Meer as 'n jaar later is die verlies nog nie makliker nie. Chloe Barnard van George het op 9 Desember 2023 haar eerste verjaardag gevier, maar iemand was nie daar nie: haar tweelingsussie, Aimee. Dit was 'n dag vol gemengde emosies vir ma Elizma (34) en pa Jacques (38).
"Met elke mylpaal wat Chloe behaal, wonder ek hoe dit sou wees as Aimee hier was. En hoe vreeslik Emily (5) die twee sou geniet het. Sy is so 'n goeie ousus; die tweetjies is baie lief vir mekaar."
Daarom kan Elizma haar net indink hoe dit sou gewees het met drie dogtertjies, as Aimee se hartjie nie oomblikke voor haar geboorte ophou klop het nie ... "Aimee is doodgebore. Haar hartjie het gaan staan toe die dokter begin sny het," beskryf Elizma haar keisersnee in die George Mediclinic toe sy net meer as 34 weke swanger was. Hulle het geweet daar was byna geen kans dat Aimee dit sou oorleef nie, maar 'n moederhart bly hoop, sê Elizma.
"Die suster het Aimee vir ons gebring toe ek terug in my kamer was. Sy was die mooiste, mooiste baba-engeltjie, rustig en pragtig. Ek het gedink sy gaan haar ogies enige oomblik oopmaak. Ons het haar vasgehou en gesoen en met haar gesels en foto's geneem - soveel van haar ingeneem as wat ons kon. Ek was deur alles bonatuurlik rustig en kalm. Ek het al 'n kalmte begin ervaar die aand voor die geboorte. Ek weet dit is die Here wat by my was."
Terwyl hulle oor Aimee se dood getreur het, was Chloe vir drie weke in die Neonatale-eenheid. "Sy is 'n baie sterk dogtertjie en staan vir niks terug nie."
Ek was deur alles bonatuurlik rustig en kalm. Ek het al 'n kalmte begin ervaar die aand voor die geboorte. Ek weet dit is die Here wat by my was.

Dat Chloe leef, is ook 'n wonderwerk en net te danke aan Aimee se veggees, sê Elizma. Dit was eers met haar 12 weke-ondersoek dat die klop van twee hartjies gehoor is.
"Ek, Jacques en die dokter was omtrent geskok, want ons was heeltyd onder die indruk daar is net een baba. Maar saam met die skok was ons opgewonde. Die dokter het die tweeling ondersoek en gesê hy is bekommerd oor die een baba. Hy kon nie veel uitbrei nie, net dat daar baie vog om die koppie was. Hy het ook gesê dit lyk asof hulle 'n plasenta deel en hy kon nie 'n vlies tussen hulle opspoor nie, wat beteken het hulle is waarskynlik in een vrugsak. Dis dadelik 'n hoërisiko-swangerskap en ons is na 'n fetale spesialis verwys."
Dae van onsekerheid en onbeantwoorde vrae het gevolg.
"Die een oomblik was daar intense blydskap, die volgende 'n hartseer wat ek nie kan beskryf nie." Op 13 weke het hulle gehoor dit is twee identiese dogtertjies wat inderdaad 'n sakkie en die plasenta deel.
"In Engels staan dit bekend as monochorionic-monoamniotic twins en dit gebeur slegs in 1 persent van swangerskappe met identiese tweelinge. Chloe was gesond en woelig. Dit het gelyk of die vog om Aimee se koppie minder word en dit het my hoop gegee."
Die hoop het egter nie lank gehou nie. Ná verdere ondersoeke het Jacques en Elizma gehoor Aimee se buikwand het nie heeltemal gevorm nie en haar organe sou buite haar lyfie wees. Haar rugstring het nie reg ontwikkel nie en daarom het haar hartjie ook laer gesit. Ek het die spesialis gevra of Aimee enige pyn het, en hy het my verseker dat sy nie pyn sou ervaar nie. Aimee is gediagnoseer met ledemaat-liggaamswandkompleks. Die toestand is baie seldsaam en sy sou nie lewensvatbaar wees nie."
Omdat hulle 'n plasenta gedeel het, was daar 'n risiko dat Chloe ook 'n hartaanval, beroerte of breinskade kon kry indien Aimee se hart gaan staan.
"Ons is drie keuses gegee: Ons kon die swangerskap beëindig, of ons kon Aimee se naelstring by die plasenta ‘skroei' en die bloedtoevoer na haar afsny. Dit sou haar hart onmiddellik laat ophou klop het, maar kon ook Chloe se dood veroorsaak. Derdens kon ek met die swangerskap voortgaan, gereeld gemonitor word en kyk wat gebeur. Die spesialis het terminasie voorgestel. Ons het twee weke gehad om te besluit of ons die plasenta wou laat skroei. Dit was bitter moeilik, maar ek het geweet ek gaan nie my swangerskap beëindig nie."
Ná slapelose nagte, hul eie navorsing en "baie nagte van trane" het hulle besluit om met die swangerskap voort te gaan. "Ek het geweet net gebed en 'n wonderwerk sou ons tweeling red. Chloe het gegroei en sterker geword. Aimee het aanhou veg en al die vog om haar koppie was later weg. Ek het byna weekliks 'n sonarondersoek gehad om te kyk of hul hartjies nog klop."
Op 20 weke het alles steeds goed gelyk. "Aimee se hartjie het aanhou klop, sy was steeds sterk asof sy geweet het sy moet baklei sodat haar sussie 'n kans kan hê om te leef. Dit was met elke sonarondersoek onbeskryflik mooi om die band wat hulle gehad het, te sien. Hul gesiggies was die heeltyd teen mekaar en hulle het handjies vasgehou. Dit was 'n belewenis om hulle so te sien."
"Dit was moeilik om vir Emily te vertel dat daar twee sussies is, maar ek het gevoel sy moet weet dat die een sussie 'n engeltjie is wat die ander een moet beskerm tot sy gebore word, en dat sy dan moes teruggaan na Jesus. Emily het dit so verstaan en my hart het vir haar ook gebreek."
Chloe was vir 'n rukkie aan 'n ventilator gekoppel terwyl hulle van Aimee afskeid geneem het.
Omdat die risiko te groot was om albei babas te verloor, is hulle op 34 weke vir die geboorte opgeneem. "Aimee se hartjie het nog sterk geklop terwyl hulle die tweeling gemonitor het voor ek teater toe moes gaan. Aimee is eerste gebore, op 1,9 kg, en toe Chloe op 2,35 kg. Aimee het letterlik tot aan die einde vasgeklou." Chloe was vir 'n rukkie aan 'n ventilator gekoppel terwyl hulle van Aimee afskeid geneem het. "Ek weet nie of dit ooit makliker sal word nie," sê Elizma.
"Net die tyd sal leer. Ek het my goeie dae en ook baie slegte dae. My man ondersteun my wonderlik en ek weet hy kry ook soms swaar en wil dit nie altyd wys nie. Maar ons dra mekaar en is sterk vir ons twee pragtige dogtertjies."
Hul ondersteuningsgroep dra hulle steeds. "Ek kan nie eens almal op die naam noem nie, want daar is te veel, maar ek is dankbaar vir elkeen van hulle. Hierdie soort swangerskap en Aimee se toestand is so seldsaam dat ek wonder of daar nóg mense is wat so iets ervaar het. Dalk is daar iemand wat ek kan bemoedig, of dalk raak ek iemand aan deur my storie te vertel. Ek sal nooit ophou om oor Aimee te praat nie. Sy was hier. Sy het geleef. En sy is 'n hero."


















