Kleuterskool | Is my kind gereed?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Jou kleuter is vir die eerste jaar of twee deur jou, 'n dagmoeder of 'n ouma gekoester, maar jy kan sien daar's 'n gemis aan maatjies. Hoe weet jy egter of hy gereed vir 'n speelskool is?

'n Kleuter moet 'n sekere mate van verstandelike, fisieke, emosionele en sosiale selfstandigheid toon voor hy kleuterskool toe kan gaan, sê Welma Wehmeyer, 'n sielkundige van Kaapstad. Baie kenners meen twee en 'n half of drie jaar is 'n goeie ouderdom om die kleuterskool aan te durf.

Op daardie ouderdom het jou kind al sekere vaardighede bemeester, en baie skole vereis ook bepaalde vaardighede, soos dat jou kind van die doeke af moet wees. 'n Studie deur die Amerikaanse Instituut vir Kindergesondheid en Menslike Ontwikkeling het gewys kinders vaar op hul beste as hulle deur iemand versorg word wat besorg is oor hul ontwikkeling en welstand en wat hulle aan 'n verskeidenheid ouderdomsgeskikte aktiwiteite blootstel.

Baie skole wil hê jou kind moet potjievaardig wees voor hulle hom aanvaar.

As jou kind gretig is om te ontdek, nuwe dinge te leer en nie tans genoeg stimulasie kry nie, of as hy gereed is om te sosialiseer, is dit die perfekte tyd om hom skool toe te stuur.

ONTHOU

Hierdie riglyne geld kleuters wat gewoonweg ontwikkel. Kleuters met spesiale behoeftes of ontwikkelingsagterstande behoort nie van 'n kleuterskool ontneem te word nie, maar het spesiale hulp en terapeutiese insette nodig.

Dink twee keer

Kognitiewe, fisieke, sosiale en emosionele vaardighede moet eers in die veilige en ondersteunende omgewing van 'n huis of liefdevolle dagmoeder ontwikkel, sê Welma. "As kinders sommige van hierdie vaardighede nog nie bemeester het nie, moet jy die nodige ondersteuning verskaf. Julle kan 'n opvoedkundige sielkundige raadpleeg om julle te ondersteun. Gereelde kontak met die onderwyseres is ook noodsaaklik," sê sy.

Kleuters wat nog nie al die vaardighede onder die knie het nie, kan angstig in die skool voel. "So 'n kind kan vertroue in homself en in die wêreld om hom verloor. Angs en twyfel neem die plek in van vreugde en 'n behoefte aan ontdekking en verwondering. Onthou, liefdevolle versorging deur 'n geborge ouer stuur 'n geborge kind die wêreld in," sê Welma.

Maak dit makliker

  • Kleuterskole volg 'n spesifieke roetine. Begin jou kind daarvoor gereed maak deur ook elke dag 'n voorspelbare roetine te volg.
  • Neem jou kind vooraf elke dag na 'n speelgroepie of musiekgroepie sodat hy aan groepsaktiwiteite gewoond kan raak.
  • Speelskole vereis taamlike fisieke stamina. Probeer jou kind gewoond maak aan een slapie per dag, dalk net ná middagete.
  • Moedig onafhanklike spel by jou kind aan. Laat hy dalk met klei speel terwyl jy kos maak.

As jou kind nie reg is nie! Jou kind…

» … is baie huilerig in vreemde omgewings en verlaat nie jou sy as julle by mense is nie.

» … kan nie op sy eie teken of ander werkies doen nie. Jy moet altyd byderhand wees.

» … wil nie met ander maatjies speel nie.

DIS NODIG

Welma sê die volgende is tekens dat jou kind gereed vir die groot stap is.

FISIEK

  • Jou kleuter kan al die potjie gebruik en weet wanneer hy moet gaan. Hy dra dus nie meer 'n doek in die dag nie, hoewel hy nog iemand nodig het om hom by die toilet te help.
  • Hy kan hom self aantrek, hoewel iemand nog met ritssluiters en knope moet help.
  • Jou kind eet al selfstandig, al is hy nog morsig. Hy kan egter op sy eie sit en eet en uit 'n glas drink.
  • Jou kleuter moet selfstandig kan rondhardloop en ouderdomstoepaslike klim-en-klouter-apparate kan gebruik. Kognitief
  • Jou kind kan sy behoeftes kommunikeer en byvoorbeeld vir hulp vra as hy dit nodig het en sê as hy kos wil hê. Hy moet in staat wees om ongemak te kommunikeer.
  • Hy moet op 'n opdrag kan reageer.
  • Hy moet ook met ander kinders kan praat en sy eie naam ken.
  • Hy toon 'n behoefte om te ontdek en leer. Hy is nuuskierig oor wat om hom aangaan.
  • Jou kind vra vrae en vertel van eie ervarings. Hy is ook trots op wat hy kan doen.
  • Jou kind kan betekenisvol met speelgoed speel.
  • Hy moet na 'n kort storie kan luister.
  • Jou kleinding moet kan onthou wat geleer of ervaar is (geheue) en moet byvoorbeeld kan vertel van iets wat by die skool gebeur het en dalk 'n maatjie se naam onthou.

EMOSIONEEL EN SOSIAAL

  • Jou kind moet wys dat hy wil sosialiseer en graag met ander kinders wil speel. Dit is wel 'n ontwikkelingsproses en sommige kleuters speel nog op hul eie langs maatjies, en sal later leer om met die ander te speel.
  • Hoewel kleuters nog leer om hul emosies te reguleer, is dit belangrik dat hulle met die nodige ondersteuning van 'n volwassene hul emosies beheer. As jou kind byvoorbeeld seergekry het, is dit toepaslik dat hy huil, maar wanneer hy deur 'n volwassene getroos en ondersteun word, hou hy op huil en speel weer verder.
  • Jou kind kan selfstandig sonder die ouer of primêre versorger klaarkom. Hoewel kleuters gewoonlik aan die begin van 'n nuwe jaar huil wanneer hul ouers hulle aflaai omdat dit 'n vreemde omgewing is, behoort hulle met die nodige ondersteuning van 'n liefdevolle volwassene hul emosionele balans te vind en die skoolomgewing te geniet en daaraan deelneem.
Zerelda Esterhuizen

SPELETJIES VANDAG

CTA