Reis

Jou anti-emmerskoplys: Ontdek 5 klein reisplesiere

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

"Nie elke vakansie hoef daaroor te gaan om nog 'n emmerlys-item af te merk nie. Soms moet ons die teenoorgestelde doen: dinge rustiger neem en die plesiere herontdek wat niks behalwe tyd kos nie," sê Shaun Lamont, besturende direkteur van First Group Hotels and Resorts.

Hy deel vyf klein luukshede waarvan hy hou wat dalk nie op enigiemand se emmerlys sal wees nie, maar miskien daar hoort:

1 Rustig by die kaggel

Die geluid van knetterende stompe, die knus gevoel van 'n warm kombers oor jou knieë, 'n stomende beker warmsjokolade en 'n goeie boek wat jy al lank wou lees. Die skuldvrye toestemming om vir 'n rukkie weg te dryf.

'n Bietjie uitspan by die kaggel is nie 'n ingewikkelde uitstappie nie - maar dis perfek.

2 Die eindelose ontbyt

Vergeet daarvan om na die volgende aktiwiteit te jaag. Kies 'n tafel by die venster of die swembad op en laat ontbyt oorspoel in laatontbyt of selfs middagete as jy wil.

Bestel nog 'n koffie. Lees die koerant. Geniet jou maat se geselskap. Stry oor niks. Daardie rustige oggende saam kan een van die hoogtepunte van die vakansie wees.

3 'n Lang, rustige stap

Geen rekordbrekende staptogte hier nie. Net ronddwaal. Die strand by dagbreek met kaal voete in die water.

'n Natuurroete in die skemer. Dwaal deur systrate en ontdek versteekte juwele - 'n klein boekwinkel, 'n straatmusikant, 'n plaaslike bakkery met die reuk van warm brood wat jou op die sypaadjie groet. Soms is die beste aandenkings dit wat jy nie kan pak nie.

4 Laatslaap en middagslapies

Vergeet die wekker. Laat die oggendson jou wakker maak - of bring 'n lui oggend in die bed deur … net omdat jy kan.

Jy kan natuurlik ook nie die plesier van 'n heerlike middagslapie vergeet nie - op 'n rusbank, in 'n hangmat onder 'n boom, op 'n sonstoel by die swembad - maak nie saak waar jy dut nie, 'n middagslapie op sy tyd is goud werd.

5 Sommer net niksdoen

Die lekkerste item wat nie op jou wenslysie is nie? Toestemming om net te wees. Dagdroom op 'n patio terwyl jy die wolke dophou. Luister na die natuur - voëlgesang, die wind wat deur bome suis of die branders wat op die strand breek.

Lê onder die naghemel en kyk die sterre. Dis die stil, ongehaaste tempo waar bekommernisse wegsmelt en jy onthou hoe dit voel om werklik te ontspan.

Desiree Hartney (saamgestel)