Ouerskap

KENNER | Peuter wil niks eet

Getty Images
Getty Images

VRAAG:My tweejarige is nie gek oor eet nie, maar het altyd darem aan minstens een kossoort gepeusel wat ek voorsit. Hy eet egter die laaste ruk niks. Hoe hanteer ek sy eetstaking?

ANEL KIRSTEN ANTWOORD: My eerste brokkie raad is: Wees geduldig! Baie kinders gaan deur 'n fase waarin hulle etes weier. Dit is veral tipies tussen 18 en 36 maande oud en dan maak dit gewoonlik deel van hul "onafhanklikwording" uit.

Maak seker jou kind kry 'n maksimum van 500 ml melk per dag in (die ideale hoeveelheid is 380 ml) sodat aan sy basiese voedingsbehoeftes voldoen word. Moenie die fout maak om sy melk meer te maak omdat hy swak eet nie - meer as 500 ml melk per dag sal sy magie vol maak en dan gaan hy in elk geval nie wil eet nie.

Moet nooit kyk na wat per dag geëet word nie - wat hy in die loop van 'n week eet, is belangriker. Kinders se eetlus en kosinname wissel van dag tot dag. Kyk na wat hy gemiddeld in 'n week inkry en of dit genoeg is. Hou aan om hom aan 'n groot verskeidenheid kosse bloot te stel.

Hou aan om dit met etenstyd voor te sit, selfs al eet hy dit nie. Die herhaling sal hom help om die kos te leer ken sodat hy later gemaklik daarmee voel en dit nog later hopelik begin aanvaar en eet.

Moet hom nooit dwing om te eet nie, al voel jy soms mismoedig. Moenie etenstyd te lank uitrek nie; beperk dit tot 30 minute om te keer dat hy slegte assosiasies met kos en etes begin vorm.

Neem die kos weg as hy dit nie eet nie. Moenie kommentaar lewer of 'n bohaai opskop nie; hy sal dit as aandag beskou. As hy wel die slag sy kos eet of 'n nuwe kossoort beproef, kan jy 'n bohaai maak en hom gelukwens. So leer hy dat hy positiewe terugvoer kry as hy sy kos eet.

Gee hom intussen maar 'n goeie multivitamien-en-mineraalaanvulling om seker te maak hy kry die nodige noodsaaklike voedingstowwe in en om voedingstekorte te voorkom.

Anel Kirsten, Kliniese dieetkundige

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM