders meer "motorgedrewe" en aktiewer as ander is en dus sekere dinge dalk vinniger sal beproef, terwyl ander versigtiger is en tyd nodig het om hul vaardighede te oefen. Dis ook belangrik dat jy let op sowel groot as fyn motoriese vaardighede.
0-6 MAANDE
In die eerste paar weke is jou baba se bewegings hoofsaaklik nog reflekse. So sal hy sy ruggie agteroor gooi wanneer hy skrik. Hy kan nog nie sy nek beheer of dit oplig wanneer hy lê nie.
Teen die einde van die eerste maand kan hy sy koppie 'n paar sentimeter oplig wanneer hy op sy magie lê. Hy kan ook sy koppie soms van kant tot kant beweeg, maar lê hoofsaaklik nog met sy een wangetjie op die matras. Hy sal begin probeer om na die kant te draai wanneer hy op sy rug lê.
Die arms en bene raak nou aktief en hy sal met sy beentjies begin skop en sy arms rondswaai. Hy kan nog nie sy hande beheer nie, maar sal wel sy vuisie na sy mond kan bring. Aan die einde van die tweede maand is daar beter nekbeheer en sal jy nie meer sy nekkie so erg hoef te stut wanneer jy hom optel nie.
Hy kan sy vingers om 'n klein voorwerp vou wanneer dit in sy palm geplaas word en dit na sy gesig beweeg, maar kan nog nie akkuraat na dinge uitreik en dit vasgryp nie. Teen die einde van maand drie begin hy sy kop en nek ál meer beweeg en skopbewegings word sterker. Hy begin ook sy lyfie ál meer aktief beweeg.
Hy begin uitreik na voorwerpe naby hom en hou 'n speelding stewig vas wanneer dit in sy hand geplaas word. Teen die einde van maand vier kan hy met steun regop sit en op sy eie van kant tot kant draai. Hy trek hom met sy hande rond - jy sal agterkom hy beweeg gedurig in sy bedjie rond. Hy kan nou ook sy kop in alle rigtings draai. Sy grypbewegings is nie meer reflekse nie.
Hy kan klein speelgoed rondswaai en met sy hande op die water in die bad begin klap. Teen maand vyf sal hy sy voetjies teen dinge begin druk, soos teen die reling van die kot. Hy kan beweeg deur te rol en sy liggaam te beweeg. Hy kan nou meer akkuraat na dinge gryp en dit vasvang. Sy greep is ferm en jy sal moeilik dinge uit daardie handjie wikkel as hy dit eers beetgekry het.
Maand ses is 'n taamlike groot mylpaal - hy begin nou op sy eie sit. Hy kan sy kop, bors en skouers van die grond af oplig en sal pogings aanwend om te begin kruip. Hy rol aktief rond. Hy verplaas nou 'n voorwerp van een hand na die ander en sal probeer om hom self te voer. Hy begin gryp na die bottel of lepeltjie wanneer hy gevoer word.
Wat jy kan doen
* Plaas jou kind gereeld op sy magie. Hy sal dalk aanvanklik protesteer; doen dit dus eers net vir kort rukkies. Dis egter noodsaaklik dat jy dit vir langer tye begin doen namate hy ouer word. Onthou egter dat 'n baba altyd op sy rug moet slaap.
* Hou interessante voorwerpe na hom uit - mettertyd sal hy daarna begin gryp. Plaas dit ook in sy handjies.
* Wanneer hy 'n paar maande oud is, kan jy helderkleurige speelgoed voor hom neersit terwyl hy op sy magie lê sodat hy daarna kan reik.
* Wys hom hoe om met sy hande met die water in die bad te speel.
7-12 MAANDE
Teen maand sewe begin jou baba sy een knietjie ál meer in die rigting van sy magie beweeg om te probeer kruip. Hy is 'n rollertjie van formaat en kan sy voete na sy mond toe bring. Hy begin nou meer aktief met speelgoed speel deur dit te skud en teen mekaar te stamp. Hy kan ook aan speelgoed trek en laat val dit nie meer dikwels nie.
Hy begin meer akkuraat raak wanneer hy hom self met sy vingers probeer voer. Hy begin ook nou die knypbeweging met sy duim en voorvinger oefen. Maand agt is gewoonlik die tyd wanneer kinders begin kruip. Hy sal ook probeer om hom op te trek teen 'n bank of stoel. Hy kan gewoonlik teen die einde van hierdie maand vorentoe en agtertoe kruip.
Hy kan nou sy hand met opset oop- en toemaak en gebruik die knypgreep taamlik akkuraat. Teen maand nege kan hy omdraai terwyl hy kruip. Hy sal ook die trappe wil aandurf en met jou hulp loopbewegings maak. Hy kan hom self dinge soos ertjies voer en 'n toring van twee blokkies bou.
Op maand 10 is trappe klim die inding, maar hy sal waarskynlik net tot op die eerste trap en terug vorder. Hy kan hom met gemak uit 'n sittende posisie optrek en met tafels langs loop. Wat fyn motoriese vaardighede betref, sal hy probeer om twee blokkies met een hand op te tel en graag in laaie krap. Hy kan handjies klap.
Teen maand 11 kan hy afbuk om iets van die vloer af op te tel terwyl hy met een hand aan 'n tafel vashou. Hy kan bokse se deksels afhaal en verfyn sy koördinasie tussen duim en voorvinger. Hy begin die blaaie van boeke omblaai en pas dinge soos bakkies van verskillende groottes inmekaar. Op 12 maande begin die meeste kinders onafhanklike treetjies gee, maar sommige kinders kan dalk eers teen 15 maande begin loop.
Hy raak nou ál meer vol selfvertroue wanneer hy die trappe aandurf en kan 'n waentjie stoot. Hy hou daarvan om water van een houer na 'n ander te giet en kan ook 'n lepeltjie beter gebruik. Hy kan eenvoudige krabbels op papier maak.
Gee jou kind baie ruimte om te ontdek, maar onthou om die omgewing veilig te hou.
Wat jy kan doen
* Gee jou kind baie ruimte om te ontdek, maar onthou om die omgewing veilig te hou.
* Gee vir jou kleinding dinge soos bakkies met 'n bietjie water, blokkies om mee te bou, lepels om teen mekaar te slaan en dik kryte om mee te krabbel.
* Laat hy met iets soos ryskorrels speel wat hy met sy duim en voorvinger kan optel en laat hy geld in 'n spaarbussie probeer gooi.












