Voltooi ons prettige vraelys!
1. Wees eerlik: Hoe voel jy as jy aan die moontlikheid van nog 'n baba dink?
A. Jy wil onder jou bed inkruip en nooit ooit weer uitkom nie!
B. Jy hou van die idee, maar is onseker of jy werklik aan die eise van twee kinders kan voldoen.
C. Jy wil dadelik in die kar klim om nuwe gordyne vir die babakamer te koop.
2. As jou skoonma wil weet wanneer die volgende een op pad is ...
A. Vra jy dadelik wanneer sy beskikbaar is as oppasser, want jy beplan 'n romantiese ete saam met manlief om werk van die saak te maak.
B. Kyk jy gou rond of manlief haar gehoor het. Jy hoop nie so nie, want jy wil eers jou lyf terugkry voor nog 'n swangerskap.
C. Sê jy kortaf dat as sy so graag 'n baba wil hê, sy hom self kan kry.
3. 'n Vriendin kom spog met haar nuwe baba.
A. Jy kan nie genoeg van die kleinding kry nie en jou vriendin het 'n stryd om hom eindelik uit jou arms te wurm.
B. Jy bewonder die mooie ou bondeltjie, maar is dankbaar dat jy hom kan teruggee en nie die een is wat hom elke drie uur moet voed nie.
C. Jy sê al die regte dinge, maar net die klank van die baba se gehuil maak jou lus om haar met geweld by die deur uit te stoot.
4. As jy die moontlikheid van nog 'n baba aan jou man noem ...
A. Sit hy dadelik die televisie harder en maak of hy jou nie hoor nie.
B. Glimlag hy so breed dat sy glimlag ag-ter sy ore vashaak en trek jou nader ...
C. Klink hy ingenome met die idee, maar sê julle moet eers kyk na jul finansies, werksomstandighede, ens.
5. As jy met jou vriendin se baba speel, doen jou eersteling die volgende:
A. Hy staan dadelik nader en bewonder die kleinding. Hy wil hom ook vashou.
B. Hy probeer die ander baba van jou skoot af druk om self daar te sit.
C. Hy steur hom glad nie aan jou doen en late met jou vriendin se baba nie - hy is te besig met sy eie speletjies.
6. Die grootste rede waarom jy twyfel of jy nog een moet hê, is ...
A. Jy is bang jy kan nie vir nog 'n baba so lief wees soos vir jou eerste nie.
B. Jy het jare laas 'n nag ordentlik geslaap en wil net graag eers 'n bietjie normaliteit hê voor jy weer voor begin.
C. Jy is regtig bang jy gaan heeltemal van jou trollie af raak met twee klein kindertjies in die huis. Jy kan skaars een hanteer!
7. As jy eerlik nadink oor hoekom jy juis nou 'n volgende kind oorweeg, is dit ...
A. Omdat al jou vriendinne saam met wie jy die eerste keer swanger was, nou weer swanger is en almal jou vra wanneer jou volgende baba kom.
B. Omdat jy jou biologiese horlosie ál harder in jou ore hoor tiek-tok, tiek-tok.
C. Omdat die gedagte aan nog 'n kind 'n warm gloed van begeerte in jou binneste laat loskom.
8. As jy dink aan jou huwelik of verhouding, voel jy ...
A. Baie gelukkig en tevrede. Jy en jou maat is 'n wenspan, kommunikeer goed en help mekaar.
B. Tevrede, maar jy sal regtig bly wees as hy 'n bietjie meer wil hand bysit in die huis of vir jou blomme bring.
C. Ongelukkig. Jy en jou maat sit vas oor alles van kind grootmaak tot hoeveel hy in die huis help.
9. As jy dink aan jul geldsake, voel jy ...
A. Heel gemaklik. Julle werk elke maand 'n begroting uit en kan alles betaal wat moet plus nog die nodige spaargeld wegsit.
B. Senuweeagtig, want die lewe word ál duurder. Julle sal dalk 'n tweede kind kan bekostig, maar dit sal beslis 'n paar opofferings verg.
C. Heeltemal paniekerig! Die vensterbriefies hoop op en julle kan eenvoudig nie alles betaal nie, al probeer julle jul bes.
20 en meer
1: (A)1, (B)2, (C)3
2: (A)3, (B)2, (C)1
3: (A)3, (B)2, (C)1
4: (A)1, (B)3, (C)2
5: (A)3, (B)1, (C)2
6: (A)3, (B)2, (C)1
7: (A)1, (B)2, (C)3
8: (A)3, (B)2, (C)1
9: (A)3, (B)2, (C)1
Vra jou af:
1. Wat sê jou hart?
Nie almal voel dadelik broeis wanneer hulle 'n baba sien nie, maar luister gerus wat jou hart vir jou oor 'n tweede baba sê. Wees eerlik oor jou gevoelens. Hoe voel jy as jy 'n swanger vrou sien?
