Dink daaraan: As jy 'n vrou is met 'n gemiddelde gewig en lengte, is die ligament wat jou baarmoeder en bekken met mekaar verbind, 3 tot 5 cm lank. Maar nou word jy swanger en hierdie einste ligament wat jou baarmoeder ondersteun, begin rek - en word tussen 15 en 20 cm lank. Geen wonder dus dat die meeste vroue ligamentpyn kry terwyl hulle swanger is nie.
Hoe weet ek dis ligamentpyn?
Talle swanger vroue voel pyn laag onder in hul buik - dis gewoonlik ligamentpyn. In groter swangerskappe kan jy die pyn ook aan die kante van jou baarmoeder voel. Soms is dit net 'n ligte pyn en baie vroue skryf dit af as 'n gewone swangerskapskeet. Maar in sommige gevalle is die pyn so intens dat baie onmiddellik dink daar is fout met die swangerskap.
Talle eerste ma's is ook bekommerd dis dalk die begin van die kraamproses, veral as dit lank vóór 40 weke gebeur.
"Hoewel ligamentpyn uiters seer kan wees, is dit 'n baie algemene verskynsel en nie gevaarlik nie. Dit is egter belangrik dat jy weet wat ligamentpyn is, wat met jou liggaam gebeur en hoe om dit te hanteer," sê dr. Karen Minnaar, 'n ginekoloog en verloskundige van Pretoria, Gauteng.
Jou baarmoeder is met ligamente aan jou bekken verbind en die twee ligamente wat die meeste tydens swangerskap geraak word, is die ronde ligament langs die baarmoeder, asook die uterosakrale ligament net agter die baarmoeder. Namate die baarmoeder groei en boontoe skuif, strek die ligamente saam. "Die pyn wat jy voel is tipies laag in jou buik en strek tot in die labia. Namate jou uterus groei, voel jy 'n trekpyn. Ligamentpyn is 'n konstante trekpyn; dit voel asof jou hele maag saamtrek. Dit voel anders as kraampyne, wat meer ritmies is," sê Karen. 'n Mens voel ligamentpyn veral as jy hoes, nies of skielik beweeg. Dit kan in die eerste paar weke van jou swangerskap begin en tot die laaste dag duur. Dis ook nie te sê dit sal in jou volgende swangerskap minder seer wees nie, sê Karen.
Wanneer moet ek bekommerd raak?
Ligamentpyn is nie noodwendig seerder later in jou swangerskap nie.
"Sommige vroue het meer pyn aan die begin van hul swangerskap terwyl ander later in hul swangerskap soveel pyn het dat hulle nie eens kan loop nie of in die hospitaal opgeneem moet word," sê Karen.
As jou pyn ritmies is, mettertyd ál erger word en jy laerugpyn daarmee saam voer, is dit tekens dat jy dalk in kraam is. Jy moet dan dadelik dokter of hospitaal toe.
Gaan ook dokter toe as jou urine brand, jy bloei of die pyn nie beter word as jy rus of parasetamol drink nie.
"In 'n neutedop: As jy enigsins bekommerd voel of as die pyn abnormaal is, raadpleeg jou dokter of gaan dadelik na 'n hospitaal se noodgevalle-afdeling toe. Jy sal ondersoek word en jou baba sal gemonitor word," sê Karen.
Simfise-diastase
'n Mens moet onderskei tussen ligamentpyn en simfisise-diastase, 'n seldsame verskynsel wat net by een uit elke 3 000 swangerskappe voorkom. Dié toestand is nie gevaarlik nie, maar is uiters pynlik. Waar ligamentpyn enige tyd in jou swangerskap kan voorkom, kom simfise-diastase eers in die tweede of derde trimester voor.
Dit ontstaan wanneer jou pubiese simfise (die aansluiting van die pubiese bene van die bekken) "oopmaak," verduidelik Karen. Dié bene sit reg agter jou broekielyn. Hulle word deur 'n ligament verbind en as hulle wyer oopmaak, is dit baie seer omdat die ligament beweging tot 'n minimum beperk.
"Dit voel letterlik of jou bekkenbene teen mekaar skuur. Vroue kan nie trappe klim nie en gewoonlik nie eens loop nie," sê Karen.
Behandeling sluit in 'n stut wat om die bekken gedra word, bedrus en pynmedikasie.
Rugpyn vs. ligamentpyn
'n Mens se rug is soms so seer terwyl jy swanger is dat jy nie eens meer seker is waar presies jy die ergste pyn voel nie. Dis daarom goed om tussen rugpyn en ligamentpyn te onderskei. Tot 50 persent van alle swangerskappe gaan gepaard met rugpyn en as jy voor jou swangerskap met rugpyn gesukkel het, is die kans goed dat dit jou tydens jou swangerskap ook sal opkeil. Rugpyn is tipies van swangerskap omdat jou maagspiere verslap en dit vereis dat jy jou rugspiere meer gebruik. 'n Mens moet egter onderskei tussen normale en abnormale rugpyn. Normale rugpyn word gewoonlik in jou onderrug gevoel sonder dat jou senuwees aangetas word of jy moeiliker beweeg. Rugpyn word 'n groter probleem as die pyn na jou buik of bene versprei, jy nie meer kan loop nie of as jou daaglikse funksionering aangetas word. Rus, die regte skoene en parasetamol behoort in meeste gevalle te help. Maar as jy sukkel om te beweeg of verlies aan sensasie het, moet jy dadelik dokter toe en sy sal jou waarskynlik na 'n spesialis verwys.
Verlig die pyn
Ligamentpyn is eintlik so algemeen dat elke swanger vrou dit noodgedwonge die een of ander tyd in haar swangerskap sal ervaar. Al wat verskil, is die graad van pyn.
Jy kan wel 'n paar dinge doen om te help sorg dat die pyn minder hewig is.
- Oefen gereeld voor en tydens jou swangerskap. Onthou egter om nie skielik met 'n oefenprogram weg te spring as jy nooit voorheen geoefen het nie.
- Vermy alle oefening wat behels dat jy gewigte optel.
- Stap, joga en pilates is baie doeltreffende oefening, want dit help om die ligamente te strek.
- 'n Warm bad kan jou help om te ontspan, maar moenie in water lê wat te warm is nie, want oormatige hitte kan jou baba se DNS aantas.
- Moenie te veel gewig tydens jou swangerskap aansit nie; tussen 7 en 15 kg is die norm.
- Handhaaf 'n goeie postuur en maak seker dat wanneer jy iets swaars optel, jy dit vanuit 'n sittende posisie doen.
- Vermy hoëhakskoene.
- Maak seker jy slaap op 'n goeie matras, in die regte posisie en met 'n kussing tussen jou knieë.
- Drink jou kalsium- en magnesium aanvullings.





















