Wat is ouditiewe verwerkingsprobleme?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Die meeste ma's wat hierdie artikel lees, weet dat kinders nie altyd mooi luister nie. Dis egter selde te wyte aan ouditiewe-verwerkingsprobleme, waar kinders nie mooi verstaan wat mense sê nie omdat hul brein en ore nie goed saamwerk nie.

Net sowat 5 persent van kinders ly aan dié toestand en taamlik ingewikkelde toetse is nodig om dit te diagnoseer. Maar as jou kind wel daaraan ly, is hierdie artikel vir jou. Dit sal jou help verstaan waarom jou kind sukkel en vertel waar om hulp te kry.

'n Tipiese toneel: Die ouers word ingeroep omdat die bloedjie nie goed vaar op skool nie. Gehoorprobleme word dikwels geblameer en met reg ook, want dit kán 'n kind baie laat sukkel. Gelukkig word dit maklik getoets. 'n Standaard-gehoortoets word uitgevoer waar klanke van verskillende toonhoogtes ingespan word en die kind slaag met vlieënde vaandels.

Dan, met 'n gehoortoets wat op "normaal" dui onder die blad, word die sukkelende skolier na 'n opvoedkundige sielkundige of spraakterapeut verwys. Dis gewoonlik eers dan dat iemand die probleem vermoed en daarvoor toets.

Hoekom maak dit saak?

Dit is nie genoeg om 'n boodskap net goed te kan hoor nie. As daar 'n probleem met die geleiding of verwerking van die boodskap is, kan dit lei tot frustrasie (vir die kind en die ouer), sosiale isolasie, swak akademiese prestasie en 'n lae selfbeeld.

Wie loop 'n gevaar?

Ouditiewe-verwerkingsprobleme is baie algemeen by vroeggebore babas, waar die gehoorsenuwee en al die daaropvolgende sentrale "stasies" nog nie goed saamwerk om die klankboodskap te gelei nie. Verdere risikofaktore sluit in chroniese oorinfeksie, 'n geskiedenis van probleme wat fisioterapie en arbeidsterapie nodig gehad het en 'n geskiedenis van leerprobleme in die familie. Die probleem word dikwels op skool die eerste keer raakgesien, gewoonlik op vyf of ses jaar oud.

Ongelukkig is die toetse wat die toestand bevestig eers geskik vir kinders van sewe of agt, maar 'n terapeut kan dikwels voor die tyd al 'n baie goeie idee kry of dit die korrekte diagnose is. Dan kan terapie begin.

Wat is ouditiewe verwerkingsprobleme?

Ons neem gewoonlik aan dat 'n kind wat goed kan hoor, outomaties goed kan luister en verstaan. Dit is egter nie altyd die geval nie.

Om te luister, hang nie net af van hoe goed jy kan hoor nie - "luister" is 'n ingewikkelde proses. Jou vermoë om klanke te hoor, is 'n meganiese proses wat net daarvan afhang of jou buiteoor, middeloor en binneoor werk.

Ouditiewe verwerking verwys egter na hoe jou brein die inligting wat gehoor word, logies gebruik en verstaan. Verwerking vind op 'n paar plekke plaas: Dit begin die oomblik dat die klanksein deur die gehoorsenuwee opgeneem word en eindig in die brein.

'n Probleem by enige van die "verwerkingstasies" op pad brein toe kan veroorsaak dat die boodskap wat gehoor is, nie noodwendig geïnterpreteer of verstaan kan word nie.

Ouditiewe verwerking sluit die volgende vermoëns in:

  • Jou kind moet weet waar die klank vandaan kom,
  • Sy moet die verskil kan ken tussen klanke wat amper dieselfde is, soos p en b,
  • Sy moet patrone in ouditiewe inligting kan herken, soos rymwoorde of liedjies,
  • Jou kind se ouditiewe geheue moet haar help om dinge in volgorde te onthou: Mamma het gesê ek moet eers my bed opmaak, dan ontbyt kom eet en dan my tande gaan borsel, en
  • Jou kind moet 'n spraakboodskap kan uitken en interpreteer, al is daar agtergrondgeraas.

Het jy geweet?

Ons neem gewoonlik aan dat 'n kind wat goed kan hoor, outomaties goed kan luister en verstaan. Dit is egter nie altyd die geval nie. Om te luister, hang nie net af van hoe goed jy kan hoor nie - ‘luister' is 'n ingewikkelde proses.

Wees op die uitkyk ...

Die volgende tekens is nie genoeg vir 'n diagnose van ouditiewe-verwerkingsafwyking nie, maar is riglyne om meer inligting oor 'n kind se verwerkingsvermoë te bekom.

  • Jou kind vind dit moeilik om 'n gesproke boodskap in agtergrondgeraas te verstaan en begryp ouditiewe inligting beter wanneer dit stil is,
  • Sy reageer nie altyd dieselfde op gesproke inligting nie en dit lyk of sy jou soms hoor en soms ignoreer,
  • Sy vra dikwels dat jy die gesproke opdrag herhaal,
  • Dit kos haar langer om in gesproke kommunikasie te reageer,
  • Sy sukkel om aandag te gee as jy met haar praat,
  • Haar konsentrasie word vinnig afgelei,
  • Sy sukkel om veelvuldige gesproke opdragte te volg,
  • Sy onderskei moeilik waar 'n klank vandaan kom,
  • Sy leer liedjies of rympies stadig, en
  • Sy het lees-, skryf- of leerprobleme.

Moedig jou kind aan om te vra dat iets herhaal word as sy dit die eerste keer nie verstaan het nie.

Terapeut toe!

Die oudioloog is gewoonlik die eerste wat 'n kind volledig evalueer. Dis belangrik om eers 'n diagnostiese gehoortoets te laat doen om gehoorverlies uit te skakel. Die gehoortoets en die ouditiewe-verwerkingstoets word gewoonlik in twee sessies uitgevoer omdat laasgenoemde lank is en baie konsentrasie verg.

Die oudioloog sal verskillende ouditiewe-verwerkingsareas of -stasies van die brein toets en dan 'n geheelbeeld vorm na aanleiding van 'n baie deeglike gevalgeskiedenis wat gevaartekens identifiseer. Die oudioloog is egter nie die enigste rolspeler in die diagnose van 'n ouditiewe-verwerkingsafwyking nie.

Dit is baie belangrik dat ouers ook met ander spanlede soos die skooljuffrou, 'n spraakterapeut en 'n opvoedkundige sielkundige saamwerk om soveel moontlik inligting te bekom en die beste behandelingsplan op te stel.

GOUE WENK

Wees eerlik met jou kind en gebruik 'n positiewe benadering - vermy die woorde ‘daar is iets fout' of ‘jy luister verkeerd'.

Hoe Juffrou kan help

Maak 'n afspraak met jou kind se onderwyser sodat julle saam kan werk. Hierdie wenke kan juffrou help om beter met jou kind in die klas te kommunikeer.

Aandag

  • Ouditiewe inligting word beter ingeneem wanneer dit ook visueel weergegee word - dis daarom belangrik om eers jou kind se visuele aandag te vestig (oogkontak) en dan die ouditiewe inligting saam met visuele inligting te verskaf (opdrag + prentjie).
  • Dit help ook om eers die kind se naam te noem om aandag te vestig en haar gereed te maak om te luister.

Voorkeursitplek in die klas

Laat jou kind naby haar juffrou sit; 1,5 meter is optimaal. Dit sal jou kind toelaat om soveel moontlik baat te vind by ouditiewe en visuele leidrade.

Opdragte

  • Gee een opdrag op 'n slag.
  • Praat met 'n goed geartikuleerde stem.
  • Praat met 'n stadiger spraakspoed en gemaklike luidheid sodat die kind ouditiewe inligting makliker kan volg.
  • Gebruik natuurlike gebare om die ouditiewe boodskap te beklemtoon.
  • Identifiseer sleutelwoorde. Beklemtoon sleutelwoorde veral wanneer nuwe inligting bespreek word.
  • Gee indien moontlik gesproke én geskrewe opdragte.

Hoe ouers kan help

Dis glad nie nodig dat jou kind na 'n skool vir spesiale behoeftes verwys word nie. Die verskillende verwerkingstasies is eers op 16 volwasse.

Met goeie terapie kan die verwerkingspad gevorm word sodat dit normaal werk.

Ouers kan baie doen om te help. beproef dié wenke

  • Aanvaar dat jou kind dalk 'n verskillende leer- en luisterstyl as ander kinders het.
  • Leer soveel moontlik oor ouditiewe verwerking en ken jou kind se sterk en swak punte.
  • Wees eerlik met jou kind en gebruik 'n positiewe benadering - vermy die woorde "daar is iets fout" of "jy luister verkeerd".
  • Sit elke dag 'n spesifieke, stil tyd opsy om met jou kind te praat en te werk - huiswerk is baie makliker sonder afleidings soos ander kinders wat jil of wasmasjiene en stofsuiers wat raas.
  • Begin met kort werktye en maak dit stelselmatig langer. 'n Goeie reël is om op te hou wanneer jou kind 'n taak suksesvol uitgevoer het. Moenie jou kind tot by frustrasie druk nie.
  • Gee korter, eenvoudige opdragte. Breek veelvuldige opdragte op in kort, logiese stappe: Maak jou bed op. Borsel jou tande. Gaan haal jou tas. Moenie die volgende opdrag gee as die vorige een nog nie suksesvol uitgevoer is nie.
  • Dit kan lyk of 'n kind met ouditiewe-verwerkingsprobleme sommige dinge hoor en ander nie. Moenie aanneem jou kind ignoreer jou nie. Vra hulle om opdragte te herhaal om seker te maak hulle verstaan.
  • Moedig jou kind aan om te vra dat iets herhaal word as sy dit die eerste keer nie verstaan het nie.
  • Dring daarop aan dat jou kind iets tot die einde uitvoer as jy weet sy is daartoe in staat. Maak seker jou verwagtinge is billik.
  • Praat stadiger en met pouses. Gebruik ander woorde of herfraseer as jou kind steeds nie verstaan wat jy bedoel nie.
  • Kinders met ouditiewe-verwerkingsprobleme het meer tyd nodig om hul gedagtes te organiseer - gun jou kind dus ná 'n gesproke opdrag genoeg tyd om daarop te reageer.
Estie Meyer en Silva Kuschke

SPELETJIES VANDAG

CTA