Ouerskap

Maak reg vir jou keisersnit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty/Gallo Images
Getty/Gallo Images

Hoe werk die verdowing?

Vir elektiewe of beplande keisersneë word spinale verdowing gekies omdat dit vinnig werk en meer volledig is. Jy bly wakker en word vooraf aan 'n drup gekoppel sodat die mediese personeel binneaarse toegang het vir enige middels wat jy dalk in die loop van die keiser nodig kry.

Epidurale verdowing word meestal in normale bevallings gebruik. Soms verander die geboorteplan van 'n normale bevalling na 'n keisersnee en dis amper net in sulke gevalle dat die keiserverdowing epiduraal is. Dit duur langer voor epidu­rale verdowing werk, maar dit help ook met pynverligting ná die bevalling.

Hoe word spinale verdowing toegedien? Jou narkotiseur sal vra dat jy regop sit en jou rug krom maak. Dit maak dit vir haar makliker om tussen jou rugwerwels in te kom sodat sy 'n lang, dun naald in jou rugmurgkanaal kan plaas. Die verdowingsmiddel word daarin gespuit en jy behoort drie tot vier uur lank van jou tepels af ondertoe verdoof te wees. Moet jou egter glad nie daaroor bekommer nie - jy sal die naald nie eens voel nie. Konsentreer op jou asemhaling en fokus op jou maat. Bly rustig.

Spinale verdowing word net een keer toegedien. Sodra dit begin werk, sal jy 'n kateter kry. Jy sal niksdaarvan voel nie. Die gebruik van narkose is seldsaam en word gewoonlik net toegedien met 'n noodkeiser wanneer die ma of baba se lewe bedreig word en daar te min tyd vir ander metodes is.

Kan ek kyk?

Daar is meestal 'n spesiale gordyntjie rondom die gebied waar die teaterspan werk - hoofsaaklik om dit skoon en steriel te hou, maar ook sodat jy nie hoef te sien hoe jy oopgesny word nie. Jou man of metgesel sal waarskynlik kan kyk.

Word my hare geskeer? As dit nodig is, sal 'n verpleegsuster die hare laer af op jou maag skoon skeer. Sy sal ook jou maag met 'n antiseptiese oplossing skoonmaak.

Hoe word daar gesny?

Dokters begin met 'n klein dwarssny net bo jou pubiese haarlyn. Dan word daar óf dwars (horisontaal) of vertikaal in die baarmoeder gesny. Die dwarssny word in sowat 95 persent van gevalle gebruik. (Soms word daar op-af (vertikaal) in die baarmoeder gesny. Laasgenoemde word selde gedoen en word die klassieke snit genoem.)

Een van die redes vir die gewildheid van die dwarssny is dat die spier onderaan die baarmoeder dunner is en dus minder bloei. Dié deel van die baarmoeder genees ook vinniger. Nóg 'n voordeel is dat dit 'n natuurlike geboorte in die toekoms veiliger maak.

Ginekoloë vergroot soms die gewone dwarssny na 'n T- of J-sny. Dis seldsaam en gebeur net as die opening groter gemaak moet word omdat die baba in 'n ongewone posisie lê.

Is jou baba nou gereed om uitgehaal te word? Nog nie. Die vrugwater moet eers uitgesuig word.

Hoe lank is die sny?

'n Keisersnee is 10 tot 15 cm lank - dit is minder as die helfte van 'n liniaal se lengte. Dit is ongeveer 3 mm breed.

Hoe kom my baba bysó 'n snytjie uit?

Dokters gebruik 'n spatelagtige instrument aan die bo- of sykant van die sny om die opening groter te rek. Sponse, gaas en suiers word ook ingespan om te keer dat bloed opdam waar daar gewerk moet word. 'n Metaalspatel word gebruik om jou blaas tydens die operasie terug te druk en te beskerm.

As baba gesond is, sal die pediater haar vir jou aangee om te ontmoet en vas te hou. In sommige gevalle sal jy jou baba selfs kan voed. Koester hierdie oomblik!

Hoe lank duur dit?

Dit duur tussen vyf en 10 minute van die oomblik dat die dokter jou oopsny tot jou baba gebore word. Jou ginekoloog sal egter nog 'n bietjie tyd nodig hê om seker te maak alles is normaal vóór die sny toegewerk word.

Hoe word die plek toegewerk?

