Reis

Brief uit Elgin

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Elgin is appelwêreld.
Elgin is appelwêreld. (Foto: Getty Images)

Die berge hierlangs omsoom die vrugteboorde soos fluweel. ’n Vergange era se verhale draal steeds; herinneringe en geheime stoom vlak onder vermolmde akkerblare.

Die geur van appels en leemgrond vul die lug, en jy bespeur ’n sweempie van die onderlangse intriges van families wat al generasies in dié groen vallei woon.

Aanhangers van die skrywer Deon Meyer sal verstaan hoe hierdie toneel homself leen tot ’n sappige misdaadverhaal.

Verbeel jou: Die protagonis, Bennie Griessel, hou langs Grabouw se poskantoor stil. Die motordeur swaai oop en hy laat sak sy donkerbril om die omgewing te bekyk: Die teerblad vol gate en lasplekke waaroor twee kwikkies sameswerend skarrel. Sy oë swiep oor die toneel: die geboue se rou baksteenmure, die winkels se name oral opgeplak, die wye blou lug bo.

’n Paar kilometer hiervandaan staan die art deco-gebou wat deesdae die Elgin Railway Market huisves. ’n Entjie verder af in die straat, verby die Total-vulstasie, strek ’n smal laning tot by die Oak Valley-landgoed.

Wanneer Bennie hom uit die motor hys, glinster pêreltjies sweet op sy voorkop. En die paar pasteikrummels wat aan sy stoppelbaard kleef, verklap dat die baasspeurder reeds op pad hierheen sy eerste ondersoek vir die dag afgehandel het: Of die Peregrine- of Houw Hoek-padstal die beste bobotiepastei in die land bak...

Ek en my metgesel het egter die padstalle se verleiding omseil en reguit vir middagete by Oak Valley se nuwe restaurant, The Table, gemik.

Terwyl ons in die hitte onder ’n sambreel gaan sit, grap die personeel dat gesmoorde hadedavleis die dag se hoofgereg is.

Tot my verligting is dit lamsvleis, en só sag dit val van die been af. Die parmigiana met eiervrug en murgpampoentjies met buffelmelkmozzarella en brosgebakte kekerertjies moet ook genoem word. ’n Heerlike nektariensorbet het die ete afgerond.

Magies vol ry ons later die middag verby die Houw Hoek-hotel met ’n slingerpad langs tot by die Wildekrans Country House aan die voet van Groenlandberg, en gaan soek koelte in die welige tuin vol standbeelde.

En dáár bedink ek verder ’n storielyn vir Deon Meyer.

Die Elgin-kontrei se verlede sorg reeds vir ’n paar kleurvolle karakters soos die omgewing se vrugteboerpioniers, sir Antonie Viljoen (wie Oak Valley in 1898 gekoop het) en sir James Molteno (van Glen Elgin-faam).

Albei was parlementslede en glo voorstanders van stemregte vir vroue. Die Black Sash-aktivis (en byeboer) Kathleen Murray het ook hier geboer, sowel as Edmond Lombardi wat Appletiser in 1966 gestig het.

En moenie van Karin Kortjé vergeet nie! Sy was die singende appelplukker wat Idols in 2005 gewen het.

Deesdae is Elgin se patriarg sonder twyfel dr. Paul Cluver, die Groote Schuur-neurochirurg wat ’n wynmaker en bewaringsgesinde geword het.

’n Mens hoor sy naam oral, altyd met die “dokter” vooraan, altyd met respek.

Alison Green, die eienaar van die Wildekrans Country House, vertel my ’n gesprek met die einste dokter het aanleiding gegee tot die 60 km lange Green Mountain-slenterstaproete wat net hier in haar tuin begin.

In die voorportaal van haar familie se 1811-gewelhuis lê ’n boek deur Paul Cluver Wines oor die omgewing se nalatenskap.

Heel gepas waak ’n olieverfskildery van Alison se oupagrootjie, ’n eertydse burgemeester van Southampton, Engeland, daaroor.

Dié aand, ná ’n kuier in die kombuis rondom tuisgebakte wortelkoek, slaap ons in ’n hemelbed in een van die drie bed-en-ontbytkamers (hier’s ook ’n kothuis) met Green se kunsversameling teen die mure.

Die N2-snelweg wat deur die dromerige Elgin-valley dawer, trek jou terug na die woelige buitewêreld. So ook Grabouw se ou stoomtrein, maar dié rol die dorp darem teen ’n rustiger pas in. Moeilikheid kan ons protagonis langs een van dié roetes bereik.

Dalk is dit ’n ontevrede kollega wat opdaag, of ’n geliefde wat versaak is. Of albei…

En terwyl die saak al hoe digter verweef raak, en Bennie Griessel se hoofbrekings toeneem, kan ons held dalk met die kronkelende R321 in Franschhoek se rigting ry om ’n bietjie asem te skep; perspektief op die saak te kry.

Óns het met ’n heelwat ligter gemoed met hierdie pad langs verder getoer om op uitnodiging van Cape Canopy Tours met glykabels oor die diep klowe van die Hottentots-Holland-natuurreservaat te gaan zirts!

Hoewel die lewe se raaisels en uitdagings nie altyd soos ’n roman s’n ’n netjiese ontknoping waarborg nie, kan ’n mens steeds van die drama ontsnap deur vir ’n rukkie in ’n mooi omgewing te gaan ontspan.

En daarvoor is Elgin ideaal.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM