Reis

Rugbydrome sterf nooit: Twintig jaar later draf joernalis weer uit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ek sit tussen my spanmaats op 'n paviljoen in Tbilisi, Georgië, en kyk rugby. Ná twee verloorwedstryde in 'n toernooi het ons uitgeval en kou nou aan komplimentêre worsrolletjies.

Dit reën, maar ek voel dit skaars. Die saligheid van 'n oormaat endorfiene spoel nog deur my. Maar sodra my spiere begin koud word, sal ek ontdek dat my ribbes gekraak is - dis wat gebeur wanneer 'n mens voor 'n Georgiese missiel beland!

'n Dokter sal my dan inlig dat daar g'n salf aan gekraakte ribbes te smeer is nie; dit herstel mettertyd vanself. En vir die volgende twee maande sal my lyf van binne af met sy eie duikklopping besig wees terwyl elke lagbui my weer aan dáárdie laagvat herinner.

Maar dis orraait. Om die waarheid te sê: Ek wíl hierdie dag graag vir altyd onthou. Twintig jaar gelede is ek tydens 'n o.14-wedstryd op Somerset-Wes uit my skoolspan gehaal.

Op pad kantlyn toe kon ek uit die hoek van my oog sien hoe die Koreaanse uitruilstudent my posisie op die veld inneem, en in my binneste het 'n gevoel kom lê wat ek nog nooit tevore ervaar het nie.

Later jare sou ek - danksy die verrassings van die lewe se eie laatvatte - dié emosie as 'n gebroke hart herken. Maar op die prille ouderdom van 13 het ek gedink dié soort hartseer is net beskore vir ouens wat oor meisies kan gesels - iets waarteen my puisies my genadiglik beskerm het.

In daardie stadium het my rugbyloop-baan al die tekens van 'n onbeantwoorde liefde gedra: obsessies, waan, verbeelde scenario's, af en toe 'n vlaag nostalgie en 'n hunkering na 'n soort volvoering wat vrede in my gemoed sou bring.

Dié blinde liefde het in 1995 begin toe ek tien jaar oud was en Joel Stransky met daardie befaamde skepskop vir Suid-Afrika die wêreldkampioenskap beklink het. Rugby het vir 'n verwarde land 'n vreugde geskenk waarin almal kon deel, en vir my helde in groen-en-goud gegee en die vurige oortuiging dat ek ook een van hulle kan wees.

Selfs vandag nog sal ek, wanneer ek nie aan die slaap kan raak nie, my verbeel hoe my eie skepskop in stadige aksie deur die pale trek… Pure hoendervel!

Twee dekades nadat ek van rugbyspeler na rugbytoeskouer demote is, het ek Georgië toe getrek om in dié land as 'n fotojoernalis te werk. Hier ontmoet ek vir Dominik, 'n nuusredakteur van Pole, wat graag rugby wou speel.

Dominik kon Georgies praat, maar het nie rugby verstaan nie; Ek het nie Georgies verstaan nie, maar kon rugby praat. Met ons talente in een emmertjie het ons toe by die Chalybes-rugbyklub gaan aanklop.

Chalybes se oefenveld - sonder pale! - was die middelveld van die ou Tbilisi-renbaan. Dié lappie aarde was in die Sowjet-tydperk seker 'n sementblad, maar sedertdien het onkruid in elke krakie wortelgeskiet.

Die klub se hoofkwartier was onder 'n staning populierbome. G'n klubhuis, net 'n ooptetjie. Die eerste dag toe ek vir 'n oefensessie opdaag, het ek gesien hoe 'n ou sy army browns vir 'n oefenbroekie verruil en ek het besef: Hier gaan beslis nie raakrugby gespeel word nie!

Jy sien, Georgiese mans is eintlik perfek vir rugby speel. Hulle is grof en luid, en gebou soos die boef in 'n James Bond-fliek. Vir eeue reeds veg hierdie mense teen die Ottoman, die Pers, die Rus… teen hierdie tyd is dit al deel van hulle aard om te baklei.

Soos die afrigter, Vakho, ons rondjaag, word die skeenhoë grashalms tot stoppels vertrap. Aan die einde van die eerste oefensessie was ek moeg maar ongedeerd en opgewonde oor die volgende week. Ek het skielik soos iemand met 'n doel in die lewe gevoel en weer begin draf.

By die chaotiese Dezerter Bazaar - só genoem na die soldate wat in die 1920's uit die Rooi Leër gedros en hulle gewere op hierdie mark kom verkwansel het - het ek gaan kibbel oor pryse vir 'n trui en tokse.

Die Georgiese wedstrydplan is gebaseer op storm-vir-kontak-taktiek. Siende ek sedert my o.14-dae nie veel lyf gekry het nie, was my staatmaker-move 'n tikskoppie oor die verdedigers se koppe, waarna ek dan óm hulle sou hardloop om die bal te vang.

Dit het dalk indrukwekkend gelyk, maar was eintlik 'n poging om te vlug! Dit het Vakho egter genoeg oortuig om my as losskakel te laat speel. Ek was verheug, maar ook vreesbevange.

Die oefeninge het al hoe meer genuanseerd geword, en ons het agterlynbewegings bedink: Wanneer ek byvoorbeeld tevsi! (dit beteken "vis") tydens 'n skrum sou skree, het die vleuel aan die steelkant geweet om óm my te hardloop en by die res van die agterlyn aan te sluit.

Sodoende sou ons dan een man meer aan die oopkant hê as die ander span. 'n TV-nuuskanaal het ons eendag kom verfilm en die verslaggewer vra my toe waarom ek rugby speel.

