Die Groot Sinkdal, soos dit ook genoem word, strek oor meer as 6 000 kilometer in Oos-Afrika en is die grootste geologiese formasie in sy soort in die wêreld.

Dit word beskryf as Afrika se “letsel” en deel die kontinent in twee. ’n Teenstrydigheid is dat dié einste verskynsel ’n lewensaar is en alles saambind wat goed en groots aan Afrika is, sê Shem Compion, natuurfotograaf en skrywer van die boek The Rift: Scar of Africa, wat einde verlede jaar verskyn het.

’n Passie vir Afrika en veral die Groot Skeurvallei het Shem genoop om sy talent en vaardighede in te span om dié kontinent en skeurvallei se unieke verhaal te illustreer.
En hoewel The Rift visueel ’n asembenemend mooi koffietafelboek is, is dit meer as dit.
Shem se treffende werk word in vyf hoofstukke ondersteun deur inhoud van kenners op die gebied van onder meer geologie, antropologie en biodiversiteit.

Geoloë reken die Groot Skeurvallei het sowat 25 miljoen jaar gelede begin ontstaan. In dié tyd het dit die lewens gevorm van al die wesens wat die dramatiese landskap bewoon het.
Die Skeurvallei is uit tektoniese plaatbewegings gevorm wat gelei het tot buitengewone geologiese kenmerke soos steil kranse en diep, smal mere asook ’n unieke ekologiese verskeidenheid.

En danksy Shem se oog en hart vir Afrika word die verhaal van die Groot Skeurvallei nou op treffende wyse met die wêreld gedeel . . .
Die wonders en die waarde van die Skeurvallei

Dat hy ’n spesiale boek oor Afrika wou skryf, is te verstane. Shem, wat ook ’n safari-onderneming bedryf en die wonders van Afrika se mees ongerepte landskappe met besoekers deel, vertel hy wou nog altyd ’n grootformaat-boek saamstel, iets anders as die veldgidse wat hy tot nou toe geskryf het.
Sy ma het in Kenia grootgeword, vertel hy, en later uitgewyk na Suid-Afrika, waar hy “op verskeie plase noord van Pretoria” grootgeword het.
Sy grootwordjare het by hom ’n liefde vir die natuur, veld- en voëllewe ontwikkel.

“Ek wou van kleins af in die natuur wees. Nadat ek my studies in natuurbewaring en natuurlewebestuur voltooi het, het ek eendag in 2000 toevallig ’n kamera opgetel.
“Aanvanklik was my belangstelling in die tegniese sy van fotografie, maar eindelik het ek ook die kreatiewe kant ontdek.”
Vanaf 2002 het Shem uitgebreide reise deur Afrika onderneem en die natuurlewe en verskillende kulture met sy kamera vasgelê.
Mettertyd het hy geleer baie van die treffende, unieke gebiede van Afrika het hul bestaan aan die Groot Skeurvallei te danke.
Die formasie van die Skeurvallei het byvoorbeeld gelei tot die vorming van die Serengeti, Kilimandjaro, die Mana Pools-gebied in die benedestroom van die Zambezirivier in Zimbabwe, en die Zambezi self.
“As ’n natuurfotograaf gaan neem jy hierdie gebiede af,” vertel Shem.
Later sou hy besef hy het die afgelope twintig jaar dié mooiste dele van die Skeurvallei afgeneem.
“Hoe meer ek oor die Skeurvallei geleer het, hoe meer het ek besef in hoe ’n groot mate dit tot die lewe – en ekonomieë – in Afrika bydra.”
Dié unieke lewensaar van Afrika het hom ál meer geboei en genoop om in meer diepte die wonders en waarde van die Skeurvallei te ondersoek.
Die hart is in die detail
Die foto’s vir The Rift het Shem reeds gehad, “al wou ek natuurlik ook nuwe ekspedisies aanpak om die finale boek saam te stel”.
Die grootste uitdaging was om medewerkers te vind – daardie mense wat hul kennis van die gebied as inhoud vir die boek sou aanbied. Dit was wel ’n lekker uitdaging, erken Shem.
“Dit was ’n voorreg om die regte mense te vind om tot die boek by te dra en hul storie te deel. Ek was gelukkig dat onder andere die Amerikaanse paleontoloog prof. Donald Johanson gewillig was om by te dra.
“Ek het prof. Johanson se e-posadres aanlyn gekry en in ’n boodskap vir hom gevra of hy bereid sou wees om tot die boek by te dra.”
Prof. Johanson is bekend as die man wat die grootste paleontologiese ontdekking in die Groot Skeurvallei in meer as vyftig jaar gedoen het.

Die vonds, die hominied Lucy, is in 1974 in die Afar-gebied in Ethiopië gevind en is na raming sowat 3,2 miljoen jaar oud.
“Binne 48 uur het prof. Johanson vir my tweeduisend woorde as sy bydrae tot sy bepaalde onderwerp vir die boek gestuur. Dit was wonderlik om te besef dis nie net my eie vertelling wat gedeel word nie, maar ook dié van een van die wêreld se mees gerespekteerde paleontoloë.“
Ek is net ’n fotograaf, dis hoe ek dit sien. Ek is die fasiliteerder en die persoon wat die boek saamgestel het. My stem is nie naastenby so sterk soos byvoorbeeld dié van Donald Johanson nie.
“Ons het vooraf hoofstukke geïdentifiseer – aanvanklik altesame agt. Aan dié agt temas het ons geskaaf en by die vyf hoofstukke uitgekom wat eindelik die boek gehaal het.”
Die Skeurvallei is een van die grootste voorbeelde van hoe die mensdom ontstaan en ontwikkel het. Daarom die hoofstuk “Origins” wat aandag gee aan die hominiede ontwikkeling op die kontinent.
Ook biodiversiteit word aangeraak; dit was belangrik dat al die aspekte van die Skeurvallei sover moontlik gedek word, verduidelik Shem.
“Die dele is meer as die geheel, en die bydrae van dié natuurverskynsel en invloed daarvan op ons bestaan soveel groter as wat ’n mens kan dink.
“Toe ek eers met die projek begin het, was daar aspekte wat soms oorweldigend gevoel het, maar ek was toegewy aan die projek, die boodskap wat ons wou oordra.”Eerder as net ’n enkele foto of twee, is daar dele van die boek wat op uitleg vir Shem uitstaan.
Soos die blaaie met swart-en-wit foto’s van vroue met hul unieke Afrika-krale (bl. 141-143).

“Daar waar die kralewerk so ’n sterk kontras vorm. Daardie foto’s is my gunstelinge. Afrika is ’n kontinent van kontraste. Afrika verras jou; wat jy vind, is nie altyd dieselfde as wat jy verwag het toe jy die reis aangepak het nie.
“Die krale verteenwoordig soveel meer as wat op die oog af sigbaar is. Rykdom, vrugbaarheid, huwelikstatus . . .”
Vir Shem is die krale ’n metafoor van die Skeurvallei self. Wanneer jy inzoem op die detail, sien jy eers werklik die hart, die ware betekenis, raak van dít wat voor jou is.
‘Dis ook óns nalatenskap’
The Rift is só saamgestel om die mens se verbintenis met die Skeurvallei te illustreer: hetsy die mense wat daar woon, óf op die een of ander manier ’n bestaan daar maak, óf deur die gebied gereis het.
En tog is die Skeurvallei soveel groter as die mense wat daarmee in aanraking kom, sê Shem.

Suid-Afrikaners wat “naby reis” na onder meer Zambië of die Okavango-delta, of die Victoriawaterval en Mosambiek, besef dalk nie dat dié gebiede ook deur die Skeurvallei geraak word nie, sê hy.

Shem kan nie uitgepraat raak oor die omvang van die gebied nie.
“Almal het al gehoor van die Groot Skeurvallei; dit is die grootste geologiese formasie in sy soort op aarde.

En ja, dit raak aan die Okavango-delta, maar dit strek soveel verder noorde toe – na die Serengeti, die Maasai Mara-wildreservaat in Kenia, die vulkane in onder meer Tanzanië, Ethiopië en die Demokratiese Republiek die Kongo, die habitatte van die gorillas en sjimpansees van Afrika – dit alles vorm deel van die Skeurvallei.”

En dit is nie net die natuurlewe wat deur die Skeurvallei geraak word nie. Ook die kulture word geraak. Die geologie.
“Kenia ontvang 47 persent van sy elektrisiteit danksy geotermiese aktiwititeit in die Skeurvallei!”

“Driehonderdmiljoen mense beweeg elke dag deur die Skeurvallei – groot stede soos Addis Ababa en Nairobi lê op die rand van die vallei.”
Die mens se impak op die Skeurvallei word ook bespreek. Die feit dat mere se watervlak styg; dat die vislewe kwyn.

Die vraag word gevra: Wat doen ons hieromtrent?
“Dit is tog ons nalatenskap aan ’n volgende generasie,” sê Shem. “Hulle moet weet wat ons gedoen het – om beter te kan doen.”
Die boek vier die besef dat niks in isolasie bestaan nie – van die biodiversiteit tot die kulture en die geologie van die omgewing. Dit alles verweef in ’n groter geheel.

Dit was ’n reuse-verantwoordelikheid om ’n ware prentjie van die Skeurvallei te skets en in boekformaat saam te stel, erken Shem.
Hy het ’n dieper band met die projek gevoel, een wat uit ’n familieverbintenis met die gebied gebore is – en uit ’n liefde wat oor jare ontwikkel het.
“Met tyd leer ’n mens hoe spesiaal die vallei is – ’n plek waar jy vulkane, wild en mense in ’n enkele omgewing aantref.
“Dit was ’n baie persoonlike projek, en ek was deeglik bewus van die verantwoordelikheid om die nodige respek aan die Skeurvallei te betoon en dit die erkenning te gee wat dit verdien.”

