Voor die wond toegewerk word, moet jou plasenta eers verlos word. Dan begin die ginekoloog om jou weer toe te maak. Dit duur 'n rukkie want die lae wat oopgesny is, moet een vir een gesluit en die vel moet toegewerk word.

Daar word deur vyf lae vel, weefsel en spiere gesny om by jou baarmoeder uit te kom. Die sesde en laaste laag is die baarmoederwand

Dokters gebruik tradisionele steke, krammetjies of gom om die sny op jou vel toe te maak. Krammetjies en steke kan oplosbaar wees, wat beteken dit gaan self binne 'n paar weke weg, of nie-oplosbaar, wat beteken 'n dokter moet dit ná sowat 'n week uithaal.

Die sny word in die eerste week met 'n pleister toegeplak. Onthou om die dokter te vra oor littekensorg voor jy huis toe gaan.

Sal ek nog maagspiere oorhê?

Jou maagspiere word nie afgesny nie. Hulle word in die lengte af uitmekaar getrek, dus saam met die rigting van die spier se vesels.

Bly die sny lank sigbaar?

Die sny sal weldra jou normale velkleur aanneem en dunner word. Die litteken is later vir ander bykans onsigbaar tensy jy miskien graag eina-bikini's dra.

HET JY GEWEET?

Vra jou dokter of julle rustige musiek in die teater mag speel en die ligte effens kan verdof. Dit kan nie in alle gevalle werk nie, maar is beslis 'n moontlikheid.

Die pad na herstel

Mag ek bad?

Jy mag 'n dag ná die bevalling stort. Laat die water net bo-oor die snywond (wat nog toegeplak is) loop.

Hoe lank moet ek in die hospitaal bly?

Drie nagte is die norm in die meeste privaat hospitale, maar dit kan minder ook wees - afhangende van jou dokter, jou toestand en die hospitaal.

Wat gebeur wanneer jy ná 'n keiser terug in jou kamer is?

Die kateter in jou blaas word uitgehaal en die verpleegpersoneel sal jou aanmoedig om op te staan en dalk na die badkamer of stort te stap. Moet egter nie nou al sonder hulp probeer opstaan en loop nie

Hoe voel ek die eerste twee dae ná die keiser?

Baie vroue voel besonder goed die dag ná die keiser, maar effens seer op dag twee. Die rede is moontlik dat daar op dag een nog genoeg verdowingsmiddels in jou liggaam is. Teen dag twee is die pyn gewoonlik erger en voel jy moeër.

Jy sal net soos vroue wat normaal gekraam het, pyn hê wanneer jou baarmoeder saamtrek terwyl dit na sy normale grootte probeer terugkeer.

Baie vroue voel effens opgeblaas ná die keiser. Dit gebeur omdat gas ná 'n operasie dikwels in die liggaam opbou. Staan gerus op en beweeg 'n bietjie om jou spysverteringstelsel weer aan die gang te kry.

Maak ook seker jy gaan gereeld badkamer toe om te urineer - 'n vol blaas plaas onnodige druk op die sny.

Jy sal beslis doekies in jou onderklere moet dra vir die bloedvloei wat tot twee weke ná die geboorte nog kan voorkom.

Besoek die dokter my elke dag in die hospitaal?

Gedurende jou drie dae in die hospitaal sal jou dokter daagliks 'n draai kom maak om te kyk of jou wond (wat nog effe opgehewe kan wees) mooi genees.

Hoe lank gaan die sny gevoelig wees?

Dit sal ten minste die eerste twee weke taamlik gevoelig wees wanneer jy hoes, lag of nies. Drink maar die voorgeskrewe pynmiddels. Die ongemak kan tot ses weke duur en verskil van vrou tot vrou.

Gebruik 'n kussing of jou hande om die sny te ondersteun wanneer dit pyn en dra liefs lospassende onderklere.

Namate die wond begin genees, sal die vel om die sny begin jeuk.

Kan ek die sny was?

Jy kan, solank jy net die seep goed afspoel en die plek agterna mooi afdroog. Die pleister op jou sny kan maar nat word.

Waarvoor moet ek oppas?

Bel jou dokter as daar enige teken van infeksie in die snywond is. Van die algemeenste simptome is 'n warm gevoel, rooiheid, swelsel of etter wat uitkom. Pyn wat erger word, koors of 'n slegte reuk dui ook op iets ongesonds.

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM