Dis belangrik: Omdat babas en kleuters meer sensitief is vir medikasie as volwassenes, moet jy seker maak dat jy die aanwysings noukeurig lees van enigiets wat jy toedien. Om die verkeerde dosis te gee, of op die verkeerde tyd, kan skade aanrig.
WAT JY MOET WEET
Wees altyd seker van die soort medisyne wat jy jou baba gee, veral wanneer dit 'n oor-die-toonbank-produk is. Praat met jou dokter of apteker. Dinge wat jy kan vra, sluit in:
- Hoe gou begin die medisyne werk en vir hoe lank moet dit gebruik word?
- Is dit veilig om dit saam met ander middels te gebruik wat my baba reeds neem?
- Kan dit met kos gemeng word?
- Moet dit ná ete of op 'n leë maag gegee word?
- Moet die medisyne in die yskas gehou word?
- Is daar enige newe-effekte waarvan ek moet weet?
BESKERM JOU BABA
- Maak seker dat alle medisynes veiligheiddeksels het wat kinderbestand is.
- Leer jou kind om nie met medisyne te speel nie.
- Bêre medisyne buite bereik of in 'n toegesluite kas.
- Waarsku jou kind om nooit enigiets onbekends te sluk nie.
- Moet nooit na medikasie as lekkers verwys nie.
- Maak jou medisynekas gereeld skoon en gooi alle ongebruikte of ongewenste medikasie weg, of middels wat reeds verval het. (Wees versigtig hoe jy dit weggooi om te keer dat dit skade aan ander doen.)
WENKE VIR MEDISYNE TOEDIEN
- Kry die dosis voor die tyd gereed. Vir 'n jonger kind is 'n medisynedrupper, spuit of buksiebotteltjie die beste.
- Draai jou jonger baba veilig in 'n kombers toe en hou hom half regop.
- Mik met die spuit na die binnekant van jou baba se wang eerder as reguit in sy keel af om verstikking te voorkom.
- Kantel jou baba se kop effens terug om sluk aan te moedig.
- Druk tablette fyn of maak kapsules oop en strooi dit oor jogurt of appelmoes as die medikasie nie 'n stroop is nie.
DINGE OM TE OORWEEG
As daar enigiets oor jou baba se medisyne is wat jy nie verstaan nie, vra 'n kenner. Hou die volgende in gedagte:
- Lees die dosisaanwysings deeglik. Dit is maklik om ½ en 2 per ongeluk om te ruil.
- Sommige oor-die-toonbank-middels is in 'n gekonsentreerde vorm; maak dus seker voor jy die dosis uitmeet.
- Sommige dosisse is gegrond op gewig, of gewig en ouderdom. As jy nie jou baba se huidige gewig weet nie, klim op die skaal met baba in jou arms en trek jou eie gewig daarvan af om 'n akkurate lesing te kry.
- As die etiket sê skud voor gebruik, skud die produk deeglik om te help dat die bestanddele eweredig versprei.
- Moenie in jou kop berekenings doen of skat nie. Gebruik 'n duidelik gemerkte maatlepel of spuit eerder as 'n gewone teelepel sodat jy nie te min of te veel gee nie.
- Gee slegs ouderdomsgeskikte medisyne vir jou baba. Moet nooit 'n verminderde dosis volwasse medisyne gee nie.
- Moenie jou baba meer gee as die aanbevole dosis nie. 'n Groter dosis sal nie die werk vinniger doen nie. Dosisse is gegrond op wat veilig vir jou baba is, nie op die erns van die siekte nie.
- Moenie die boks en pakkie weggooi nie. Jy sal dalk later daarna wil verwys.
- Voltooi altyd 'n kursus antibiotika soos voorgeskryf.
- Met 'n siek baba in die huis sal jy dalk 'n bietjie verstrooid wees. Skryf neer wanneer jy wat moet gee en trek 'n streep daardeur namate die dag vorder. So sal jy nie vergeet of 'n dosis per abuis verdubbel of oorslaan nie. Jou maat kan ook sien wanneer wat toegedien is.















