Wanneer ek uiteindelik in die spieël kyk, moet ek maar lag: Die muskiete het gisteraand my hele gesig met akupunktuur bespikkel. Dit lyk asof ek waterpokkies het. Dis nou ondanks die muggienet wat ek oor my kop getrek het toe ek gaan slaap het.
Ek het besluit om nie my tent op te slaan nie, want by Sossus Oasis, Sesriem, het elke staanplekkie 'n afdak waaronder jy sommer jou matras kan oopgooi.
Ek het my oorpluisies ingesit om kampgedruis uit te doof en daarmee saam ook die muskiete se gezoem. Ek pak my slaapgoed weg, haal die Cadac uit, sit koffiewater op. Dis al amper kwart oor sewe - hekoopmaaktyd indien jy wil inry na die Sossusvlei-deel van die Namib Naukluft- nasionale park.
Dis egter bewolk, en ek vermoed dat die eerste sonstrale eers later die rooiduine se wange gaan laat gloei; daarom is ek nie haastig nie.
Skielik is die ligvertoning in die ooste, waar die berge lê. 'n Fyn reëntjie sif uit 'n wolk, en die oranje-pienk-blou laat my na my kamera gryp. Daar hang selfs kortstondig 'n reënboog! Ek drink koffie, eet 'n appel en pak dan my laaste goed.
Wanneer ek my badkamersakkie optel, sit daar 'n knewel van 'n koringkriek. Dié staar my prehistories aan, wêrelde verwyder van woorde soos tandepasta en sjampoe.
By die hek gekom, is dit kwart voor agt en die tou karre lankal reeds in. Die Mahindra se bande sing op die teerpad, en vinnig trek dié pad my die duine binne. Na regs, 'n stukkie groen waarop gemsbokke wei.
Na links, in die verte, twee warmlugballonne wat sukkel om hoogte te kry. By Duin 45 stap 'n paar fikse figure klein op die kim rond, die duin self nog in die oggendwolke se skadu, maar 'n verdere, diepere duin vat vlam, en dan nog een.
Die son is aan't kom. Ek trek af waar die teerpad ophou, hurk vir 140 tellings by elke band, blaas af na 1,4 bar. Die laaste paar kilometer sandpad slalom tussen kameeldorings deur, en jy moet fyn ry sodat jy nie in 'n diep sandspoor vasval nie.
By die parkeerplek vir Dooievlei staan die voertuie ingeryg. Iemand is al op die piek van die Big Daddy-duin. Ek ry verby, en volg die pad vir nog 'n paar honderd meter tot waar Sossusvlei lê. Ek is nie vanoggend hier vir Dooievlei se poskaart-boomsilhoeëtte nie.
Nee, met 2021 se goeie somerreën wil ek Sossusvlei se laaste plas water sien. Tot my verbasing is hier geen ander karre by die piekniekplek nie.
Ek stop, klim uit. Die water lê 150 m verder. Dis windstil. Tussen hier en daar lê gestolde mensvoetspore in die modderdoppe.
Ek skink koffie uit die Stanley, haal 'n broodrolletjie uit. Dié het ek gister, saam met 'n rol wors, by die Engen op Sesriem gekoop. Nou maak ek 'n worsrol, sit kaas by wat ek nog by die Woermann Brock in Swakop gekoop het.
Na links sit 'n witreier, gelok deur die insekte op die soom van die buitengewone dam 70 km die Namibwoestyn in. Skielik vang 'n vinnige beweging my oog. 'n Edelvalk duik op die witreier af, en jaag hom. Die witreier vlieg op, en kom direk in my rigting.
Die oorlewingstryd speel homself rég voor my af. Ek sien die valk oor die frenetiese skouers van die reier. My kamera lê in die bakkie, ek het steeds koffie in een hand, worsrol in die ander.
Ek kyk: wanneer die reier vyf meter van my af is, swenk hy weg en land lomp in die kameeldoring agter my, en skarrel hoër op om tussen takke weg te kruip. Die valk skrik, draai weg - en blaas die aftog.
Ek vat 'n hap, en 'n sluk. Sjoe. Klaar geëet, pak ek my kameras in 'n rugsakkie en stap regs om die vlei.
Nou sien ek óral valke - duidelik lok die vlei voëls, en dié is die perfekte prooi vir valke soos daardie edelvalk. Boonop vorm die vlei 'n soort natuurlike lokval, 'n amfiteater waar die valke die toutjies trek. Later sit ek my rugsak neer in die skadu van 'n kameeldoring.
Ek het reeds my swembroek aan, en dis net vir skoene uitskop en hemp uittrek en dan is my kaal tone in die water. Die bodem is glad, en ek waggel soos 'n seekoei. Die water is perfek: koel.
Rondom my lê die woestyn stadig besig om warm te word. 'n Namakwaduifie vlieg oor my, twee sprinkane, 'n mossie of iets. Naaldekokers dans op die rimpels wat uitkring van waar my lyf die water roer.
Ek is gelukkig. Hierna gaan ek in Sesriemcanyon ook swem. Net omdat ek kan.






