Praksie gaan oor ons vermoë om uit te werk hoe om ons hande en die res van ons liggaam te gebruik om byvoorbeeld met 'n speelding te speel, 'n mes en vurk te gebruik of jou mond, kake en tong só te vorm dat dit 'n herkenbare klank maak.
Apraksie het te doen met die onvermoë om sensoriese en groot en fyn motoriese take te kan uitdink, beplan en uitvoer.
Terapeute en ander kenners verwys soms ook na die woord dispraksie wanneer hulle eintlik apraksie bedoel. Apraksie verwys na die afwesigheid van die vermoë om take te beplan en uit te voer, terwyl dispraksie net na ‘n effens ligter vorm van die toestand verwys, verduidelik Marli Smit, 'n arbeidsterapeut van Bloemfontein.
Hoekom ontwikkel kinders motoriese dispraksie?
Dit is nie altyd duidelik hoekom dit gebeur nie. Breinbeserings en genetiese of metaboliese afwykings is van die moontlike oorsake. Sommige kenners meen dit kan ontstaan omdat sekere selle nie na behore ontwikkel het toe die kind nog in die baarmoeder was nie. Suurstoftekort tydens geboorte word ook soms aangedui as 'n moontlike oorsaak.
Die behandeling
Hoewel die probleme wat met motoriese dispraksie gepaardgaan soms self regkom, sal dit baie langer duur en nie naastenby so doeltreffend wees nie as die kind nie terapie kry nie. Hoe gereeld en vir hoe lank 'n kind met dispraksie arbeidsterapie moet kry, hang af van die graad van sy dispraksie.
Sommige kenners beveel ook aan dat ander professionele mense soos sielkundiges en spesialis-onderwysers betrek word om die kind te help met motoriese beplanning.
Jy kan egter self baie doen om jou kind te help. Hier is 'n paar wenke:
- Moet nooit aanvaar jou kind weet wat van hom verwag word nie.
- Maak dit altyd duidelik wat die doelwit van 'n aktiwiteit is.
- Pleks daarvan om vir jou kind te sê wat om volgende te doen, kan jy hom wys hoe om dit te doen. As hy sy voet op die volgende dwarslat van die klimraam moet sit, demonstreer dit vir hom.
- Prys hom oor enige poging wat hy aanwend om iets te doen en nie net oor 'n geslaagde eindresultaat nie.
- Gee hom baie tyd om 'n taak uit te voer.
- Moenie net motoriese vaardighede wat hy probeer vermy oefen nie - doen ook dié waarvan hy hou en wat hy meestal regkry.
WENK
Leer jou dispraktiese kind dat die etiket die agterkant van 'n kledingstuk aandui sodat hy voor en agter makliker kan identifiseer.
Wat is motoriese apraksie of dispraksie?
Voor enige liggaamlike aksie kan plaasvind, moet die brein eers 'n motoriese plan vir daardie aksie opstel. Hierna moet die plan uitgevoer word deur presies die regte spiere op presies die regte manier te gebruik.
As dit nie gebeur nie, is dit óf omdat die brein nie die boodskap (wat hy van die sintuie ontvang het) reg verstaan nie, óf daar is iewers 'n onderbreking wanneer die plan uitgevoer moet word.
Kinders met motoriese dispraksie kom dikwels lomp voor. Hulle sukkel om dinge te doen wat kinders normaalweg doen soos wip, spring en klim.
Hulle het gewoonlik ook 'n agterstand met fyn motoriese bewegings soos om klein voorwerpe op te tel, in te kleur en te skryf.
Volgens Marli sukkel kinders met motoriese apraksie dikwels om dinge te doen wat outomaties behoort te gebeur. Hulle sukkel egter nie met aangeleerde bewegings soos om 'n stersprong uit te voer nie, maar sodra iets nuuts gedoen moet word, kan die liggaam dit nie regkry nie.
Motoriese apraksie loop dikwels hand aan hand met verbale apraksie (spraak-, taal- en artikulasieprobleme en -agterstande), maar nie alle kinders met motoriese apraksie het verbale apraksie ook nie.
Dispraksie tas mense op verskillende maniere aan en in verskillende fases van hul ontwikkeling.
Sommige kinders met motoriese dispraksie kan byvoorbeeld een dag 'n spesifieke motoriese taak uitvoer, maar die volgende dag glad nie.
Wees so op die uitkyk vir motoriese dispraksie
Om dispraksie te diagnoseer, kyk kundiges gewoonlik eerder na die dinge wat 'n kind nié doen nie as die dinge wat hy wel kan doen. Kinders met motoriese apraksie of dispraksie sukkel gewoonlik om ...
- aan te pas in nuwe, onbekende situasies,
- aan te pas by veranderinge in hul daaglikse roetine,
- reëls te leer,
- nuwe vaardighede baas te raak (dit neem hulle byvoorbeeld langer om te leer spring, knip, aantrek, skryf en met 'n mes en vurk te eet as ander kinders van hul ouderdom),
- met 'n beweging te begin,
- vinnig te reageer,
- te ontleed en beplan wat dit gaan verg om 'n sekere taak te kan uitvoer,
- gereed te maak vir en oor te gaan na 'n volgende stap in 'n spesifieke taak,
- 'n taak onder druk uit te voer, en
- meer as een ding op 'n slag te doen.
Het jy geweet?
In Amerika en Europa word dispraksie ontwikkelingskoördinasie-steurnis genoem.
Word dit beter?
'n Kind met motoriese dispraksie kan dalk vir die res van sy lewe hierdie hindernis hê, maar die invloed daarvan op sy lewe neem gewoonlik baie af namate hy ouer word.
Die rede is eenvoudig: Motoriese beplanning is net nodig wanneer nuwe vaardighede aangeleer moet word. Die impak van motoriese dispraksie is dus baie groot op voorskoolse en laerskool-kinders omdat hulle geweldig baie nuwe vaardighede in 'n baie kort rukkie moet bemeester.
Ander simptome
Ongekoördineerde bewegings is volgens kenners een van die algemeenste simptome waaroor ouers vrae het.
Kinders met dispraksie het dikwels mylpaal-agterstande - hulle sal byvoorbeeld nie kan spring wanneer ander kinders van hul ouderdom dié motoriese vaardigheid al onder die knie het nie. Volgens die webtuiste van die Britse vereniging van dispraksie is dit 'n waarskuwingsteken as babas teen agt maande nog nie op hul eie kan sit nie.
Die vereniging meen ook party babas met dispraksie verkies dit om op hul sitvlak te skuifel pleks daarvan om te kruip en dan te begin loop. Dit kan ook vir ouer kinders met motoriese dispraksie moeilik wees om trappe te klim of self aan te trek. Daarbenewens kan hul spraak ook onderontwikkel wees.
Nog 'n simptoom van dispraksie wat in die jare tussen drie en vyf kan begin kop uitsteek, is lompheid. 'n Kind wat gedurig in voorwerpe vasloop en val, of kinders wat hul arms langs hul sye klap wanneer hulle hardloop, is dikwels disprakties. Kinders in hierdie ontwikkelingsfase wat dalk dispraksie het, kan ook sukkel om driewiel te ry en het soms nie 'n begrip van gevaar nie - hulle sal byvoorbeeld maklik van 'n te hoë muurtjie af spring.
Dié kinders verkies dit soms ook om met hul hande te eet en vermy dit om legkaarte of met blokkies te bou. Hulle hou dikwels nie van verbeeldingspel nie en sukkel om te besluit of hulle links- of regshandig is.
Teen die tyd dat 'n kind met dispraksie skool toe gaan, sal take soos aantrek en skoenveters vasmaak vir hulle baie moeilik en selfs ondoenbaar wees. Hulle het dikwels 'n kort aandagspan en sukkel om 'n klomp opdragte te onthou en te volg. 'n Dispraktiese kind is dikwels skaam, angstig en selfs moeg, juis omdat hy so sukkel om motoriese take uit te voer.
Nie een van die simptome hierbo kan egter in isolasie beskou word nie. Raadpleeg 'n arbeidsterapeut as jy enigsins bekommerd is oor jou kind se vermoë om motoriese take te beplan en uit te voer.




















