Klik hier om dié storie in potgooi-vorm te luister.
Waar die gids die wildkykvoertuig van die C43 af op 'n skaars sigbare tweespoor stuur, is alles vaal. Ek merk hoe hars in lang trane uit die stam van 'n kanniedood sypel - asof selfs dié tawwe boom opgegee het. Hoe oorleef mense in dié uithoek van die Kaokoveld?
Ek, die fotograaf Sam Reinders en twee Duitsers is van Epupa af op pad na 'n Himba-kraal.
Die gids stel homself as Vincent voor. Hy's 'n Himba, met matriek en 'n diploma in toerisme. Die nomadiese Himbas se trekroetes word ál meer toegespan en hulle vee-troppe se weiding ingeperk, vertel hy.
Daarom is uitstappies soos dié na 'n living museum - soos hy sy grootword-kraal, noem - 'n welkome inkomste.
My hart pyn… Om van jou eie mense te moet praat asof hulle reeds deel van die verlede is.
By die kraal hardloop 'n paar mense om hulle plekke in te neem. Dis skynbaar 'n vertoning wat hulle elk dag lewer.
'n Paar seuns bring 'n koei nader sodat 'n vrou kan wys hoe gemelk word. Terwyl ons kyk hoe die wit straaltjies 'n emaljekommetjie toeskuim, kyk 'n paar kleuters vir ons. Die Duitse tannie klap na vlieë, haar man vra iets vir Vincent, en hy frons.
"Pasteurisieren?" probeer hy weer, en ek help met my flentertjies skool-Duits: Nee, hulle drink dit net so uit die Kuh. Die Frau se mondjie verfrommel.
Die vol kommetjie word eerste vir haar aangebied. "Nein, danke!" skerm sy. Die melker lyk afgehaal en ek besluit: Vandag is ek hier as 'n mede-Afrikaan. Want ek besef dat hierdie konsert-koei, wanneer dit vanaand die eintlike melktyd is, nie 'n druppel gaan gee nie. En dat die tros kindertjies deels uit nuuskierigheid, maar ook van die honger naderstaan.
Ek neem 'n diep teug van die warm melk en vra Vincent om vir die gasvrou te tolk hoe lekker dit proe. Daar spoel genadiglik weer 'n glimlag oor haar gesig, en ons wankelrige toertjie is terug op koers.
Op pad na die koelte van 'n mopanie word ons vermaan om nie naby die vuur wat buite die hoofman se hut brand, te kom nie. Daardie vlamme praat met Mukuru, die Skepper.
Die Duitsers grinnik, en my nekhare begin rys...
Onder die boom sit vroue mekaar met otjize - die Himbas se roesrooi mengsel van dierevet en fyngemaalde oker - en insmeer. Vir my, Sam en die tannie word bokvelle oopgeskud om op te sit.
Sy tree nader, maar bly staan dan met haar hande op haar knieë gestut - soos 'n royal wat by 'n kleindorpse fees iemand se kampioenpampoen kastig bewonder.
Met handgebare en gelag klets ons soos net 'n klomp vroue kan. Die swanger een langs wie ek sit, lyk selfbewus toe haar boepie 'n rooi merk teen my hemp skuur. Ek beduie dis niks, en grap via die gids dat sy my sommer van kop tot tone moet smeer.
Sy knik gretig en almal skater toe ons die felle kontras van ons voorarms teen mekaar meet. Terwyl ek okervlegsels kry, lê Vincent die verskillende haarstyle uit: Die kleintjies se koppies is kaalgeskeer, behalwe vir 'n klossie hare op die kroontjie.
Dogtertjies dra twee vlegsels oor die voorkop; wanneer hulle puberteit bereik, verander die styl in meer vlegseltjies na agter, tesame met 'n ekori - 'n hooftooisel van skaapvel. Getroude vroue se kapsel is deftiger: dikker vlegsels ingesmeer met otjize hang oor hulle skouers, en 'n meer ornate erembe vervang die ekori.
Dis hulle wat ook die pragtige kegelskulpe uit Angola om hulle nekke dra - die ohumba is 'n teken van vrugbaarheid. Vincent wink 'n man nader om sy haarstyl te wys: Bo sy ore is die vel kaalgeskeer, maar in die middel loop 'n netjies gevlegte rif met 'n wipstertjie.
'n Man het dié ondato-styl tot die dag dat hy trou, daarna dra hy twee vlegsels met 'n lapmussie bo-oor. Die man wys in my rigting terwyl hy vir Vincent iets sê en dié tolk: "Hy vra of jy sy vlegsel gesien het?" Ja-ja, knik ek, dis mooi gedoen, die mooiste van álmal s'n.
Hy glimlag tevrede.
‘Ek skrik toe 'n ou vrou 'n armband om my pols glip. Wat is dit - die Himbas se verloofring? En wie is sy - my aanstaande skoonma?'
Die Duitser het intussen op sy eie begin ronddwaal, natuurlik al verby die heilige vuur. Mense kom raas met Vincent, en hy skarrel weg om die Herr weer herwaarts te soebat. Dan lei hy ons almal by 'n hut in.
Binne ruik dit galsterig, soos ou vet. En ook soos 'n veldbrand. 'n Vrou sit langs 'n paar kooltjies waarop bossies smeul. 'n Himba-vrou was nooit nie, hervat Vincent weer sy les. Die tannie staak haar vlieëklappery om uit te roep: "Sie baden nie?!" en Vincent loer na my vir die vertaling.
Water is te kosbaar, verduidelik hy. Hierdie veldkruie se rook dien as parfuum. En die vroue smeer die okerpasta aan; dit hou hulle skoon.
Mooitjies op daardie oomblik skuif die vrou die mik van haar lyf tot teenaan die gloeiende kruie sodat die veldparfuum sy werk kan doen, en ek dog die tannie bars 'n aar.
Sy laat ons goed verstaan dat sy dink die Himbas is sehr unhygienisch. Dit terwyl daar net hier anderkant dan ein toller Fluss is. Waarom loop bad hulle nie in die Kunenerivier nie?!
Ek skaam my vir haar beledigings. Vincent prewel verbouereerd iets oor tradisie, maar die Duitsers buk reeds met sakdoeke voor die neus by die deurtjie uit.
Almal in die kraal kan sien die toer is in sy maai, maar daar's nou geleentheid vir foto's saam met die inwoners, kom dit hoopvol van ons gids. "Bestimmt nicht!" blaf die man.
En toe lei een ding so vinnig tot 'n volgende dat ek eers later, terug by Epupa, kon wonder wat my besiel het: Ek smyt my notaboekie en pen neer, pluk my hemp en bra net daar af en marsjeer terug na waar die vroue steeds onder die boom die relletjie sit en dophou.
Hulle vlieg joelend op en ons kloek saam sodat 'n foto geneem kan word.
Ek sien die twee Duitsers reeds pruilmond op die Land Cruiser sit, en die man met die parmantige vlegsel kom met my klere aangedraf. Toe hy voor my vassteek, is sy stemtoon dringend.
Ek haal my skouers op en hy roep dat Vincent moet kom help. En so, halfgeklee en skielik goed verleë, word ek via 'n tolk gevra om te trou.
Daar word vinnig verduidelik: Sy pa moet sy eerste bruid aanwys, maar die daaropvolgende vroue mag hy self kies. En hy weet ek is nie van hier nie, maar… hoe lyk dit?
Dit word stil onder die mopanie. Ek voel gevlei en selfs ook 'n bietjie verlief op die mooie man. Maar, stribbel ek teë terwyl ek vinnig aantrek, ek weet nie eens wie jy is nie!
Hy blaai my notaboekie oop en skryf in die groot, ronde letters van 'n enkele jaar op die skoolbanke: KUMUNDU.
Ons staar na mekaar en 'n Kaokoveldse weergawe van Dances with Wolves wil-wil in my verbeelding posvat.
Ek skrik toe 'n ou vrou 'n armband om my pols glip. Wat is dit - die Himbas se verloofring? En wie is sy - my aanstaande skoonma? Vincent is skielik haastig.
Ek en Kumundu stap aan weerskante van 'n taalkloof, maar styf teen mekaar agter hom aan, en ek voel terselfdertyd sielsbly én kranksinnig.
Ek was nog nooit weer in daardie uithoek van Namibië nie. Kumundu is sekerlik al 'n paar keer getroud en het al lankal van my vergeet.
Wie weet, dalk was hy maar net 'n charmer. Of dalk het hy gesmag na 'n lewe buite die living museum…
Elke keer as ek die armbandjie dra of weer op daardie notaboekie afkom en blaai na waar sy hand se okervlekkie steeds langs sy naam lê, vra ek Mukuru vir reën waar ook al Kumundu en sy bokke loop.
En dan dagdroom ek oor hoe anders my lewe in 'n Himba-kraal sou lyk. En hoe lekker ek aanstellerige toeriste sou ontstig.















