Dis Novembermaand langs die Zambesirivier en presies so warm soos wat jy dink dit is. Dis nou as jy al langs die Zambesirivier gekuier het in Oktober of November - vóór die somer se eerste donderbuie kom, wat darem die aarde afkoel tussen die volgehoue fel aandag van die son.
Ek was oor die middaguur in Katima Mulilo om inkopies te doen (kopliggiebatterye, groen soetrissies, wortels, ietsie om te braai vanaand) by die Pick n Pay, waar 'n Kersboom om die een of ander rede by die uitgang waghou. Net langs die sekerheidswag wat jou strokie check.
Ek het ook by 'n drankwinkel ingedraf vir "hoesmedisyne" en ys. By die toonbank was 'n aangeklamde man met 'n (klaar oop) Tafel-langnek wat my een kyk gegee en geweet het ek is Afrikaans. Hy het oorgeslaan na Afrikaans om my te groet, en dit het my weer laat besef dat Afrikaans soms 'n mooier taal kan wees uit die mond van 'n tweede- of derdetaalspreker.
Ek het na die agterkant van die winkel gevlug waar 'n magdom Tafel-sespakke op mekaar gestapel was, met 'n meter hoë gekerfde houtmasker (van 'n mansgesig) wat tussen hulle uitloer soos iemand wat vasgepen is onder 'n stapel wasgoed. Toe is ek die koelkamer in, en toe ek daar instap, wéét ek: Dis die beste plek in die ganse Katima. Hier pla niemand jou nie, 'n disko-pers taxi stop nie skielik voor jou in die pad nie en dis koel. So koel dat jy net hier tussen die halfoopgemaakte kratte Bacardi's en Savannas wil uitstrek en op die naat van jou rug gaan lê.
Dít was vroeër - nou sit ek sowat 40 km oos van Katima by die Zambezi Mubala Lodge and Camp. Ek's by die "Camp"-deel daarvan, ingeboek in 'n netjiese selfsorgtent met alles daarin - van beddens en 'n yskas tot 'n waaier wat nou al 'n uur lank draai asof hy wil opstyg.
Ek vat slukke uit 'n lang kannetjie Tafel Radler - 'n nuwe lae-alkoholbier met 'n skeut suurlemoen. Dis verkwikkend. Of dit was - vir die dertig sekondes toe dit nog koud was. Ek dink ek moet dit tussen slukke in die yskas bêre.
‘Toe is ek die koelkamer in, en toe ek daar instap, wéét ek: Dis die beste plek in die ganse Katima. '
'n Piepklein boomeekhorinkie sit op sy merke sowat 7 m van my af. Doodstil, asof hy wag vir 'n afsetter se pistool om te klap. Dan skarrel hy skielik vervaard weg, en 'n tweede eekhorinkie sit hom agterna, gewikkel in een of ander onpeilbare dieretwis.
Die Zambesirivier is net 'n paar meter verder. Op 'n sandbank oorkant lê 'n krokodil wat lyk asof hy 'n Duster kan insluk. Gepraat van 'n Duster - dié staan voor my, en ek sien nou hoe die twee eekhorinkies in die onderstel inklouter. Hulle moet 'n bietjie inspekteer daar, want ek het vroeër vanoggend naby die Kwandorivier 'n stuk sandpad gery wat jy gewoonlik net op TV sien wanneer Giniel de Villiers met 'n spoed daardeur ry. Ek het dit net-net gemaak.
Ek het al vandag 'n slag geswem (in die swembad; ek en daai krokodil gaan niks in hierdie lewe deel nie), maar die water was goed verby kamertemperatuur. Die een ding wat goed is van sulke hitte is dat jy 'n slag weer kan kyk of al jou sweetkliere werk.
Deesdae - behalwe as jy heeldag pikswaai, of ná werk gaan draf of aan 'n kabel met gewigte trek by die Virgin Active - sweet ons nie meer genoeg nie. In November is die ganse Zambesi-riviervallei soos 'n sauna. Dis een gerief waarvoor jy nie hoef te betaal by die lodge waar jy tuisgaan nie.
Die belangrikste ding wat ek vandag in Katima gekoop het, was gom. Die Midas se Super Glue was uitverkoop, toe beveel die verkoopsdame (sy was eintlik die skoonmaker) aan dat ek Q-Bond koop. Dis in 'n klein botteltjie, soos oogdruppels. Ek het die man agter die toonbank gevra of hy weet hoe 'n mens die gom aanwend, want daar is geen aanwysings op die verpakking nie. Net 'n groot waarskuwing dat jy dit buite die bereik van kinders moet hou.
"Waarvoor wil jy dit gebruik?" wou hy eers weet.
Dis vir my plakkies, het ek verduidelik, die sool trek los. Die afgelope week se hitte en sand is besig om my plakkies soos 'n kaastoebroodjie te eet. Die sole is al só los dat ek gedurig oor my voete struikel wanneer ek uit my tent klim. Veral vroegoggend, wanneer ek nog nie my voete hoog genoeg optel nie.
"Die goed is baie sterk," sê hy. "Jy moet versigtig wees. Die oomblik wanneer jy die twee kante teen mekaar druk, dan sít dit. Jy het net één kans."
Nou toe, laat ons sien...
Hierdieartikel het oorspronklik in Julie 2019 verskyn. Feite en geite kon intussenverander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.





















