Melk met ’n bietjie moed!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

BEGIN TYDENS SWANGERSKAP BEPLAN

Gesels met jou werkgewer en beklemtoon die voordele van borsvoeding. Borsbabas en hul ma is gesonder, wat beteken dat jy minder afwesig sal wees. Borsvoedma's is ook meer uitgerus, want hulle hoef nie snags op te staan om bottels te maak nie. Dink kreatief en beding om borsvoedingsvriendelike werkomstandighede.

Kan jy langer kraamverlof neem, al moet dit onbetaald wees? Kan jy aanvanklik van die huis af werk, al is dit net gedeeltelik? Miskien kan jy baba met 'n oppasser saamneem werk toe, of saam met jou kollegas 'n dagsorgsentrum begin as daar plek is. Reël jou kraamverlof sodat jy op 'n Woensdag of Donderdag begin werk. Jou eerste week terug sal korter en minder stresvol wees, en die naweek naby.

DIE EERSTE SES WEKE Ná GEBOORTE

Jy hoef nie nou al uit te melk nie - konsentreer eerder daarop om jou nuweling se magie vol te hou, haar te geniet en self genoeg rus te kry. Voed minstens agt keer binne 24 uur - verkieslik op aanvraag.

Melkproduksie werk op die beginsel van vraag en aanbod: Hoe meer gereeld en volledig jou borste geledig word, hoe meer melk sal jy maak. Baba behoort in hierdie sensitiewe tydperk al haar suigwerk aan jou bors te doen. Fopspene en bottels kan haar verwar as sy borsvoeding nog nie behoorlik bemeester het nie.

Wenk

Koop 'n pomp wat jy met een hand kan hanteer sodat jy byvoorbeeld deur 'n tydskrif kan blaai terwyl jy uitmelk.

WATTER BORSPOMP?

Daar is drie borspompsoorte: handpompe, kommersiële elektriese pompe (wat met batterye ook werk), en hospitaalgehalte-pompe. Laasgenoemde is duur en word gewoonlik verhuur deur hospitale, klinieksusters en laktasiekonsultante aan ma's met vroeggebore of siek babas of met melkproduksieprobleme. Die groot verskeidenheid borspompmodelle in die winkels kan oorweldigend wees.

Hier is drie riglyne:

1. KIES JOU BORSPOMP NA GELANG VAN JUL OMSTANDIGHEDE

Het jy 'n halfdag-pos of sal jou kleinding ouer as ses maande wees wanneer jy teruggaan werk toe? Indien wel, behoort 'n handpomp die wa deur die drif te kry. Sou jy egter vroeg reeds voldag moet werk, is 'n elektriese borspomp beter. 'n Dubbelpomp spaar tyd en bevorder melkproduksie.

2. MOENIE 'N TWEEDEHANDSE POMP GEBRUIK NIE

Jy kan dieselfde borspomp vir jou volgende kinders gebruik, maar moenie iemand anders s'n oorneem nie. Melk vloei soms terug in die pypies tot in onderdele wat nie gesteriliseer kan word nie, en 'n tweedehandse pomp kan dus met bakterieë of virusse besmet wees. Die uitsondering is toestelle met 'n geslote vakuumstelsel, soos hospitaalgehalte-borspompe.

3. MOENIE SUINIG WEES NIE

'n Doeltreffende borspomp is 'n belegging. Ja, dit gaan jou sak skud, maar borsvoeding spaar op die duur geld. Die koste van 'n goeie elektriese pomp is min of meer gelyk aan drie maande se hipoallergeniese blikmelk, om van doktersbesoeke en apteekrekeninge nie te praat nie.

Ná SES WEKE

Jou kleinding is nou gereed om met 'n bottel touwys gemaak te word. Verkieslik moet pa of ouma die eer hê sodat baba die bors met jou bly assosieer. Een of twee bottels borsmelk per week is voldoende vir die res van jou kraamverlof. Maar sê nou jou baba verseg om bottel te drink? Beproef die volgende wenke: Eksperimenteer met verskeie tiete.

Gebruik dié met die kleinste gaatjie: Baba moet werk vir haar kos, anders word sy dalk lui om aan die bors te drink. Bottelvoed haar in 'n ander posisie as waarin sy gewoonlik borsvoed. Laat haar byvoorbeeld regop op pa se skoot of in haar karstoeltjie sit.

Borsvoed haar eers 'n bietjie sodat sy nie te honger of gefrustreerd is nie. Bied die bottel aan wanneer sy lomerig is of sus haar terwyl julle probeer. Wees geduldig - aanhouer wen gewoonlik. Moenie paniekerig raak as sy die bottel bly weier nie; selfs klein babatjies kan uit 'n koppie leer drink.

VIER WEKE VOOR JY TERUGGAAN WERK TOE

Jy kan nou elke dag begin uitmelk, verkieslik sowat 'n uur ná jul eerste oggendvoeding. So nie, kan jy baba aan die een bors sit en die pomp aan die ander. Dis normaal om aanvanklik slegs sowat 20 ml uit te melk.

'n Borspomp stimuleer jou sakrefleks nie so doeltreffend soos 'n warm lyfie nie. Met 'n bietjie oefening sal jou uitmelksessies binnekort meer lewer. Berg jou melk in steriele bottels, sakkies, of ysbakkies met deksels. Laasgenoemde is ideaal omdat 'n mens klein hoeveelhede op 'n slag kan laat ontdooi. Borsmelk is langlewemelk!

Dit hou: agt uur teen kamertemperatuur (onder 25 grade C); 24 uur in 'n koelboks met gevriesde ysbakstene; 'n week agter in 'n yskas; twee weke in 'n yskas se vrieshokkie; drie maande in die vrieskasgedeelte van 'n kombinasie-ys-vrieskas; en ses maande in 'n kisvrieskas.

ELKE MA IS ANDERS

Moenie moedeloos of bekommerd raak omdat jy minder as jou vriendin of suster uitmelk nie. Die bergkapasiteit van vroue se borste verskil dramaties. Een ma kan dalk 'n halfliter in elke bors berg, 'n ander kwalik 80 ml.

Eersgenoemde maak nie minder melk as laasgenoemde nie, haar borste berg bloot kleiner volumes, wat beteken dat sy meer gereeld moet uitmelk om haar borste gemaklik en haar pienkvoet versadig te hou.

D-DAG

Vir baie ma's is die terugkeer werk toe traumaties. Borsvoeding troos darem: Dis bevredigend om te weet jy gee jou kind wat niemand anders kan nie. Staan vroeg genoeg op om rustig te borsvoed voor jy ry. Los 60 tot 120 ml melk vir elke voeding wat jy gaan misloop. Borsbabas drink kleiner volumes as bottelbabas.

Probeer drie uitmelksessies inpas as jy voldag werk: met oggendteetyd, oor middagete, en laatmiddag. Melk so lank uit as wat dit kos om genoeg melk vir môre te kry. Die bevrore melk tuis is jul "noodvoorraad".

Borsvoed ná werk so gou jy kan. Baie ma's gee sommer by die dagmoeder al 'n paar slukkies. Wisseling in melkproduksie is normaal. Jou voorraad sal in die loop van die dag of week waarskynlik effens kwyn. Vergoed daarvoor deur na hartelus te borsvoed wanneer julle bymekaar is. Oor naweke en met vakansies hoef jy nie uit te melk nie.

MELK Só MEER UIT

Kies 'n rustige, privaat plek. Die vrees om gesteur te word, kan jou sakrefleks onderdruk. Haal diep asem voor jy begin en laat jou spiere ontspan. Stres kan jou melkvoorraad en veral jou sakrefleks beïnvloed.

Kyk na 'n foto van baba, ruik aan haar kombers of luister na 'n opname van haar "honger-huil" om jou melk te laat vloei. Masseer jou borste voor uitmelksessies of plaas 'n warm waslap daarop.

OP MOEDVERLOOR SE VLAKTE?

Borsvoeding hoef nie alles of niks te wees nie. Elke druppel moedersmelk is goud werd, veral vir baba se immuniteit. Elke voeding ontwikkel haar gesig- en mondspiere, wat die gevaar van spraak- en ortodontiese probleme verlaag. Selfs een of twee borsvoedings per dag is gesonder as uitsluitlike bottelvoeding. Miskien maak jou werkomstandighede uitmelk moeilik, of jy sien eenvoudig nie meer daarvoor kans nie.

Oorweeg dit dan gerus om baba blikmelk te laat drink terwyl jy werk en haar saans en oor naweke te borsvoed. Hoewel jy in die eerste week of twee nog 'n bietjie by die werk sal moet uitmelk, sal jou borste gou by jul nuwe voedingspatroon aanpas. Ná ses maande hoef jou kind nie eens bedags melk te kry nie. Sy kan vaste kos eet en water drink, en borsvoed wanneer jul saam is.

Het jy geweet?

In onlangse navorsing is bevind dat borsvoeding talle langtermynvoordele vir ma's inhou. Dit verlaag jou risiko vir gewigsprobleme, vrouekankersoorte, metaboliese versteuring, diabetes en postnatale depressie.

MOETS EN MOENIES

Moenie borsmelk in die mikrogolfoond verwarm nie. Ontdooi dit in die yskas of plaas die bottel in warm water. Gebruik eersgenoemde binne 24 uur en laasgenoemde binne vier. Moet borsmelk ook nie hervries nie. Skryf die datum op elke houer en gebruik die oudste melk eerste.

WAT Sê DIE WET?

Volgens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes is jy bo en behalwe etenstyd vir ses maande ná baba se geboorte geregtig op twee halfuurlange pouses per dag om te borsvoed of uit te melk, asook 'n skoon en privaat ruimte daarvoor.

Jou werkgewer mag jou nie dwing om take te verrig wat gesondheidsrisiko's vir jou of jou kleinding inhou nie (soos om gevaarlike chemikalieë te hanteer), maar moet vir jou veilige alternatiewe werk bied solank as wat jy borsvoed.

Marie-Louise Steyn

SPELETJIES VANDAG

CTA