Toe my ouer suster, Gaynor, in Maart 2022 Suid-Korea toe trek om Engelsklasse te gee, het ek skielik 'n rede om oorsee te reis. Boonop stel sy toe voor dat ons daardie Kersfees by haar kom kuier.
Uiteindelik sou ek - 'n gebore Swartlander van Malmesbury - ook 'n wit Kersfees ervaar!
Maar eers moes die opwinding plek maak vir praktiese reëlings. Ek, my babasussie Mary-Beth en ons nefie Jarryd (my ouers het nie kans gesien vir die lang reis nie) het ure lank buite die departement van binnelandse sake se kantoor op Malmesbury tougestaan vir nuwe paspoorte.
Die proses het seepglad verloop, maar ongelukkig het die een wat die dokument saamstel, my bos krulhare uit die foto "geknip" om dit in die spasie te laat inpas - en toe lyk dit asof ek 'n halwe waatlemoen op my kop het, amper soos 'n jolige toeskouer by 'n Proteas-krieketwedstryd!
Ek moes ook 'n plan maak met winterklere. Almal wat weet, het my gewaarsku: Dis 'n ánderste soort koue daai. Ek gaan koop toe die greatest hits; van onderlae tot 'n pofferbaadjie, en ek is met 'n tas vol splinternuwe monderings oor die water.
Ons is op Oukersaand met Singapore Airlines weg uit Kaapstad. Die aankoms by Incheon- internasionale lughawe buite Seoul is iets wat ek nie gou sal vergeet nie - 'n mens voel byna reeds die koue aan wanneer jy die sneeu deur die vliegtuigvenster op die grond sien.
Ek is sonder verwagtinge Suid-Korea toe; ek is nie 'n K-Pop-fên of aanhanger van hulle TV-dramas wat die laaste paar jaar wêreldwyd gewild begin word het nie.
Ek het min geweet van Koreaanse kultuur, buiten die bietjies wat ek by Gaynor gehoor het. Daarom was als vir my heeltemal nuut. Ons drie het by Gaynor in Munsan tuisgegaan.
Sy het 'n woonstel in dié rustige dorpie; dis sowat 'n uur per trein rofweg noordoos van die woelige hoofstad, Seoul. Dit was skoolvakansie vir die Koreaanse kinders en dus was Gaynor nie by die werk nie en ons kon lekker saamkuier.
'n Eerste stop was die Gyeongbokgung-paleis in Seoul, wat uit die laat 14de eeu dateer. Dis treffend hoe dié stukkie geskiedenis uitstaan tussen die moderne wolkekrabbers van die hoofstad.
Van die ander besoekers aan die paleis het hanbok - tradisionele kleredrag - gedra, wat dit behoorlik laat voel asof jy in 'n tydmasjien geklim het. Met ons besoek het die kwik gereeld góéd onder vriespunt gedaal; 'n Swartlander ken mos nie sulke dinge nie!
Maar dit was wonderlik om 'n wit Kersfees te ervaar - ek sal nooit die geluid van die sneeu wat onder my skoensole knars, vergeet nie!
Maar pasop vir die seepgladde swart ys ónder die sneeu - ek het amper 'n stukkie grond in Korea gekoop...
Koreaanse kos is rede alleen om die land te besoek. Ek het gesmul aan die tradisionele gereg gimbap (sushirys met 'n verskeidenheid vulsels; dis 'n stapelvoedsel soos toebroodjies in Suid-Afrika is), bulgogi (dun skyfies vleis gebraai in 'n geurige marinade), japchae (glasnoedels geroerbraai met julienne-groente en vleis) en tteokbokki (dik rysnoedels in 'n sous met 'n lekker byt).
Vir 'n Suid-Afrikaner wat selde openbare vervoer gebruik, was Seoul se moltreinstelsel iets om te beleef - en van vertragings en kansellasies kan jy maar vergeet.
Omdat Suid-Korea al dekades lank in 'n koue oorlog met Noord-Korea gewikkel is, is daar geen sirenes of alarms nie, buiten noodvoertuie tydens regte noodgevalle.
Dit was vir my baie interessant: Alles van skoolklokke tot wasmasjiene en mikrogolfoonde speel 'n opgewekte deuntjie pleks van die piep-piep-piep wat ons almal ken.
Selfs op 'n stasie laat 'n liedjie jou weet die volgende trein is amper by die stasie, eerder as 'n sirene wat loei.
Dit was goed om my suster se lewe in die verre te sien, en ek het 'n waardering ontwikkel vir 'n nuwe kultuur. Maar tog het iets my teruggeroep Suid-Afrika toe; met al sy foute en probleme bly dit tog huis.
Daarom was ek bitterbly om twee weke later weer terug op Malmesbury te wees. Maar nés ek by die huis instap, word ek begroet met iets eg Suid-Afrikaans: beurtkrag!
Die lang, warm stort sal moet wag tot later...
(Naskrif: In Januarie 2025 het ons wéér gaan kuier, en hierdie keer is my ouers saam!)



















