Min of meer vyf jaar gelede het ek en my lewensmaat midde die Covid-19-inperking van Seepunt in Kaapstad na Vishoek verhuis. Die toekoms was duister en ek was moeg daarvan om in die stad soos Raponsie in 'n woonsteltoring vasgekeer te leef.
Met huispryse wat laer was verder suid op die Skiereiland, kon ons nie anders as om 'n huis (mét 'n tuin!) op te raap nie.
Kommetjieweg verdeel Vishoek in twee duidelike dele: die suidelike bergdeel genaamd Elsiespiek, waar die buurtstrate netjies uitgelê is; en die sentrale deel wat in 'n platterige vallei lê. Laasgenoemde se straatplan lyk uit die lug soos 'n spinnekopweb en dis hier waar ons huis geleë is, "vasgevang" in die web naby die Silwermynrivier aan die noordekant van Vishoek.
Vishoek was nog altyd bekend as 'n aftreedorpie, hoewel al hoe meer jonger mense deesdae van dwarsoor Suid-Afrika hierheen "semigreer". Nou is dit 'n hutspot van uiteenlopendheid: In Vishoek se strate het ek al die vriendelikste goth ooit ontmoet, maar ook vir Granny B, oorspronklik van Yorkshire in Engeland, wat soos 'n wafferse posvrou straatlangs die dag se "pos" (lees: skinder) onder verbygangers versprei.
Dan was daar Françoise, ons vorige Franse buurvrou oorkant die pad, wat onlangs ná drie dekades terug is na haar tuisland om by haar kinders te woon (beurtkrag en misdaad het ook 'n rol gespeel). In haar plek het 'n Johannesburgse gesin ingetrek wat só aantreklik is dat ek te geïntimideerd is om te gaan hallo sê.
Hulle is darem stil en g'n kompetisie vir my ander buurman langsaan wat naweek ná naweek heel hartseer op sy eie karaokeliedjies soos Aerosmith se "I Don't Want to Miss a Thing" sing nie...
In Vishoek het ek die see herontdek. Ek was van kindsbeen af lief vir die see, maar in Seepunt het dit so ver en vuil gevoel tussen al die woonstelblokke en besoedeling dat ek selde gaan swem het. In Vishoek kan ek wel nie die see van my huis af sien nie, maar ek hóór dit ten minste wanneer die sedoos waai.
Die Dalebrook-getypoel, net ses minute se ry weg, is my gunsteling-plek om die see te geniet. Dit het my lafenis teen wêreldangs geword: die stygende rentekoers, konstante kragonderbrekings, die knaende wêreldpolitiek...
Towertyd by Dalebrook is vroegoggend, nog voor sonop. Ek probeer om twee keer per week hier te kom swem, somer én winter. Soms dobber ek alleen en in stilte in die koue water; ander kere saam met vriende.
Dalebrook grens aan die treinspoor en soms rammel 'n trein vol vaak pendelaars verby op pad stad toe. Op die muur onder die treinspoor drom die vroegdagswemmers (en toeskouers) soos meeue saam.
Van hier word uitgekyk oor die see, of sommer net gesit en gesels, want vriendskap is wat die meeste mense hierheen bring. Neem byvoorbeeld die groep van sowat tien vroue wat hulleself die Salty Cracks noem. Die Salty Cracks se daaglikse onderdompeling gee hulle geestesgesondheid woema, verdiep hulle vriendskap en die gereelde oefening spreek ook sommer onderliggende gesondheidskwessies aan.
Daar is ook die ouer getroude paartjie wat, gewapen met 'n rietmandjie vol beskuit en 'n warmwaterfles, soggens die watertemperatuur kom meet (dit wissel tussen 11-18 °C). Hulle skryf dit met wit kryt teen 'n klein swartbord op die muur, en swem daarna hulle paar lengtes vir die dag.
'n Ander gereelde poelbesoeker is Oscar, 'n fotograaf oorspronklik van Guatamala, wat met sy wilde grys hare hier kom swem. Op sy dag, só het hy my al vertel, het hy legendes soos Nelson Mandela afgeneem. Instagram-influencers hou gereeld fotosessies op die poel se kwartmaanvormige wal - maar sit gewoonlik skaars 'n toon in die water!
Dis vreemd, want dis juis in die koue water waar Dalebrook se magiese krag lê. "The cure for anything is salt water: sweat, tears, or the sea." Só het Isak Dinesen (een van die Deense skrywer Karen Blixen se skuilname) geskryf, en ek stem saam.
Om in Dalebrook se koue water te swem het my gehelp om tuis te voel in Vishoek. Hier, tussen die ander faithfuls, voel dit asof ek behóórt.
Dít het Vishoek en haar seewater my gegee - die herinnering om teenwoordig te wees in die hier en nou, om weer diep asem te skep en van voor af verlief te raak op elke oomblik van die lewe
















