Jou doeksak moet liewer wyd as diep wees.
Vir die volgende twee jaar van jou baba se lewe gaan jul doekesak min of meer oral saam met julle gepiekel word. Kies dus een (of twee) met die volgende eienskappe:
- Dit moet groot genoeg wees dat álles daarin kan pas.
- Onthou, pappa gaan ook soms die sak help dra en sy manlike ego kan dalk net vasskop teen 'n skelpienk sak met blommetjies en bytjies op.
- Kies een met stewige, verstelbare bande wat jy oor jou skouer kan hang sodat jou hande los is. Deesdae is lieflike rugsakke ook beskikbaar.
- Die materiaal van die sak moet wasbaar wees; jy gaan dit nog baie moet was. Baie doekesakke het hul eie ruilmat - maak seker dié mat is ook wasbaar.
- Dis nuttig as die sak verskeie klein sakkies aan die binne- en buitekant het. So kan jy verskillende artikels op verskillende plekke bêre en selfs vuil doeke en klere eenkant hou.
- Kies 'n sak wat wyd is pleks van diep. Dis moeilik as 'n mens in die donker moet rondkrap om vinnig 'n afveedoekie raak te vat.
- Hou altyd 'n paar doeke en afveelappies in 'n aparte sakkie in jou motor vir uitstappies wat onbepland en op die nippertjie geskied.
‘Ek hou altyd gegeurde sakkies in my doekesak. As ons iewers doeke ruil waar daar nie 'n asblik naby is nie, pak ek net die doek in die sakkie tot ek dit kan weggooi.'
Sanja van der Walt, Johannesburg
Gewone uitstappie
- Minstens vyf doeke
- Boudjiesalf wat jy sommer altyd in die sak hou
- Afveedoekies of 'n nat waslap wat jy in 'n verseëlde plastieksakkie hou
- Gegeurde plastieksakkies om vuil doeke in te hou en vuil klere in te bêre
- Twee klein pakkies sneesdoekies
- Sonroom
- Een ekstra stel kleertjies en iets warms, winter en somer
- 'n Ekstra frokkie in die winter
- 'n Ekstra hemp vir jou
- As jy bottelvoed, twee tot drie gesteriliseerde bottels en mineraalwater
- 'n Houertjie met afgemete formulemelk in
- 'n Klein kombersie
- 'n Ruilmat
- Twee verskillende speeldinge
- As sy 'n fopspeen suig, 'n ekstra fopspeen en 'n sakkie waarin dit gehou word
- As sy al eet - 'n botteltjie babakos en borslappe ('n Mens kan wonderlike weggooibare borslappe koop.)
- 'n Telefoonlysie met noodnommers
- 'n Paar rand vir 'n noodgeval.
‘Ek hou altyd 'n botteltjie handreinigingsmiddel in my doekesak - dis baie gerieflik as jy jou hande moet skoonmaak ná 'n doekruiling en jy nie naby water is nie. 'n Ekstra borslap en 'n stel kleertjies is ook 'n moet. Ons gaan ook nêrens sonder 'n spoegdoek nie.'
Veronika van den Berg, Johannesburg
‘Ek het geleer om die doekesak altyd aan te vul sodra ons terug by die huis is. So is ons altyd gereed vir die volgende uitstappie, veral as ons inderhaas iewers heen moet vertrek.' Lana Serfontein, Kroonstad
Baba slaap uit
Om vir 'n baba te pak wat een nag moet oorslaap, kan 'n Groot Trek afgee. Hier is 'n paar inpakwenke:
- Die doekesak!
- Genoeg babakos vir die tyd wat julle weggaan
- Bottels en formulemelk
- Genoeg doeke vir die tyd wat julle weggaan
- Minstens twee stelle slaapklere
- Minstens twee of drie stelle klere vir die volgende dag
- Iets warms, selfs in die hartjie van die somer
- Toiletware soos seep, sjampoe, poeier en lyfroom
- Medisyne soos 'n stroop vir pyn en koors en rehidreermiddel vir as sy magie skielik kwaai begin werk
- Muskietweerder vir babas
- Sy gunsteling-knuffelbeertjie of speelding wat hom op 'n vreemde plek sal troos
- Skoene en pantoffels as hy reeds loop
‘Klein monsters van boudjiesalf, of kleiner houertjies spesifiek vir reis is ideaal vir doekesakke. Dit is ligter en neem nie baie plek op nie. Ek het ook altyd 'n organies verseëlde kospakkie in my doekesak vir daardie dae dat jy net nie naby 'n winkel is wanneer jou baba honger word nie.'
Sanet van Wyk, Pretoria
Motor-uitstappie
'n Ver rit in 'n motor kan soms beproewend wees. Hier is 'n lys goed wat jy gerus altyd in die motor kan hou.
- Afveelappies. Om die een of ander rede is kinders se gesigte áltyd vuil teen die tyd dat julle jul bestemming bereik.
- 'n Groot ou handdoek. Dit kan vir soveel verskillende doele gebruik word: 'n kussing, 'n kombers om jou kind mee toe te gooi laat in die aand, 'n opveelap vir daardie bottel wat op die sitplek uitgeloop het. Dit kan selfs oor warm karstoeltjies gedrapeer word.
- Eethappies wat nie oud word nie, soos koekies wat afsonderlik verpak is en sap in kartonboksies.
- Speelgoed
- 'n Nood-doekesak met doeke, afveedoekies, formulemelkpoeier en 'n bottel mineraalwater
- 'n Sonskerm: 'n groot lap vir die venster om die son uit jou kind se gesig te hou.
‘Ek het drie kinders en is al deur 'n hele klomp doekesakke. Ek is spyt ek het nie met my eerste kind vir my 'n duur, ordentlike sak gekoop wat sou hou nie. My eerste een was goedkoop, en so ook dié wat gevolg het. My derde kind is nou drie maande oud en ek het vasgeskop en 'n behoorlike leerdoekesak gekoop. Dit was elke sent werd - dit word maklik skoongevee en is stewig aanmekaargewerk.'
Karla Kruger, Senekal
Ekstras
- 'n Koorspen
- 'n Klein botteltjie Panado- of Calpol-stroop
- Vingerkoekies (veral vir babas wat besig is om tande te kry)
- 'n Plastiekbakkie om babapuree in te skep (as jy nie al die babakos op een slag wil opgebruik nie) en 'n babalepeltjie
- Antibakteriese handewasseep
- 'n Sagte haarborseltjie
- Lipstiffie vir jou
- 'n Plastiek-poncho om die reën weg te hou


















