Wendy Lombard en 'n paar vriendinne het verlede jaar op 11 en 12 Augustus gaan blomme kyk in die Biedouwvallei.
"Ons het die vorige nag in Clanwilliam oorgeslaap," vertel sy.
Met hul besoek was die blousporrie (Heliophila Africana) in volle blom.
"Saam met my was Carolina Erasmus, Bets Odendaal en Agnes Heinrich, almal, soos ek, van die Fairtrees-aftreeoord in Durbanville. Ons is vergesel deur Alicia Erasmus van Clanwilliam se veldblomvereniging. Ons het oor die Pakhuispas gery en 'n dag in die Biedouwvallei deurgebring. Laatmiddag het ons verder gery om in Vanrhynsdorp te oornag. Die volgende dag is ons via Vredendal en Clanwilliam terug na Durbanville."

Wendy meen die heel mooiste blomme was in die Biedouwvallei, waar hulle plate en plate blousporrie gesien het. "Daar was ook 'n hele wonderbaarlike verskeidenheid ander blommetjies. Alicia het almal se name geken en ons kon ons heerlik daarin verlustig."
Op die koop toe kon hulle in Trawal die "beste blerrie biltong" aankoop om huis toe te neem.
"Dit was 'n heerlike uitstappie. Kort tevore het Carolina Erasmus 90 geword. Bets Odendaal en Agnes Heinrich is 80, en ek is 76 - die baba in die groepie," skerts sy.





