Erken jou vrese: Is jy bang jy gaan nie vir die nuwe baba so lief wees soos vir jou eerste nie? 'n Mens se liefde verdubbel met die koms van nog 'n kind. Of is jy bang jy gaan jou menswees heeltemal verloor in die proses van ma wees?
Moenie 'n tweede kind hê as jy nie in jou hart gereed voel nie.
Onthou, jy kan nie voorspel of jou baba 'n soete engeltjie of 'n koliekbaba gaan wees wat heeltyd skree nie. Eers as jy kans sien vir albei, is jy gereed vir jou volgende!
2. Kry jou maat aan boord
Dis noodsaaklik dat sowel jy as jou maat gereed is vir 'n tweede kind. Nog 'n kind verg ekstra werk, verantwoordelikhede en 'n groter finansiële las, en as jou maat onwillig is, kan 'n tweede kind onnodige spanning veroorsaak.
As net een van julle gereed voel, bespreek dit gereeld. Praat oor die voor- en nadele van nog 'n baba in hierdie stadium van jul lewe tot julle tot 'n vergelyk kom. Soms is dit net nodig om die idee-saadjie te plant en water te gee voor jou maat saam met jou begin uitsien na 'n nuwe toevoeging tot die gesin.
3. Kan julle dit bekostig?
'n Mens kan nie 'n geldwaarde aan 'n kind heg nie, maar jy kan ook nie onverskillig wees en die finansiële sy heeltemal ignoreer nie. Kinders kos geld en om 'n kind in die wêreld te bring wat jy weet jy nie kan bekostig nie, het implikasies ook vir daardie kind en jou eersteling.
Kan julle twee kinders op doeke bekostig? En wat van dagsorg? Werk saam met jou maat 'n begroting uit en kyk of julle 'n tweede kind kan bekostig. Dalk sal julle 'n paar luukshede moet prysgee. Besluit saam of dit werklik is wat julle wil hê en of julle nog wil spaar voor julle 'n bondeltjie vreugde in julle huis verwelkom.
4. Hoe voel ouboet?
'n Nuwe baba het 'n reuse invloed op jou eersteling. Ouboet of ousus is immers gewoond aan jou onverdeelde aandag, waarop 'n nuwe baba ongetwyfeld inbreuk sal maak. Jy kan verwag dat hy jaloers sal wees.
Sien jy kans om 'n baba én jaloerse kleuter gelyk te hanteer? Kyk hoe hy op ander babas reageer en hou sy temperament in gedagte.
Is hy reeds onafhanklik genoeg van jou dat dit hom nie regtig pla nie? Hoeveel van jou onverdeelde aandag het hy nog nodig?
Werk strategieë uit om jou oudste so te betrek dat hy nie uitgesluit voel met baba se koms nie.
5. Die regte redes
As jy nog 'n baba wil hê as gevolg van groepdruk (al jou vriendinne het babas) of familiedruk (skoonma soek 'n klein-kind), moenie. Hulle gaan nie drieuur in die nag daar wees as die baba huil nie.
Die besluit oor nog 'n kind is net jou en jou man s'n. En hoewel 'n mens nie die getik van die biologiese horlosie heeltemal kan ignoreer nie, is dit in die eerste plek belangrik om seker te maak dat julle werklik gereed voel vir 'n nuwe lyfie in jul huis.
6. Jul huwelik
Ouerskap bring nuwe uitdagings in enige huwelik en twee kinders nog meer as een.
As jou huwelik dus krakies het, probeer om dit eers op te los voor julle die stres van nog 'n baba die huis inbring.
En onthou: 'n Kind kan nie 'n wankelende huwelik red nie!
7. Die beste gaping vir julle
Dit is heeltemal normaal om ná 'n eerste baba te voel jy wil 'n blaaskans hê voor jy weer met bottels en doeke sukkel of weer jou lyf aan 'n swangerskap onderwerp.
Julle het waarskynlik gepraat oor die ideale ouderdomsgaping tussen kinders, maar daar is geen wet wat sê julle moet daarby hou nie - elke gaping het sy eie voordele.
Neem ook jul persoonlikhede in ag: Sommige mense verkies die intense, effens chaotiese, maar gesellige opset van 'n klein ouderdomsgaping, ander verkies weer 'n groter gaping met meer individuele tyd vir elke kind



















