Reis

Die beste van albei wêrelde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Velddrif is ’n vissersdorp met verskeie juwele om te ontdek.                          Foto’s: BERGRIVIER TOERISME
Velddrif is ’n vissersdorp met verskeie juwele om te ontdek. Foto’s: BERGRIVIER TOERISME

Bergrivier bestaan nie net uit verskeie asemrowende trekpleisters nie, maar die blomme pronk behoorlik tydens blomtyd!

Gewoonlik moet jy 'n keuse maak tussen die see of die binneland, maar Bergrivier bied die volmaakte balans, van Velddrif, die bokkomparadys, tot Piketberg met sy fynbos en prentjiemooi berge, en 'n klipgooi verder Porterville met sy ryk geskiedenis!

Dié spesifieke dorpe is veral tydens blomtyd in kleur getooi en 'n moet-sien in Augustus en September wanneer die asembenemende landskap besoekers in groot getalle lok. Maak dus seker jy gaan draai by Velddrif, Aurora, Piketberg en Porterville om te ontdek wat alles in die Berg­rivier-distrik opgesluit lê.

'n Pluspunt is dat hulle so gerieflik naby Kaapstad geleë is. Nie net bied hierdie dorpe hope aktiwiteite nie, maar ook van die mooiste ongerepte natuurreservate, vleilande en strandmere om te besigtig.

'n Daguitstappie sal nie genoeg wees om die omgewing behoorlik te verken nie, maar daarvoor is daar oorgenoeg verblyf in hierdie dorpe beskikbaar.

Velddrif

Die bekende Bokkomlaan in Velddrif is een van die moet-sien-plekke om te besoek aan die Weskus.
Die bekende Bokkomlaan in Velddrif is een van die moet-sien-plekke om te besoek aan die Weskus.

Velddrif lê op die oewer van die Bergrivier, 'n paar kilometer vanwaar die rivier in St. Helenabaai die oseaan binnevloei.

Besoekers kan uitsien na 'n oorvloed blomme in die ongewing om hulself in te verlustig terwyl die verwelkomende leefstyl van dié kusdorp ingeneem word. Jy kan nie uit Velddrif ry as jy nog nie die beroemde Bokkomlaan besoek het nie! Omring deur die Groot-Bergrivier, is die besienswaardighede wat historiese geboue en die hawehoof insluit, langs hierdie oulike grondpad ingeryg. Benewens die blombelaaide natuurskoon, kan besoekers ook verwag om 'n groot verskeidenheid voëllewe in die Bergriviermonding te sien. Dit is met reg aangewys as een van die belangrikste voëlkykgebiede ter wêreld. Dit is ook 'n Ramsar-terrein.

Op Saterdag 6 Augustus is daar verskeie geleenthede op Velddrif, onder meer 'n blomwerksessie en uitstalling by die SA Fisheries-museum, asook 'n pretblom-wedloop op die Kruispad-plaas, met 'n 5 km- en 10 km-roete om van te kies. Daar gaan selfs 'n kostuumkompetisie wees met 'n prys vir die beste blomtema-kostuum.

Span 'n bietjie uit en geniet die Weskus-prag teen 'n stadiger pas tydens 'n 90 minuut-trekkerrit deur die inheemse fynbos op 'n plaas wat spog met 'n yslike verskeidenheid blomme.

Aurora

Noord van Velddrif verder die binneland in met 'n plattelandse langpad lê die prentjiemooi Aurora.

Hierdie dorpie gee aan besoekers die geleentheid om deel te word van 'n blommetapyt teen die agtergrond van 'n dramatiese berglandskap, pragtige argitektuur, ongelooflike naghemele en 'n wye verskeidenheid voëllewe. Lê ook besoek af by die historiese NG Kerk en ry 'n draai na die privaat reservaat Daniëlshoogte vir skouspelagtige uitsigte vanaf die berg oor die vallei. Op helder dae kan selfs Tafelberg en St. Helenabaai gesien word. Op 10 September kan blomme-entoesiaste deelneem aan 'n begeleide blomstap by Daniëlshoogte-natuurreservaat deur diebergfynbos en rotsformasies. Die Koekeloer@Koffiemoer-koffiewinkel in Aurora word hoogs aanbeveel vir honger reisigers en op 9 Augustus kan besoekers uitsien na 'n blomgeïnspireerde teemaaltyd.

Die berglandskap van Aurora bied 'n pragtige agtergrond vir sy ander besienswaardighede.
Die berglandskap van Aurora bied 'n pragtige agtergrond vir sy ander besienswaardighede.

Piketberg

Sowat 50 km vanaf Aurora is Piketberg geleë aan die voet van die Piketberg-bergreeks en omring deur 'n tapisserie van koringlande, wingerde, vrugteplase en inheemse fynbos wat in die lente pragtige blomme dra.

Die beste manier om die erfenis van hierdie dorp, met sy noukeurig gerestoureerde kothuise en die skouspelagtige neo-gotiese NG Kerk te ervaar, is deur die Piketberg- Historiese Roete te doen - 'n toer wat besoekers na die kommersiële hotel, ou baljukantoor, oorspronklike polisiestasie, destydse bioskoop, en die Piketberg-museum neem. In totaal het dié roete 12 punte van belangstelling en jy kan daarheen stap of ry. Om die lenteblomseisoen te vier, word die historiese toer deur 'n toergids aangebied van 22 tot 26 Augustus. Die kerk sal oop wees vir besigtiging en 'n blommerangskikkingsgeleentheid vind op 26 Augustus plaas.

Terwyl jy in Piketberg is, moenie vergeet van Last Friday nie - 'n kos- en kunstefees wat op die laaste Vrydag van elke maand plaasvind. Dit is 'n viering van kuns en kultuur met musiek, kos en drankies. Op Saterdag 27 Augustus kan jy ook 'n rit op die berg doen na Piket-Bo-Berg.

Asem Porterville se vars lug in terwyl jy die mooiste blomme soek.
Asem Porterville se vars lug in terwyl jy die mooiste blomme soek. (SYSTEM)

Porterville

Laaste, maar beslis nie die minste nie op die lys van hoogs aanbevole dorpe, is Porterville. Dit is 'n ouwêreldse dorp geleë teen die hange van die Olifantsrivierberge in die Groot-Winterhoek-wildernisomgewing, slegs 150 km vanaf Kaapstad.

Bekend as die tuiste van die skaars Disa Uniflora-blom, is dié dorp nou vinnig besig om naam te maak vir homself onder kuns- en kosfynproewers.

Van die beste punte vir blombesigtiging is op die berg bo Porterville by Beaverlac, Pampoenfontein and Berghoff. 'n Besoek aan die Groot Winterhoek-wildernisomgewing is 'n moet indien jy die ongerepte natuurskoon wil indrink terwyl jy in die berg bo Porterville is. Jenewer-liefhebbers kan ook 'n jenewer-proe geniet. Dit word saam met smaaklike tapas aangebied by die Gismith-boetiek-distilleerdery. Porterville is die tuiste van 'n groot gemeenskap kunstenaars, so daar is oorgenoeg vir kunsliefhebbers om te besigtig nadat hulle die ongelooflike omgewing met sy pragtige lenteblomme ingeneem het. Daar is heelwat kunstenaars wat hul ateljees se deure wyd oopgooi vir toeriste en 'n wye reeks kuns van pottebakkerswerk tot skilderye en juwele kan gekoop word.

Op 14 Augustus sal die dorp se maandelikse mark op die skougronde plaasvind. Die Porterville-gemeenskapsmark is iets waarna besoekers altyd uitsien, want daar is van die interessantste handgemaakte ware tot smullekker geregte en hope plattelandse gasvryheid.

Op 26 en 27 Augustus word die Porterville-jeugekspo gehou.

Volgens Nomonde Ndlangisa, uitvoerende hoof van Bergrivier-toerisme, is dit maar net 'n paar van die plekke om te besoek gedurende die pragtige blommeseisoen en dwarsdeur die jaar.

"Al die dorpe binne die Bergrivier-streek beloof 'n fantastiese ontvlugting vir die hele gesin te wees, en die blomme is beslis iets om saam te ervaar."

Kry dus jou toerlysie gereed en besoek ook www.bergriviertourism.co.za vir meer inligting oor besienswaardighede en verblyf.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM