Reis

RUBRIEK: Ma se kombuis, waar geure herinneringe skep

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

My ma kan kool- en tamatiebredie kook soos niemand anders nie. En die resep vir die heel lekkerste melktert ken sy uit haar kop. Maar haar hart blóm wanneer sy hoenderkerrie vir haar mense maak.

Selfs die roti maak my ma self, want die winkel s'n proe soos karton en is bloot nie goed genoeg nie. Haar roti's is sagte deeglagies, wat rys en pof en smeek om gouer as later geëet te word.

In die groentebedding in ons agterplaas kweek my ma jalapeños, ook seldery. Aan my broer se kant van die tuin is tulsi ('n soort basiliekruid) en branderige pikantrissies.

Toe 'n mens tydens die Covid-19-pandemie meestal net vir die nodigste winkels toe kon gaan, het ons dié lappie aarde se oes ingespan om randrekker-aartappelkerrie te vervolmaak.

Altans, die res van my gesin het! Ek kan nie kook om my lewe te red nie. My kookvaardigheid strek sover soos 'n gekookte eier, pangebraaide Weense worsies en grondboontjiebottertoebroodjies.

My broer noem my disse "gekruide konkoksies" en beskou dit as eksperimente eerder as volwaardige geregte. Selfs my agtjarige susterskind weet ek kan nie kosmaak nie, verál nie soos sy ma, Lauren, nie.

Ja-nee, niks kan kers vashou by haar Hongkong-hoender nie: boudjies, dytjies en vlerkies wat sy doop in 'n marinade bestaande uit 'n geheime kombinasie van gouestroop, sojasous en varsgerasperde gemmer.

Die hoender is doeksag met 'n subtiele, rokerige geur. Ek het al baiekeer gewonder waar sy dit leer maak het.

En hoekom kan Lauren, my ma, my ouma en skynbaar ál die ander vroue in my familie kosmaak, maar nie ek nie? Veral my ouma aan vaderskant kan uit bittermin 'n wonderlike maaltyd optower.

In die ou dae moes mense vindingryk wees, want geld was skraps. Ek het lankal my lot aanvaar en oorleef meestal op kitskos.

Soos 'n bunny chow van The Meat Delhi, 'n gewilde plekkie in Beetlestoneweg in Gelvandale, Gqeberha. Die beste chip roll kry 'n mens by Shafiz Roadhouse in Bellweg, en Desais Shopmor, 'n supermark in Liebenbergweg, maak die lekkerste calamari.

Een van my vroegste herinneringe is 'n uitstappie saam met my ma na Lalla's. Dié speserywinkel bestaan steeds, en voer produkte van Indië in. Ek onthou nog goed hoe my ma se vingers al soekend oor die rakke vol speserye tas totdat sy die regte pakkie toorgoed raaksien wat geur en tekstuur aan haar disse sal gee.

Rajah-kerriepoeier is ook immer betrokke. Wanneer ek haar kleintyd in die kombuis gehelp het, was my vingers en klere gewoonlik geel gevlek van die borrie!

Die een spesery wat my dronkgeslaan het, was tamaryn. Daar het altyd 'n swart blok van dié pap, suur pulp in die yskas gestaan… vir wat? My ma sou dan net sê dis medisyne.

In ons huis is 'n Sondag nie 'n Sondag as die lug nie dik hang met die geur van masala en lourierblaar nie. Dís wanneer my ma hoenderkerrie kook en die proses fassineer my steeds: Die klank van die wasbak se krane wat loop, die geklater van kastrolle, die geure, my ma se meelbestrooide hande op die kombuistoonbank… alles beloftes van die heerlikheid wat kom. (Selfs al verbrand sy die lensies en kekerertjies onderin die pot!)

In die grendeltyd het my ma haar repertoire met Indiese dahl uitgebrei. Die resep kom uit 'n boek wat sy doeriejare by my broer se laerskool-boekverkoping aangeskaf het.

Dis goedkoop en maklik en ons strooi gewoonlik Aromat mildelik oor die aangebrande lensies en aartappels. Die skool waar my pa prinsipaal was, het gereeld as fondsinsameling 'n "Hot Night" gehou.

Vir dié geleentheid het die personeel se families verskillende kerries gekook en verkoop. Alles was rooi en olierig, en die rissies sou 'n mens se oë laat traan. Maar die saggekookte hoender wat van die been afval, het gemaak dat jy aanhou eet totdat jy naderhand jou vingers aflek.

Mense het tou gestaan vir my ma se hoenderkerrie… maar ook vir glasies Creme Soda en Coke om die vagevuur in hulle kele te blus! My suster se spesialiteit was botterboonkerrie.

Dis só 'n eenvoudige gereg dat selfs ek dit nie kan opfoeter nie. Al wat jy nodig het, is 'n blik botterbone, jou gunsteling-speserye en vars koljander.

Dis Sondag en my ma is in die kombuis besig om roti's uit te rol. Die warm pan staan reeds reg. Ons sit in afwagting, ons monde water. Dis nie lank nie, dan roep sy en sê ons kan maar kom aansit.

Toe ek by die kombuis instap, sien ek hoe my ma haar meelhande aan haar broek afvee. 'n Wit blom bly op elke bobeen agter en skielik loop my hart oor van liefde vir haar.

Ja, dis net 'n alledaagse gesinsete, maar in daardie oomblik besef ek opnuut hoeveel ons het om voor dankbaar te wees. Ons skep op en dan raak dit stil om die tafel, buiten die vrolike gekletter van mes en vurk wat vleis van bene afstroop en aartappels in happies sny.

Innerlike versterking - dís my ma se Sondag-spesialiteit. Dit put haar uit om te kook, maar sy sal nooit ophou nie… daarvoor is die beloning van haar mense tevrede sien, te groot.

Ná ete is my pa se hemp bespikkel met kerriekolletjies. My broer bêre sy bord met seconds in die mikrogolfoond.

Deesdae is my suster nie meer Sondae saam met ons nie, sy't drie jaar gelede Tsjeggië toe getrek.

Maar dis haar stoof wat nou in my ma se kombuis staan, en op 'n manier voel sy steeds net so naby soos die geur van masala wat heeldag nog deur die huis sal draal.

Abigail George