RUBRIEK | Pa-alleen

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
James Kemp en sy dogtertjie, Lillie-Marie, reis graag saam.
James Kemp en sy dogtertjie, Lillie-Marie, reis graag saam.

Dit gebeur onlangs dat ek en Lillie- Marie ons op die O.R. Tambo-lughawe bevind. Dis nie die eerste keer dat sy vlieg nie en selfs nie eens die eerste keer dat ek en sy alleen vlieg nie. Waar ons deur sekuriteit beweeg, kry ons 'n verbaasde kyk van 'n vroulike sekuriteitswag.

Met my dogtertjie op die een arm, my skootrekenaar vasgeklem onder die ander en 'n doeksak en rekenaarsak oor die onderskeie skouers lyk ek seker nie soos iemand wat alles onder beheer het nie. "Where's her mother?" vra sy besorg terwyl haar oë van Lillie-Marie na my en weer terug na Lillie-Marie beweeg. Ek verduidelik met 'n groot glimlag dat net ek en my dogtertjie vandag op reis is.

Dis 'n verduideliking wat met 'n kyk van ongeloof begroet word. Op die vliegtuig is ek en Lillie-Marie gelukkig genoeg om twee sitplekke vir onsself te kry. Passasiers onder twee jaar oud betaal nie 'n volle tarief nie, maar moet dan op hul ouer of voog se skoot sit.

Dié keer is daar nie 'n passasier langs ons nie en hoewel sy steeds op my skoot sit, is die ekstra ruimte welkom. Aan die oorkant van die gangetjie neem werknemers van 'n spoorwegmaatskappy sowat drie rye in beslag.

Die oom naaste aan ons laat my dink aan die hoofkarakter in Appel se liedjie Hardwerkende man. Hy dra 'n denimbaadjie met sy van op, 'n snor reg uit 1980's-Pretoria en het lyne op sy gesig wat lyk soos 'n padkaart wat grondpad gery het. Nadat ek en Lillie-Marie ons plek op die vliegtuig ingeneem het, bly die oom se oë soekend na die voorkant van die vliegtuig staar.

So al asof hy wonder wanneer die mamma haar nou by ons gaan aansluit.

Die oom met die denimbaadjie draai na my en vra: ‘waar is die kind se ma?'

Later besluit Lillie-Marie dat sy nou dadelik buite wil gaan speel. Dis nie ongewoon dat sy sommer skielik, selfs in die middel van die nag, herhaaldelik sal sê "buite" tot ons ingee en dan in die tuin gaan speel of haar daar sus nie. Dit is wel die eerste keer dat sy besluit dat ons op 9 000 meter buite moet gaan speel. Die klein dogtertjie verstaan glad nie dat ek weier om met haar op te staan en uit te stap nie.

Swaartekrag en lugdruk is nie aanvaarbare verskonings vir waarom ons nie nou dadelik buitentoe kan gaan nie. Die oom met die denimbaadjie draai bekommerd na my en vra: "Waar is die kind se ma?" Vir die tweede keer daardie dag verduidelik ek dat ons vandag alleen reis. Sy gesiguitdrukking maak dit duidelik dat dit wat ek nou vir hom sê, glad nie in sy verwysingsraamwerk pas nie. Ek kry die indruk dat die oom waarskynlik 'n stoomlokomotief met 'n vuurhoutjie en 'n Gunston aan die gang sal kan kry, maar bes moontlik nog nie in sy lewe al 'n doek geruil het nie.

Met sy volgende vraag bespeur ek 'n tipe dringendheid wat ek nog min kere in my lewe teëgekom het: "Waar is die kind se dummy?"

Ek verduidelik dat Lillie-Marie van dag een af geen belangstelling in fopspene getoon het en dat sy dus nie een het nie. Hy reageer glad nie op my verduideliking nie. Hy rus net sy kop teen die sitplek terwyl hy strak voor hom staar - so asof ek hom pas ingelig het dat die vliegtuig gaan val en hy solank met sy lot vrede moet maak. Ons het almal bepaalde idees van watter rol 'n sekere persoon in 'n sekere posisie moet beklee. So sal dit nie sommer gebeur dat 'n stut pale toe skop of die heelagter in 'n lynstaan ingooi nie.

'n Pa se rol kan egter nie in 'n bepaalde boksie gedruk word soos met posisies in 'n rugbyspan die geval is nie. Die definiëring daarvan is uitsluitlik in die pa se hande. 'n Vriend van my vertel onlangs dat sy pa hom geskok aangestaar het toe hy 'n reuk in sy baba se doek bespeur en aankondig dat hy gou die doek gaan ruil. Sy pa vra toe of hy bedoel dat hy die baba na sy vrou gaan neem, waarop hy antwoord dat hy self op pad is om die doek te gaan ruil.

Dis iets wat sy pa bes moontlik nooit self gedoen het nie en dus verstaan hy nie waarom sy seun die taak op homself neem nie. Sy seun het egter besluit dat sy rol as pa ook doeke ruil insluit So moet elke pa self sy rol in sy kind se lewe definieer en nie toelaat dat ander dit vir hom doen nie. Dit is immers een van die belangrikste rolle wat jy in jou lewe gaan hê.

James kemp

SPELETJIES VANDAG

CTA