Ouerskap

Jou keisersnee-blitsgids

Getty Images
Getty Images

As jy 'n keisersnee beplan, weet jy miskien wanneer jy jou baba gaan ontmoet, maar die geboorte self kan steeds 'n bietjie skrikwekkend wees. Hier is wat jy moet weet.

1. Voor die tyd

Jy moet minstens ses uur voor jou geskeduleerde keisersnee kos en vloeistof vermy. Onthou ook om jou dokter te vra watter van jou gereelde medisyne jy daardie dag mag drink en wat jy moet oorslaan.

Jy moet minstens twee uur voor die geskeduleerde tyd by die hospitaal opdaag. Probeer om vroeg daar te wees want daar is baie papierwerk terwyl jy eintlik op die geboorte wil fokus. As jy kan, doen al die papierwerk voor die tyd aanlyn. Maak ook seker dat jy lank voor die geboorte al 'n magtigingsnommer by jou mediese fonds kry.

2. By die hospitaal

Wanneer jy in die hospitaal opgeneem is, sal jy na die kraamsaal geneem word waar personeel jou bed sal aanwys. Jy sal dan 'n kans gegun word om uit te pak.

'n Verpleegster sal jou bloeddruk en hartklop kom monitor en jy sal verdere toelatingsvorms invul. Hierdie vorms is 'n formaliteit en handel oor jou gesondheid en narkosegeskiedenis.

As jy nie reeds by die huis geskeer het nie, sal verpleegpersoneel jou privaat dele kom skeer - darem nie alles af nie; net so bietjie bolangs. Jy sal ook teen hierdie tyd 'n hospitaaljurk aantrek (sonder onderklere).

Voor jy die spinale narkose kan ontvang, moet 'n binneaarse drup toegedien word. Dit sal in die kraamsaal of in die teater plaasvind. Vra dat dit in jou nie-dominerende hand gebeur, soos jou linkerhand as jy regs is en andersom. Dit maak dit baie makliker om vir jou baba te sorg as jou beste hand vry is.

Jy kan vra om te sien hoe jou baba gebore word. 'n Spieël kan gehang word of jy kan effens orent sit.

3. Teater toe!

Sowat 10 minute voor jou geskeduleerde tyd sal jy na die teater se wagkamer gestoot word. Jy sal dan die teater ingestoot word. Jou maat sal toegelaat word en sal ook chirurgiese oorklere moet aantrek.

Die narkotiseur sal jou vra om op die teaterbed te sit terwyl jou rug met 'n koue ontsmettingsdepper skoongemaak word. Die narkotiseur sal die verdowing toedien.

Jy sal baie stil moet sit met jou onderrug na die narkotiseur gebuig. Dit is nie altyd maklik om só te sit met 'n groot boep nie, daarom kan jy teen 'n verpleegster of die assistent leun terwyl die naald in jou rug gesteek word. Dis regtig nie baie seer nie.

Dit sal omtrent 10 tot 15 minute duur voor die verdowing volledig werk, hoewel jy sommer onmiddellik sal kan voel dat iets aan die verander is.

'n Kateter word dan aan jou blaas gekoppel nadat die verdowing toegedien is. Teen hierdie tyd behoort die verdowing al die onderste deel van jou maag lam te laat voel sodat die insit van die kateter nie seer is nie. Jy sal moontlik beweging, druk en 'n tinteling voel - dit is normaal.

4. Die operasie

Jou maag sal met 'n ontsmettingsoplossing gewas word en 'n steriele gordyn sal tussen jou en jou maag hang om dié deel skoon en beskermd te hou.

Jy sal nie sommer die sny wat jou ginekoloog maak, sien nie omdat jou maag en die gordyn jou sig sal versper. Jy sal moontlik drukking voel terwyl die ginekoloog op jou maag druk om die sny te maak. Jy sal geen pyn voel nie.

Die meeste snitte is 'n Pfannenstiehl-snit (bikinisnit) heel onder op jou maag sowat drie sentimeter bo jou pubisbeen. Dit genees makliker en is minder seer terwyl dit genees as ander snitte.

Dit duur sowat vyf minute om deur die lae vel en vet te sny en die spiere uitmekaar te trek om by jou baarmoeder uit te kom. Jou maagspiere word nie gesny, soos sommige mense steeds dink nie; die regter- en linkermaagspiere word net weg van mekaar getrek. Wanneer jou dokter jou maagspiere ooptrek, sal jy moontlik 'n getrek en -rek voel.

Enige bloeding sal gekeer word deur die bloeiende bloedvate toe te brand - dit kan baie vreemd en onaangenaam ruik. Wees dus voorbereid!

Wanneer die sny gemaak is, sal jou water breek. Jy sal egter geen pyn voel nie en net hoor hoe die vloeistof uitgesuig word.

Jou narkotiseur sal deurentyd met jou praat om te hoor of jy naar is. Dis nogal tipies. Praat dadelik as dit die geval is, sodat jy medikasie kan kry.

5. Die geboorte

Jou baba sal dan uitgetel word, soms met die hulp van tange en terwyl die assistent of narkotiseur op jou baarmoeder druk. Jy kan dalk 'n getrek of drukking voel.

Jou man sal moontlik kan sien hoe dit gebeur, en soms kan jy self in 'n spieël kyk of vra dat die personeel jou help om effens te sit sodat jy kan sien. As jy nie wil sien nie, is dit natuurlik ook reg so.

Wanneer jou baba pas gebore is, sal haar neus en mond uitgesuig word om enige vrugwater uit haar lugweg te verwyder. Haar naelstring sal toegeklamp en gesny word. As julle stamselle berg, sal dit dokter eers die bloed in die regte houer versamel.

Afhangende van haar gesondheid, sal sy óf op jou bors geplaas word, óf na 'n stasie in die teater geneem word. Die pediater sal 'n Apgar-toets uitvoer om te kyk hoe goed sy in haar nuwe omgewing aanpas en sorg dat jou baba goed asemhaal. Laat jou maat saam met die pediater gaan.

6. En wat van ma?

Terwyl jou baba ondersoek word, sal jy oksitosien deur jou binneaarse drup ontvang. Dit sal jou baarmoeder help saamtrek sodat jou dokter die plasenta kan verwyder. Dit kan jou moontlik 'n kopseer gee en veroorsaak dat jy sweet, maar dié newe-effekte sal vinnig verdwyn.

Jou dokter sal nou 'n roetine- ondersoek van jou voortplantingsorgane doen voor hy jou sny toewerk. Jou sny word laag vir laag toegewerk voor die wond verbind word. Dis pynloos en duur gewoonlik 20 tot 30 minute. Baie ma's hou in hierdie tyd hul baba vas en laat haar vir die eerste keer vassuig om te borsvoed.

Wanneer jy klaar toegewerk is, sal jy na die herstelkamer geneem word om gemonitor te word en daarna sal jy teruggaan kraamsaal toe. Die narkose sal begin uitwerk, maar dit sal vier tot ses uur duur voor jy jou bene weer behoorlik kan beweeg en voel.

Jy behoort nie hewige pyn te voel nie, want pynmedikasie word daar en dan toegedien. Die kateter sal veel later - moontlik eers die volgende dag - verwyder word.

Die meeste hospitale sal toelaat dat jy jou baba in die herstelkamer vashou as sy nie mediese aandag nodig het nie. Dit is dus die ideale tyd om vel-tot-vel-kontak met jou baba toe te pas en haar 'n bietjie te leer ken, of te probeer voed as jy dit nie reeds gedoen het nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM