Twee weke gelede het jy iets merkwaardigs gedoen - jy het die lewe geskenk aan jou kind. Tot nou was jou lewe 'n warboel van voeding, slaap, winde uitvryf en liefde gee aan jou klein bondeltjie. Maar vanaand, vanaand lyk dinge effe anders. Uit die bloute het jou rustige, tevrede baba haar knieë na haar bors opgetrek, haar vuiste gebal en begin skree. Nie een van jou pogings om haar te laat bedaar, help nie. Jy ruil haar doek, probeer haar voed en bad haar selfs, maar sy hou net aan skree. Dan skielik, so vinnig as wat dit begin het, is dit verby en lê sy dromerig daar asof niks gebeur het nie.
Hierdie toneeltjie speel hom ontelbare kere af in miljoene huishoudings oor die wêreld heen en nuwe ouers kan nie help om te wonder wat hulle verkeerd doen nie. Die waarheid is dat jy niks verkeerds doen nie - koliek is nie jou skuld nie en ook nie jou baba s'n nie. Dit is 'n verskynsel wat by menige baba voorkom en is die hoofoorsaak van pediaterbesoeke in kinders se eerste lewensjaar.
WAT IS KOLIEK?
Koliek word tans gedefinieer as aanhoudende episodes van 'n ontroosbare gehuil wat uit die bloute begin, net so vinnig eindig en gepaard gaan met fisieke tekens van spanning. Dit begin teen twee tot drie weke oud, bereik 'n hoogtepunt teen ses weke en bedaar teen omtrent drie of vier maande. Die episodes kom meer gereeld in die vroeë aandure voor en duur drie uur of langer, vind minstens drie keer per week plaas en hou vir minstens drie weke aan.
Baie babas volg nie die drie-uur-vereiste nie, maar is regdeur die dag knieserig. Hierdie babas word prikkelbare babas genoem en vind baat by dieselfde behandeling as babas met ware koliek.
Nog 'n vereiste vir 'n diagnose van koliek is dat jou baba andersins heeltemal gesond moet wees, nie ondervoed of in 'n mediese gevaar nie. Navorsing wys trouens dat koliekbabas met geboorte eintlik meer weeg en vinniger gewig aansit as babas wat nie koliek het nie!
Koliek word gediagnoseer wanneer alle ander moontlikhede uitgeskakel is. Toestande soos urienweginfeksie, middeloorontsteking, korneale abrasie ('n skeur of krap op die kornea) en selfs sproei kan simptome veroorsaak wat baie na kolieksimptome lyk.
Dié toestande het ernstige implikasies as hulle onbehandel bly en dis dus belangrik om by 'n pediater uit te kom om ander oorsake vir jou baba se knieserigheid uit te skakel.
HOE LYK KOLIEK?
Die eerste ding wat ouers van koliekbabas jou sal vertel is dat die gehalte van hul kind se huil anders is as die gewone huilery om aandag. Die klank is hoog en amper singend. Dit kan nie geïgnoreer word nie, en dit klink juis so sodat jy ander dinge waarmee jy besig is sal staak en aandag aan jou baba sal gee.
Die ander fisieke tekens waarvoor jy op die uitkyk moet wees, sluit in:
- Jou baba se gesig is rooi.
- Sy knieë is tot teen sy bors opgetrek.
- Sy handjies is in vuiste gebal.
- Sy gesig is vertrek asof hy pyn het.
- Die ruggie is hol getrek en die nek uitgestrek.
- Die lyfie is styf.
- Hy is sweterig.
- Sy voetjies is koud.
DIT MAAK SAAK
Hoekom maak koliek 'n mens dan so bekommerd - jy weet mos jou baba is basies gesond en sal geen langtermyngevolge daarvan oorhou nie? Die Amerikaanse koliekkenner dr. Barry Lester, skrywer van Why is My Baby Crying?, reken dat sommige gesinne jare nadat die koliek al verby is, nog die gevolge daarvan dra.
Een van die belangrikste tydperke vir binding tussen ma en kind is die eerste drie maande en as dit gekenmerk word deur 'n baba wat vreeslik huil en jy wat jou hare uit jou kop wil trek, kan dit moeilik wees om die verhouding in 'n gesonde rigting te stuur.
Dit eis nie net sy tol van ouers nie (moederlike depressie word verbind met koliek), maar het ook 'n invloed op ander verhoudings in die gesin wat onnodige stres en spanning veroorsaak. Die ontwikkeling van jou baba se senustelsel word regstreeks verbind met sy interaksie met die wêreld.
As hy aanhoudend in 'n strestoestand is, word hierdie ontwikkeling vertraag.
Nuwe studies wys dat wanneer babas in die eerste paar weke van hul lewe aan hewige stres blootgestel word, dit hul vermoë beïnvloed om stres en pyn later in hul lewe te hanteer. Gelukkig is daar meer as genoeg hulp en raad beskikbaar by voorgeboorteklasse, klinieke, dokters, pediaters, homeopate, chiropraktisyns en laktasiekonsultante.
Moenie wag tot jou verhouding met jou baba agteruitgaan nie, gaan vra hulp.
Laat jou dokter jou baba diagnoseer as jy koliek vermoed sodat jy behandelingsopsies kan begin oorweeg. Lees in die kassie meer daaroor.
HET JY GEWEET?
Ondanks ongemak en knieserigheid behoort jou koliekbaba gewig aan te sit en sy mylpale op die regte ouderdom te bereik.
Wat kan ek doen?
- Raak op die regte manier van windjies ontslae Winde wat nie opgebring word nie, oorstimuleer jou kind onnodig en keer dat sy in haar diep slaap ontspan, wat sy juis nodig het. Sorg dat jou kind minstens een keer tydens 'n voeding 'n wind opbring, gevolg deur aktiewe winde aan die einde van die voeding. Moenie te vinnig moed verloor nie, hou aan tot jy die metode vind wat vir jou en baba werk. Lê jou baba plat op haar rug neer en ry vyf tot 10 sekondes lank fiets met haar beentjies. Dit help om gas vry te stel.
- Medikasie Die rakke is vol koliekkonkoksies en babapynverligtingsmiddels. Die meeste daarvan is egter spesifiek en word met sekere toestande verbind. Doen jou navorsing oor oor-die-toonbank-middels voor jy iets koop en vra hulp by die babakliniek as jy steeds onseker is. Hou rekord van watter middels wat doen en gesels met jou pediater daaroor wanneer jy jou baba vir 'n ondersoek neem.
- Jou dieet Volgens die nuutste navorsing reageer net 15 persent van borsbabas op die kos wat hul ma eet. As jou kind egter binne dié 15 persent val, word jou dieet baie belangrik. 'n Goeie reël is om dan eerder weg te bly van melkprodukte, sjokolade, sitrus, kafeïen, grondbone en groen blaargroente.
- Terapie Terapie soos chiroterapie en kraniosakrale terapie is daarop gerig om die geboortestres op 'n baba se ruggraatgewrigte en spiere te verminder en die senuweevloei vanaf die ruggraat na die res van die liggaam te reguleer. Dit laat 'n baba toe om haar liggaamsfunksies meer doeltreffend te reguleer, ook die spysverteringskanaal waar koliek gewoonlik skuil.















