Die ma van 'n 12-jarige meisie wat permanente mediese sorg moet kry, het haar dogter die afgelope twee jaar slegs een keer gesien nadat die departement van gesondheid glo 'n skikkingsaanbod, wat weens beweerde mediese nalatigheid ter tafel gelê is, teruggetrek het.
Gcobisa Ngalo het op 13 Oktober 2011 in die Cecilia Makiwane-hospitaal in Mdantsane aan Lwavela die lewe geskenk.

Staatsdokters het geweier dat 'n keisersnee toegestaan word omdat hulle van mening was dat Ngalo gesond genoeg was om natuurlik te kraam.
Lwavela het stuiptrekkings gekry weens te min suurstof en serebrale gestremdheid is by haar gediagnoseer.
Sy het bykans 24 uur versorging per dag nodig.
Haar toestand het in 2021 vererger toe sy 'n operasie in die Frere-hospitaal in Oos-Londen ondergaan het om 'n voedingsbuis te kry.
Haar wond het tot vandag toe nie herstel nie en sy kry nou permanente sorg in die Life Esidimeni-sorgsentrum in Gqeberha.
Die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement het ná jare lange onderhandelinge met Ngalo eindelik in 2022 erken dat medici nalatig was tydens Lwavela se geboorte en het aangebied om buite die hof te skik.
Die skikkingsaanbod se besonderhede is nie bekend nie.
Ten tyde van die onderhandelinge het die regering vir Ngalo se verblyf in 'n gastehuis in Gqeberha betaal sodat sy gereeld haar dogter kon besoek.
Toe Ngalo egter met 'n vriend, wat as Engelse tolk moes dien, by die onderhandelinge opdaag, het die departement blykbaar besluit om die aanbod terug te trek.
Die familie voer aan dit was omdat die vriend ook 'n regsverteenwoordiger is.
"Sy is beveel om die huisvesting te verlaat wat vir haar gereël is en het nou geen manier om haar dogter te besoek nie," sê 'n familiewoordvoerder.
Ngalo woon in Tshabo naby Oos-Londen, sowat 300 km van Gqeberha, en kon Lwavela nog net een keer besoek sedert die skikkingsonderhandelinge platgeval het omdat sy nie reis- en verblyfkoste kan betaal nie.
Madeleine Hicklin, 'n DA-LP wat in die gesondheidskomitee dien, het Ngalo se verhaal onder Rapport se aandag gebring.
Hicklin het gesê dat selfs dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, al oor die "hartseersituasie" ingelig is.
Sy eis dat die regering die skikkingsaanbod voltrek en verseker dat behoorlike mediese sorg aan Lwavela verskaf word in 'n mediese sentrum wat binne 'n billike afstand van haar ma se woonplek geleë is.
Die Oos-Kaapse departement van gesondheid het geweier om kommentaar te lewer.
In Desember verlede jaar is onthul dat dié departement die afgelope agt jaar R3,7 miljard weens mediese nalatigheid moes uitbetaal.

