Ek het iets kwytgeraak oor hoe rugby 'n "sport vir almal" is. En hoewel dit seker soos 'n cliché geklink het, glo ek dit.

Enigeen kan rugby speel - die oorgewig outjie, die graatjie, asook die 33-jarige wat dit vir die 13-jarige binne hom doen. Ons is genooi om in Batumi, 'n stad aan die Swartsee, te speel.

Ek en Dominik was vroeg reeds daar om skoppe te oefen met die skopbof wat ek uit 'n tweeliter-Coke-bottel prakseer het. Terwyl ons span staan en strek, vang my oog die kompetisie: Hulle is veel groter as ons. En ook: Hulle dra bypassende sokkies.

Coach Vakho lig my in dat ons beplande wedstrydplan nie meer geld nie. Die tevsi-ding gaan nie hier werk nie - wanneer ons nou die bal in ons halfgebied kry, moet ek kantlyn toe skop.

Toe ons kringetjie maak, vertaal Dominik Vakho se spanpraatjie so goed as wat hy kan: "Selfs al is hulle groot, gaan ons hulle steeds kan skrikmaak - hardloop net vinnig en reguit op hulle af!"

Ons verloor daardie dag ver. Om die waarheid te sê ons kon nie enige punte aanteken nie.

Maar niemand lyk te ontsteld terwyl ons ná afloop van die wedstryd in die parkeerterrein bier drink en puri (tradisionele Georgiese brood) eet nie.

Nog wedstryde het gevolg, en ons het aanhou verloor. Maar dis die oefensessies waarna ek steeds die meeste uitgesien het.

As fotojoernalis was my werkdae soms rof: protesaksies in die hoofstad, onluste in Armenië, konflik in Oekraïne… Die rugby het vir 'n mate van normaliteit in my lewe gesorg.

En dit het my ook 'n kykie in die Georgiese leefstyl gegee wat geen gidsboek of hipsterkroeg kon verskaf nie. Met gebroke Engels, basiese Georgies en gebaretaal het ek studente en pa's leer ken, manne in die politiek, manne sonder werk… de laaste een was uitgelewer aan die verwikkelinge in 'n spartelende land in 'n streek wat al hoe meer na 'n kruitvat begin lyk het.

Dis 'n reënerige oggend toe ons vir die eerste wedstryd van die toernooi uitdraf. 'n Man wat al sweerlik in sy veertigs is, plettervat vat my nadat ek reeds die bal uitgegee het.

"Hoe kan dié ou nog rugby speel?" mompel ek vies terwyl ek opstaan. Maar toe tref dit my: Hoe op dees aarde speel ék nog? Ons verloor daardie wedstryd weer teen 'n span met bypassende sokkies.

Maar in die tweede wedstryd druk ons jou waarlik 'n drie. Ek is veronderstel om dit te verdoel, maar ek vertrou nie die tuisgemaakte bof nie en gaan eerder vir 'n skepskop. Die bal seil rakelings oor die dwarslat. Ek kan my geluk nie glo nie!

Maar die ander span klop ons steeds. Daar word bladgeskud en ons hink van die veld af paviljoen toe waar 'n man vir elke speler 'n worsrol aangee.

Ek dink aan die feit dat dit my twintig jaar gevat het om twee punte aan te teken.

Ek besef toe dat dit die eerste keer is dat 'n verloor my nie ontstel het nie. Trouens, dit voel heel gepas in hierdie situasie, want amateurrugby vereis dat 'n mens sekere goed opgee.

Die spelers en afrigters offer hulle tyd op. Dit kos jou ook geld en - later in die lewe - die beweeglikheid van jou knieë om hiér te wees, in die modder saam met vriende.

Amateurrugby maak staat op improvisasie: 'n Stief stuk grond word jou oefenveld; Jy speel met enige toerusting en klere wat jy in die hande kan kry; En jou skopbof is sommer 'n afgesnyde Coke-bottel. Maar jy máák jy dit werk.

Ek is sekerlik een van miljoene mense wat daarvan droom om 'n beroepsatleet te word. Ons kan elke triomfantlike skop en pypkan duidelik voor ons geestesoog sien, maar weet niks van borgskappe se fynskrif, agente se kommissie of die rusbankbrigade se kommentaar nie.

Dit laat my wonder: Dalk is dié byna spontane rugby wat deur ouens soos ons gespeel word sport in sy suiwerste vorm?

Dalk is dit wat ons doen presies die soort spel waaroor beroepspelers fantaseer? Die woord "amateur" dateer glo uit 18de eeuse Frans en beteken "hy wat liefhet".

Dit verklaar miskien waarom dit heeltemal anders voel waar ek nou met my worsrol langs die kantlyn sit as toe ek 13 jaar oud was.

Toe ek destyds van die veld afgehaal is, het dit gevoel asof rugby met my uitgemaak het.

Maar hier in die reën, omring deur 'n taal wat ek nie kan praat nie, is daar in my gedagtes 'n soort geselsie aan die gang wat eertydse geliefdes hoop om op 'n dag te kan hê: Ek kan met myself praat oor hoe dit eens was én hoe dit nou is, en boonop 'n tevredenheid met die hede verkies bo 'n verlange na die verlede óf 'n hunkering na 'n verbeelde toekoms.

My spanmaats omhels mekaar en neem foto's. Ek probeer 'n hap worsrol afsluk, maar kry dit nie verby die knop in my keel nie.

Ian McNaught Davis